Christus Victor IV (Kritiese evaluering van die “Christus Victor”-hipotese)

August 28, 2013 — Leave a comment

Omdat ons nou al deeglik ingegrawe is in die agtergrond en inhoud van die “Christus Victor”-hipotese, mag ons nou ‘n treë verder gaan en dit evalueer. Hou dit water? In die volgende inskrywing sal ek graag wil noem watter bydrae ek dink die Christus Victor teologie maak. Maar in hierdie inskrywing kan ons kyk na die tekortkominge.

Nie al die besware weeg vir my ewe swaar nie. Daarom verdeel ek die punte van kritiek tussen besware van ander en my persoonlike besware met die hipotese.

A          Besware van ander:

Wanneer ons na die besware van ander rolspelers kyk, kan ons hoofsaaklik 6 punte van kritiek merk:

  1. Onbillik teenoor die Latynse perspektief

Sedert die sewentiende eeu is daar verskeie stemme wat Protestantse ortodoksie kritiseer. Een van die leringe wat die meeste bevraagteken word, is Anselmus se teorie van bevrediging. Dikwels word daar karikature daarvan geskets, soos om te sê dat Anselmus ‘n soort kosmiese kindermishandelaar gepropageer het: ‘n Vader wat sy seun straf oor iemand anders se foute! Ander wanvoorstellings van die argument is dat daar by die Vader ‘n verandering van gesindheid jeens ons plaasgevind het, die oomblik toe sy seun sterf – die soort versteurde emosies wat hoort by ‘n kranksinnige. Al hierdie foutiewe indrukke van die teorie van bevrediging, het protestante byna “oorgevoelig” gemaak. Die oomblik wanneer iemand (soos Aulén) kritiek op die teorie van bevrediging uitspreek, sluit Protestante hulle ore en besluit hulle dit is maar net nog ‘n venynige aanval op Anselmus. Dat sommige mense so oor Aulén se Christus Victor hipotese gevoel het is duidelik, want hy maak melding daarvan.[1] Tog moet ek sê was my gevoel dat Aulén deurgaans baie gebalanseerd, billik en breedvoerig die saak van die Latynse perspektief gestel het.[2]

  1. Onvoldoende beskrywing van Christus se menslikheid

Nog ‘n beswaar wat ek kon optel, was dat sommige kritici gevoel het dat Aulén nie genoegsaam die belangrikheid van Christus se menslikheid beklemtoon nie.[3] Dit is vir my ‘n interessante beswaar, want dit is immers presies waarin die andersheid van die Christus Victor-hipotese lê. Aulén stel homself nie ten doel om Jesus se mensheid te bewys nie, juis omdat hy probeer uitwys hoe belangrik Jesus se Godskap vir die vroeë kerk was. Hierdie beswaar voel dus ook vir my onbenullig.

  1. Onderspeling van sonde

Uit die kamp van behoudende protestante, is een van die besware wat die meeste teen die Christus Victor hipotese geopper word, die indruk dat sonde onderspeel word. Aulén hou voet by stuk dat sonde vir die klassieke perspektief net so groot probleem is as vir die Latynse perspektief. Hy distansieer selfs hom van ander teoloë se uitlatings wat verkeerdelik die indruk skep dat sonde vir kerkvaders soos Irenaeus, nie belangrik was nie.[4] Wat hy wel bepleit is dat daar raakgesien moet word dat die vroeë kerk altyd sonde in relasie tot ander probleme gesien het. Hulle sal praat van die probleem van “sonde en dood” of “sonde en slawerny” of “sonde en gevangenisskap”.[5] Dit is dus nie waar dat die konsep van sonde by Irenaeus in die agtergrond staan nie. Dit is eerder ‘n geval dat die kerkvaders ‘n breër beskouing van sonde gehad het – as ‘n toestand van totale vervreemding van God. Hierdie verbreding in die verstaan van sonde, verhoed dat die vroeë kerk moralisties praat oor sonde as die verbreking van ‘n wet of twee.[6]

  1. Oorbeklemtoning van die Satan

Sommige Christene glo van vanweë verskeie redes nie in die ontologiese bestaan van die Bose nie. Daarom vind ons uit die kamp van meer progressiewe Christene die beswaar dat die Christus Victor teologie die rol van die Satan oorbeklemtoon. Op grond hiervan, oordeel sulke Christene dat die Christus Victor motief in sy geheel onbruikbaar is.[7]

Dit neem jou nie inderdaad nie lank om te sien dat die klassieke perspektief groot klem plaas op die aandeel wat die Duiwel in hierdie gevalle skepping het nie. En volgens Aulén is dit juis as gevolg hiervan dat die klassieke perspektief geen byval by liberale teoloë gevind het nie.[8]

Ook hierdie beswaar voel ek is onnodig fel. As die prominente plek van die Bose vir jou ‘n probleem skep, kan jy rondom dit werk sonder om die klassieke perspektief in sy geheel van die tafel af te vee. As jy byvoorbeeld nie ‘n probleem met die Satan se bestaan het nie, maar net met die feit dat hy so dikwels in die Christus Victor hipotese in die kollig is, kan jy vêr kom deur net te onthou dat nie alle kerkvaders ewe veel aandag aan hom gegee het nie. So het Athanasius byvoorbeeld heelwat minder klem gelê op die Bose en eerder van verlossing gepraat in terme van ‘n “bevryding van die krag van die dood”.[9]

Maar selfs as jy iemand is wat nie aan die Satan as ‘n ontologiese realiteit dink nie, hoef jy nie te voel dat die Christus Victor teologie vir jou onbruikbaar is nie. Verskeie progressiewe teoloë werk met interessante gedagtes oor hoe hulle die Christus Victor hipotese en hulle post-moderne wêreldbeeld met mekaar kan versoen. In hierdie verband kan ons die blog van Richard Beck as voorbeeld noem.

  1. Onbehoorlike aansprake

Die prominente plek wat die Satan in die Christus Victor hipotese beklee, maak egter nie net die progressiewe teoloë krapperig nie. Sommige van die meer behoudende teoloë beleef ook ‘n ongemak daarmee.

In ‘n vorige inskrywing het ons gekyk na die uitdrukking van die vroeë kerk dat die kruis ‘n strik vir die Duiwel was. Met die verloop van tyd, het verskeie protestantse teoloë hulle van Augustinus se muisvalletjie metafoor gedistansieer. Die “crux muscipula diaboli” uitdrukking, suggureer dat God vir Satan “gevang” – oftewel “gekul” – het. Hierdie teoloë vind die gedagte dat God “kul” afstootlik en sê dit is onbehoorlik om sulke laakbare gedrag aan God toe te dig.[10]

  1. “Ondeurdagte” teologiese formulering.

Die laaste beswaar uit die mond van ander – voor ek my persoonlike kritiek deel – het te make met die gebrekkige bewoording van die Christus Victor-teologie. Die vroeë Kerk se Christus Victor-teologie het nooit ontwikkel tot ‘n helder geformuleerde dogma nie. Jy sal onthou dat ons genoem het dat dit eintlik baie moeilik is om die Christus Victor-teologie met terminologieë te definieer. Daar is nie ‘n uitgewerkte dogmatiese leerstelling nie. Ons kon hoogstens 10 kenmerke van die teologie identifiseer. Die vroeë Kerk was heeltemal tevrede daarmee om in terme van beelde en metafore oor die kruis te praat.

Wanneer teoloë vandag na die Christus Victor-teologie terugkyk om dit te beoordeel, is dit byna asof hulle eerder op dit neerkyk. Die rede hiervoor is omdat almal dit “meet” aan die teenoorstaande leerstelling, naamlik Anselmus se “Teorie van bevrediging”. Anselmus se leerstelling het baie sterk by ons geresoneer omdat dit met lineêre oorsaak-gevolg-argumentering werk. Of jy nou met die inhoud daarvan saamstem of nie – die denke daaragter volg ‘n duidelike sistematiese skema.

Eintlik verklap dit iets van ons moderne Westerse mens se behoefte dat gedagtes oor God eksak en logies uitgedruk moet word. Ons hou nie daarvan om ruimte te los vir misterie nie. Ons wil hê ons teologie moet alle grysareas vir ons verduidelik.

As mens vanuit hierdie denkskool kom, kan die vroeë Kerk se (Oosterse) manier van dink vir jou elementêr voorkom. En dit is inderdaad een van die redes waarom (volgens Aulén[11]) die teologie in onbruik verval het. Omdat ons behoefte het aan ‘n duidelik verwoorde dogma oor die kruis, wil dit vir ons voorkom of die Christus Victor-teologie van ‘n laer gehalte is. Ons is gewoond aan leerstellings wat breedvoerig verduidelik. Daarom lyk die Christus Victor-teologie vir ons oënskynlik na “ondeurdagte” teologiese opmerkings. Ons neem dit nie ernstig nie en dink dat dit slegs ‘n bydrae tot ons simboliese taal kan lewer.

Dit is natuurlik nie die geval nie. Die teoloë van die vroeë Kerk was nie “oppervlakkig” nie en hul teologie was allermins “ondeurdag”. Hulle het net teologie anders as ons bedryf. Om die waarheid te sê, vermoed ek dat hulle gemaklikheid daarmee om nie alle misterie “weg te verduidelik” nie, dalk juis weer met ‘n nuwe geslag gelowiges gaan byval vind wat moeg is vir kerkleiers wat “alles weet”.

B          Persoonlike besware:

Soos reeds gesê, weeg nie al die besware vir my ewe swaar nie. Ek kan met al die bogenoemde punte van kritiek saamleef. Nie een “kelder” vir my die Christus Victor-teologie nie. Maar persoonlik vind ek wel tekortkominge in 2 aspekte.

  1. Onoortuigende verduidelikings van uitsonderings

Aulén doen myns insiens ‘n uitstekende werk in die manier waarop hy jou op ‘n reis deur die vroeë Kerk se teoloë neem. Hy bied hulle gedagtes interessant aan en mens kry ‘n goeie idee van wat presies hulle Christus Victor-teologie behels.

Maar daar is ‘n paar voorbeelde in die kerkvaders se werke, wat vir Aulén – oftewel die saak wat hy probeer stel – ‘n probleem skep. Sommige woorde of sinsnedes wat hulle gebruik, verkondig presies die teenoorgestelde as wat kwansuis die essensiële van die Christus Victor-teologie is.

In die werke van Gregorius die Grote is daar byvoorbeeld ‘n paar keer versoeningsgedagtes wat mens eerder sou verwag by die tipiese Latynse perspektief.[12] En so kry mens ook by Irenaeus etlike opmerkings dat Jesus as mens die versoeningsoffer gebring het[13] (Onthou, die groot klem van die Christus Victor-teologie is juis dat Jesus deurgaans sy versoeningswerk in sy Goddelike natuur verrig het).

Nou in alle billikheid, dit is Aulén self wat ons aandag op hierdie voorbeelde plaas. Mens waardeer dit van hom dat hy dit nie verswyg nie maar dit eerder vir jou uitlig. My probleem lê in die manier waarop hy hierdie “uitsonderings” verklaar. Dit was nie vir my oortuigend genoeg nie. Dit het vir my gevoel of Aulén sy saak wil stel – en hy gaan alle voorbeelde wat die teendeel bewys, ligtelik wegkaats.

  1. Onbeantwoorde Skrifgetuienis

Ek het soms gevoel of Aulén met weersprekende Skrifgetuienis op dieselfde manier werk. As die boek Hebreërs byvoorbeeld taal bevat wat die Latynse perspektief ondersteun, dan sal Aulén dit bloot verduidelik as deel van Christus Victor se kenmerkende tweeledige karakter van versoening [14](Sien kenmerke van die Christus Victor-teologie). Dit voel vir my na ‘n te maklike uitweg.

Maar daar is ook nog ander onbeantwoorde Skrifgetuienis. Professor David Ford maak in sy voorwoord tot Aulén se boek, byvoorbeeld die opmerking dat hy graag sou wou sien hoe daar met Jesaja se knegliedere omgegaan sou word.[15] Ek het gedink dit is ‘n baie geldige punt. Onthou, die spilpunt van Christus Victor-teologie draai rondom die argument dat Jesus die verlossingswerk nie as mens verrig het nie, maar as God. Daarom sou dit baie interessant wees om te sien wat die kerkvaders (en Aulén) met Jesaja se  knegliedere doen.

En laastens is daar die onbeantwoorde besware op Skrifgetuienis soos 1 Pet 3:18 wat duidelik sê dat Christus as “…mens doodgemaak is…”(1 Pet 3:18). Wat maak die Christus Victor-teologie met frases soos díe?

Gevolgtrekking

Wat is my gevolgtrekking oor die kritiek teen die Christus Victor-teologie? Dink ek Aulén se onoortuigende veduideliking van die uitsonderings en die onbeantwoorde Skrifgetuienis, kelder die héle Christus Victor-hipotese? Nee glad nie.

Ek dink Aulén was ‘n teoloog wat ‘n wesenlike tema by die kerkvaders raakgesien het. Dit was ‘n tema wat tot nou toe misgekyk was omdat ons vanuit ons Latynse kerktradisie, die vroeë Kerk op ‘n bepaalde manier gelees en verstaan het. Dit is dus te verstane dat vir Aulén – om sy punt te maak en ons aandag op die saak te vestig – hy sy hipotese baie sterk móét bewoord. Ek dink die saak wat hy stel het meriete, maar ek sou nie so vêr gaan as om te sê dat die Christendom op ‘n syspoor beland het nie.

Dit is immers nie verkeerd van die Kerk om tot nou toe nog Jesus se mensheid te beklemtoon in sy versoeningswerk nie. Dit voel vir my ons hoef nie te kies tussen die twee nature van Christus nie. Jesus was beide God en mens – gelyktydig – in al sy doen en late. En ek is tevrede om met hierdie misterie saam te leef. Eintlik behoort Aulén ook te wees. Dit is immers hý wat ons aandag daarop vestig dat die vroeë Kerk heeltemal gemaklik met oënskynlike teologiese teenstrydighede was.

Daar is vir my dus genoeg bewyse om te sê dat ons ‘n groot fout sal begaan as ons nie die Christus Victor-teologie ernstig opneem nie. Maar ons sal net so groot fout begaan as ons dink dat die Christus Victor-hipotese “waterdig” en sonder enige probleme is. Vir my is dit net nog ‘n deel van die waarheid – die ander kant van die munstuk as jy wil.

Maar dat die Christus Victor-teologie ons teologiese skatkis verryk, is ongetwyfeld. In die volgende inskrywing praat ek oor wat die waarde van hierdie teologie vir my persoonlik is.

 

 

[1] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, pxiii

[2] Neem as voorbeeld die beskrywing op bladsye p84-92

[3] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, pxiii

[4] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p22

[5] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p22, 44, 45

[6] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p25

[7] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p47

[8] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p7

[9] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p43

[10] Stott, John (2006-10-20). The Cross of Christ (Kindle Locations 1991-1992). Inter-Varsity Press. Kindle Edition.

[11] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p9

[12] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p41

[13] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p33

[14] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p77

[15] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, pX

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

No Comments

Be the first to start the conversation.

Leave a Reply