Waar was God toe alles afbrand?

June 16, 2017 — 25 Comments

Knysna vuurDie vuur in Knysna het ‘n blik wurms oopgemaak. Een van my vriende het gehelp om die brande te bestry. Wanneer ek vir sy veiligheid gebid het, het ek my betrap dat ek met die Here “raas”. Hoekom laat die Here nie net ‘n bui reën oor die gebied uitsak nie? Dit is mos nou reënseisoen! En as Hy nie dít wil doen nie, hoekom laat Hy nie ten minste net die wind ophou waai nie? Dit alleen sou al baie help…

‘n Ander vriend van my was in dieselfde tyd intens bekommerd oor hul dogtertjie se gesondheid. Ek het ook baie vir háár gebid, maar Down sindroom is nie iets wat oornag verander nie. Dit is hier om te bly…

Hierdie week wat kom, begrawe ek ‘n pragtige tienerseun wat van leukemia gesterf het. Die laaste keer wat ek saam met hóm gebid het, was hy moedig dat hy die stryd gaan wen. En toe kry hy ‘n virus drie weke voor die einde van sy behandeling…

Afgehaal en teleurgesteld – ja, selfs ontnugterd – sit ek hierdie week een oggend en staar voor my uit nadat ek vir die soveelste keer probeer bid het. Ek dink dit is veilig om te sê dat gebed teen hierdie tyd net ‘n frank smaak in my mond los…

Maar toe onthou ek iets wat Walter Brueggemann geskryf het. Hierdie wêreldbekende Ou Testamentikus onderskei in sy kommentaar op die Psalms, tussen drie verskillende kategorieë van Psalms.

Psalms wat oriënteer

Volgens Brueggemann is “Psalms wat oriënteer” díe soort Psalms wat ‘n duidelike oorsaak-gevolg lyn van logika volg. Dit is Psalms wat daarop aanspraak maak dat die lewe eenvoudig is: “Die gelowige sal soos ‘n boom wees wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en wie se blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak…

Hierdie Psalms glo aan die mooi van die lewe. Dit glo boosheid word altyd gestraf en die goeie word altyd beloon. Dit lewer selfversekerde uitsprake oor God se betroubaarheid.

Ons het hierdie soort Psalms baie nodig, want dit plaas ons voete op ‘n lewenspad waar ons leer dat ons die Here kan vertrou. Maar hierdie soort Psalms kan ook baie oorvereenvoudig oorkom vir mense wie se lewens nie die heeltyd in ‘n toestand van volmaakte ekwilibrium is nie.

Psalms vir tye van disoriëntasie

Vir mense wie se lewe nie altyd in ewewig is nie, is daar gelukkig “Psalms van disoriëntasie”. Dit is Psalms vir die tye in die lewe wat alles nie altyd sin maak nie. Dikwels is dit Psalms wat ‘n sterk ondertoon van woede bevat. Dit is al daardie Psalms wat teenoor die Here uitskree: “Hoe lank nóg voor U antwoord?” of “Waarom het U, U van my onttrek?”

Dit is Psalms wat nie probeer voorgee dat die lewe eenvoudig is of dat daar maklike reglynige eenduidige antwoorde is nie. Dit is Psalms wat jou ruimte gee om vrae te vra en te twyfel. Dit is Psalms wat jou toelaat om te worstel en om ongelukkig te wees.

Waar was God toe alles afbrand?

Ek wil jou regtig afraai om God van brandstigting te beskuldig. Ja, daar is ‘n handjievol Christene wat sê dat die vuur God se straf is. Maar daardie argument hou nie mooi rekening met die feit dat Jesus ons straf op die kruis kom dra het nie. Per implikasie sê die argument dat Jesus nie heeltemal geslaag het nie, en dat daar nóg straf uitstaande is – en dít sal ons moet dra.

Die Johnson gesin het tragies in die brande beswyk.

Die Johnson gesin het tragies in die brande beswyk.

Natuurlik is dit so dat die Here vandag nog ons dissiplineer en tug, maar dít doen Hy mos primêr deur sy Woord. Nie deur jong gesinne – soos die Johnson’s – te laat doodbrand nie. Asseblief, hou op om dit te sê. Dit is nie hoe Jesus is nie.

Jesus se kruis is die toppunt van God se selfopenbaring. Hier kom leer Hy ons hoe Hy is: vol liefde, genade en vergifnis. Hy is ‘n God wat saam met lydendes, ly. Hy vereenselwig Hom met mense wat swaakry.

Maar ek gee toe – daardie wete antwoord nie die vraag waarom God die brande nie vinniger gestop het nie. Heng, ek weet nie hoekom het die Here nie net ‘n reënbui in plaas van ‘n stormwind laat uitsak nie. Ek voel ook gedisoriënteerd…

Dankbaar vir die woede

Die belangrikste ding wat die Psalms my opnuut aan herinner, is dat mens gelowig met die Here kan worstel.

Was dit nie vir híerdie Psalms van disoriëntasie nie, het ek dalk ook gevoel dat ek op die Here moet “opgee”. Vandag is daar mos baie mense wat na ‘n teleurstelling hulle hande in die lug gooi en sê: “Gebed werk nie!” of “God bestaan nie!”.

Maar die Psalmdigters het nooit gevoel dat dit nodig is om van God af weg te loop as die lewe nie sin maak nie. Wanneer hulle met die een hand met God baklei het, het hulle met die ander hand aan die Here vasgehou.

En dit is miskien die grootste ding wat ek in hierdie tyd weer leer: Mens kan gelowig worstel.

Psalms van heroriëntasie

Volgens Brueggemann is daar nog ‘n derde kategorie. Dit is naamlik die “Psalms van heroriëntasie”. Dikwels is dit die Psalms waar die digter aan die begin pleit en aan die einde prys. Mens kry baie keer die gevoel dat daar ‘n onvoorsiene uitkoms gekom het. Die antwoord op gebed was selfs vir die digter ‘n verrassing. Die verbasing en nuwe verwondering oor die Here, “heroriënteer” die digter en rig hom op ‘n verdiepte pad van vertroue in die Here.

Mens lees hierdie Psalms maklik in 30 sekondes of minder. Maar mens moet altyd onthou dat dit langer geneem het om dit te leef. Dalk het dit maande of selfs jare geneem om deur te worstel tot op ‘n punt wat die digter weer sy vertroue in die Here kon uitspreek.

Jý sou ook net by daardie punt kon kom, as jy nie die “Psalms van disoriëntasie” oorgeslaan het of dalk selfs heeltemal van die Here af weggestap het nie…

Die kort en die lank

Geestelike diepte is wanneer jy méér vrae as antwoorde het – en stééds glo

Ons almal begeer dat die lewe meer eenvoudig was. Ons is deeglik daarvan bewus dat dit nie altyd so reglynig loop nie. Terugslae hoef egter nie van ons ongelowiges te maak nie. Deel van die verdiepingsproses is om te leer hoe om met meer vrae as antwoorde saam te leef – en stééds te glo. Gelukkig hoef ons nie die rug op die Here te keer wanneer ons vrae het nie! Ons kan gelowig worstel.

King-David-the-Psalmist-610x351

‘n Uitbeelding van koning Dawid, die Psalmdigter.

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

25 responses to Waar was God toe alles afbrand?

  1. Dankie Nati vir jou eerlike en diep besinning hieroor. Dit herinner my weer aan die omvattendheid van Bybelse belewenis. Ons is nie die eerste mense wat hierdie moelike vrae vra nie. Dis nie bloot ‘n resultaat van die moderne (wetenskaplike) era waar ons nou vir die eerste keer “denkende” vrae vra nie. Ander mense (gelowiges) het dit al lank voor ons gevra, en steeds rede gevind om aan God vas te hou!

  2. Freddie Steenkamp June 16, 2017 at 9:44 am

    Uitstekend opgesom Nati!
    Waardering vir jou

  3. Hi Nati. Het jy Ivo Vegter se stuk gelees? Het my nogal laat dink/ontstel….

    • Hi Nati, dankie hiervoor. Ek het ook Ivo Vegter se stuk gelees en dit het my ook bietjie omgekrap. Hy maak ‘n paar goeie punte (soos dat Christene nie WhatsApp groepe wat gestig is om noodmaatreels te tref moet “verstop” met Christelike boodskappe nie), maar dit maak my vies as hy sê dat rasionele besprekings oor geloof onmoontlik is. En die eeue-oue teodisee vraagstuk is vir my minder van ‘n logiese probleem as wat dit ‘n knaende vraag is wanneer ek probeer bid. Hoe weet ek Hy gaan my verhoor as Hy dan soveel slegte dinge toelaat? Die Psalms het vir my al meer troos gebied as enigiets anders, en die drie kategorieë wat jy hier verduidelik het is vir my kosbaar.

      • Hi Marianne. Lekker om van jou te hoor. Ja, jy som Ivo se stuk goed op. En jy is seker reg: die lydingvraagstuk is ‘n emosionele wroeging waarvoor ons ‘n kognitiewe oplossing soek. En dit is nie noodwendig die beste medisyne nie. Waarskynlik is dit juis hoekom die Psalms vir mense soveel beteken. Dit sleur ons mee omdat dit ons emosies verwoord… sterkte by julle en groete by die huis.

    • Hi Judith. Ja! Ek het dit gelees. Ek het ook lank na die tyd met dit gestoei. Hy sê ‘n klomp dinge wat baie sin maak vir my – maar dan sê hy ook dinge waarmee ek nie saamstem nie en kom hy op ‘n slotsom uit waar ek nie uitkom nie. Ek het sy artikel egter baie waardevol gevind om te sien hoe agnostici of ateïste besin oor die saak. Ek kom agter ons benader die vraagstukke beslis uit verskillende hoeke met verskillende vertrekpunte. En húlle sit beslis ook met ‘n groot klomp aannames oor wat ons alles glo – wat nie noodwendig waar is nie.

  4. Thanks Nati! Jissie dit is nie altyd die maklike pad om te worstel nie; maar dit is die goeie pad.

  5. Dankie Nati! Dis inderdaad so dat baie mense voor ons ook oor moeilike vrae gedink en geskryf het. Ons kan nie vir God los omdat ons klein verstandiges Hom nie ooit kan vaspen nie. Hy bly Jahweh, die onvergelykbare God. Groetnis. Stephen Heyns.

  6. verstandiges!

  7. Daan Van der Merwe June 16, 2017 at 4:50 pm

    Waarom laat ‘n almagtige en liefdevolle God toe dat natuurrampe jaarliks die lewens van derduisende mense eis?

    Ek het geen opleiding in teologie nie, en is daarom dank verskuldig aan eerlike leiers van die Christelike kerke wie toegee dat dit waarskynlik die moeilikste vraag vir die kerk is om te beantwoord..

    • Daan, jou woorde laat my besef dat ekself ook meer moet doen om mense se vrae oor God te verwoord en te bespreek. Ekself worstel immers met dieselfde dinge. Dankie vir jou kommentaar en sterkte vir jou eie geloofsreis.

  8. Lorraine Steyn June 16, 2017 at 8:59 pm

    Dankie Nati. Dit help baie om hierdie nugtere artikel te lees. Ek het self hierdie week geworstel met alles wat om ons aangaan – op ‘n staduim selfs siek gevoel daaroor. Dankie ook vir jou bemoediging. Ps 30 was nog altyd vir my so mooi voorbeeld van herorientasie.

    • Dankie vir jou boodskap Lorraine. Ja, dit is amper onvermeidelik om oor hierdie dinge te wonder die afgelope week, né? Sterkte ook met jul eie uitdagings. Ons gemeenskap waardeer julle gesin baie.

  9. Francois Smit June 17, 2017 at 7:40 am

    Dis soos die Joodse wysgere wat daarvan hou om mense van God te leer met “On the one hand… But on the other hand…” Die doel is om teenstrydige, maar elkeen geldige, uitkyke op God en sy uitwerking op die lewe te probeer balanseer. Dit bied ook maar ‘n vereenvoudiging op die werklikheid wat frustrerend meer kompleks is as wat lekker of verstaanbaar is. Maar dié Joodse benadering help my om te weet twyfels en teleurstellings in die Here is deel van die pakket om Hom werklik te soek, om aan te hou om aan Hom vas te hou midde-in die verwoestende vure wat om en soms binne my brand. En ook om dan te weet dat om dan van Hom weg te draai nie die versugting na vereenvoudiging kan bevredig nie en geen goeie antwoorde gaan bied nie.

    • Dankie Francois. Jou opmerking oor gelyktydige waarhede laat my nou dink aan Fowler se boek: “Stages Of Faith”. Volgens hom bereik “volwasse geloof” ‘n plek waar die persoon leer leef met teenstrydighede en hoe om dit te harmoniseer. Richard Röhr skryf ook baie oor geloof en dualismes.

  10. Viljoen de Kock June 17, 2017 at 8:25 am

    God kan nie n vredeliewede God wees as hy n 4 jarige dogtertjie aan kanker laat sterf nie. Hy is dan nie n almagtige God nie. Nie n God van Liefde. Ie. En nie n God wat wil help nie. En moet asb tog net nie vir my se dit staan in die Bybel nie.

    • Viljoen, dit klink of jy deur diep waters is. As die dogtertjie waarna jy verwys iemand in jou eie lewe is, wil ek net eers sê dat ek ontsettend jammer is oor jou verlies. Ek kan my nie indink hoe dit moet wees om deur so iets te leef nie. Wat jy oor die Bybel sê is waar. Ek het sélf ook ‘n pyn met geykte tradisionele antwoorde wat eintlik geen antwoord bied nie. Persoonlik hou ek vas aan God se liefde én sy almag. Ek speel in my kop met ‘n moontlike scenario waar God beide is, maar tog ingeperk is in sy uitlewing daarvan. Dit kan nog teoreties/filosoefies raak as mens dit moet verduidelik – en veral as ons praat oor die voorbeeld waar kinders sterf. So ek wil op geen manier daardie trauma probeer minimaliseer nie. Sterkte met jou eie besinningsreis.

  11. Die antwoord is eenvoudig. God antwoord nie gebede nie, want hy luister nie in die eerste plek nie. Daar is heel waarskynlik nie n god nie.

    • Hi Jakes. Dankie dat jy vrymoedigheid neem om kommentaar te lewer. Ek beleef jou opmerking glad nie negatief nie – ek het immers self ook al baie daardie gedagte gedink. Ek kan dus heeltemal verstaan waarom jy tot so ‘n gevolgtrekking kom. Op die oomblik dink ek definitief anders as jy, maar ek gee jou gelyk dat gebeurtenisse soos hierdie dit maklik laat lyk asof daar nie ‘n God is wat luister nie. Hou seblief aan metwonder saam met my – en kom ons altwee bly oop vir groei. Strongs vir eie reis.

  12. Hi Nati. Goed dat iemand oor dit skryf, en dis tog ‘n vraag wat opkom in meer as net die Knysna brande konteks. Ek kyk na die storie van Job en ek het gevind dat daar ook tog nooit aan Job verduidelik was waarom hy gegaan het deur wat hy het nie. Tog vind ek dat God restoreer en defnitief ‘n God van geregtigheid is. Soos die woord stel “lean not on your own understanding”. Ons kan maar net onverskrokke vashou aan die Woord en nie toelaat dat storms ons geloof kom wankelrig maak nie.

    Groete
    Brakpan slang

  13. Nati, ek wil jou van harte komplimenteer met jou ondersteunende antwoorde aan mense, gelowig of nie-gelowig! Dit is hoe ek glo ‘n Christen behoort te wees. Sterkte met jou mooi werk. Ek wil graag meld dat ek, na sestig+ jare van worstel saam met God, ‘n ruimte inbeweeg het waar ek vrede vind sonder kerk- en sinodestryde, sonder pogings om apologeties of vernuwend teenoor mekaar af te speel en met wat van my verskil as fundamentalisties of liberaal te etiketteer. Ek werk nou eerder met werklikheidsomstandighede so goed ek moontlik kan en gee hulp of kry hulp vir hulle wat dit nodig het. Die lewe self is vir my heiliger as om gedurig te worstel en daarom respekteer ek elke mens en ons omgewing. Ek stap die pad nie alleen nie; daar is verrassend baie mense soos ek wat die lewe van geloof verlaat het en ‘n lewe van vrye toewyding gevind het, dit verryk met die beste en nuutste bewese navorsing en daarmee (wil) waarde toevoeg tot ander se lewens. Ek wil niemand meer verander of oortuig nie, want ons het elkeen ons eiesoortige lewenservarings, insigte en oortuigings en elkeen leef met die oortuigings wat vir ons vrede bring. Mooiste wense vir jou en jou gesin en die werk wat julle doen.

Leave a Reply