Christus Victor V (Konklusie oor die waarde van die hipotese)

September 1, 2013 — Leave a comment

Wat is die waarde wat die Christus Victor-hipotese tot die teologie toevoeg? Dit is waarna ons vandag kyk!

Hoewel Aulén se Christus Victor-hipotese nie sonder probleme is nie (ons het in die vorige inskrywing na die kritiek teen dit gekyk), lewer dit wel ‘n reuse bydra tot die teologie. Die waarde daarvan lê vir my op twee vlakke.

  • Die Klem op Jesus se Godskap

As jy die reeks inskrywings gevolg het, sal jy teen hierdie tyd weet dat Aulén die punt probeer maak dat die grootste verskil tussen die vroeë Kerk en die latere Latynse tradisie (waarvan ons deel is), die klem op Jesus se Godheid is.

Die Latynse perspektief maak baie daarvan dat die mens boetedoening teenoor God moes doen as gevolg van God se eer wat deur sonde aangetas is. Vir ware versoening om egter plaas te vind, moes daar ‘n gepaste offer uit die mens se geledere aan God gemaak word. Geen mens is egter in staat om so ‘n groot versoenoffer aan te bied en God na waarde te behaag nie. Daarom bring God self die gepaste offer – welliswaar as mens.

Die vroeë Kerk daarteenoor, het weer die heeltyd beklemtoon dat Jesus as God geleef, gekruisig, gesterf en opgestaan het. As Hy dit nie as God gedoen het nie, was dit immers nie moontlik om die vyand se mag oor die mensdom te breek nie.

Ek het in die vorige inskrywing gesê dat dit nie vir my nodig voel om hier te kies tussen een van Jesus se twee nature nie. Ek is gemaklik om met die misterie saam te leef.

Die waarde van Aulén se opmerkings lê egter vir my in die feit dat ons kan sien hoe vroeg Jesus se Godskap in die Kerk beklemtoon is. Deesdae skep mense heel geredelik die indruk dat Jesus nooit eintlik as God beskou is, toe die Christendom in sy babaskoene was nie. Hulle voer aan dit is ‘n dogma wat later met tydsverloop ontwikkel het en toe op mense afgeforseer is.

Wel, as mens ooit weer hierdie argument hoor, kan jy maar weet dat die persoon nog nooit die geskrifte van die vroeë Kerk gelees het nie. Van die vroegste van tye af, is Jesus se Godskap bely.

  • Die breër verstaan van sonde

Die Christus Victor-teologie se breër verstaan van sonde spreek my baie aan. Ons as Westerlinge (Latynse tradisie) het in ‘n kerk grootgeword wat baie moralisties oor sonde dink. Sonde behels vir die meeste van ons die breek van reëls en wette.

Die Christus Victor-teologie het ‘n voller verstaan oor die omvang van sonde. Sonde is nie net ‘n eksterne probleem (soos ‘n gebreekte wet) nie, maar ‘n eksistensiële probleem. En nou praat ek nie van “om in sonde ontvang en gebore te word nie”. Die Christus Victor-teologie glo ons hele bestaan is in sonde vasgevang. Oral rondom ons maak mense mekaar seer – en kry mense seer. Waar ons kyk is daar gruwelike vorme van lyding en dood. Die hele skepping skree gebrokenheid uit en is desperaat dat ‘n Redder na vore sal treë om ons van hierdie “doodsbestaan” (soos Paulus sou sê), te verlos.

En dit is die vertroosting wat die Christus Victor-teologie bied. Telkens sien mens hoe die kerkvaders sonde hand-aan-hand met die dood of lyding in verband bring. Dit word in een sin genoem asof dit een en dieselfde ding is. Wanneer Jesus ons triomfantlik aan die kruis red, red Hy ons van sonde in die eng sin van die woord, maar ook van ‘n doodsbestaan in die breër sin van die woord. Ons sou goedskiks kon sê dat Jesus ons van drie S’e verlos:

  • Sonde

Uiteraard red Jesus ons van sonde in die eng sin van die Woord. Hy sterf vir al die verkeerde dinge wat ons doen – én al die regte dinge wat ons nie doen nie. Ons ken die rympie. Maar dit stop nie hier nie…

  • Seer

Jesus sterf ook vir ons seer. Hy sterf vir die hartseer wat ons oor onsself bring asook vir die trauma wat ander ons aandoen. Jesus sterf vir meer as wat ons tradisioneel sou verklaar as sonde. Ons sou kon sê Hy sterf vir die sonde van verkragting, maar ook vir die seer van die verkragte.

Die Nuwe Testamentikus John Stott wys ons daarop dat daar vyf verskillende Griekse woorde is wat elk as “sonde” vertaal word. Elkeen het sy eie klem en nuanse – en saam skets dit vir ons die volle omvang van wat sonde is.[1]

  • Parabasis” is byvoorbeeld ‘n woord wat sinspeel op ‘n oortreding of skending van ‘n wet.
  • Anomia” is nog een van die woorde wat wetteloosheid impliseer. Dit dui op ‘n doelbewuste ongeërgde ongehoorsaamheid teenoor God se wil.
  • Maar so is daar ook die woord “poneria” wat gebruik word om boosheid uit te druk of ‘n ingesteldheid om geweld te pleeg.
  • En ook “adikia” wat weer op sy beurt gebruik word om perversie of ‘n verwrongheid van karakter uitdruk. Hierdie vier woorde is waarskynlik ‘n goeie weerspieëling van wat die Latynse perspektief met die woord “sonde” verstaan.
  • Maar dan kry jy ook die woord “hamartia”. Van al die woorde wat vir sonde gebruik word, kom dit die algemeenste in die Nuwe Testament voor. En dit beteken gewoon “om die doel te mis”.

Ons sou dus goedskiks kon sê dat sonde óók enige iets is wat God se doel mis – álles wat ‘n verwronging is van die intensie van God se vaderhart. Die emosionele seer van iemand wat verkrag is, sou ‘n goeie voorbeeld hiervan wees. Dít was beslis nie wat God in gedagte gehad het toe Hy seks geskep het nie. Jesus het dus ook vir die seer van hierdie verdraaing kom sterf.

  • Siekte

Daar is baie te sê oor die feit dat die Messias ook gekom het om vir siektes te sterf. Jesus se bediening word daaraan gekenmerk dat Hy rebelleer teen die sinnelose pyn en lyding in die lewe van mense. Waar Hy siekes kry, genees Hy hulle en waar Hy stoete teëkom, wek Hy die gestorwene op. Hy was duidelik in opstand teen die dood en die gepaardgaande siektes.

Matteus het vir ons die treffende verhaal van die genesing van Petrus se skoonmoeder opgeteken – en dit vir ons interpreteer! Hy skryf:‘14Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonmoeder siek lê met ’n hoë koors. 15Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.16Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met ’n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. 17So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is:“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” (Matt 8:14-17). Dit is veelseggend dat Matteus sê, wat Jesus gedoen het terwyl Hy gelewe het net ‘n voorsmakie was van wat Hy sou doen toe Hy gesterf het.

In die kerktradisie waarin ek staan, is mense nogal geneig om te sê dit gaan hier oor ‘n “geestelike siekte”. Ons is geestelik “terminaal” en Jesus kom sterf dáárvoor.[2] Maar die konteks handel oor werklike siektes. Bowenal hoef mens net so bietjie te lees oor wat die Joodse Messiaanse verwagting alles behels het, en dan sal jy weet dat die Jode ‘n Messias verwag het wat in elke sfeer van die lewe jukke triomfantlik sou afgooi – lyding ingesluit.

Ongelukkig het sekere hedendaagse kerkgroepe slegte publisiteit vir hierdie aspek van Jesus se versoeningswerk gegee. Om te voor te gee dat alle siekte doodluiters moet wyk omdat Jesus daarvoor gesterf het, vind ek ook erg oppervlakkig. Maar dit is nie die gevolgtrekking waartoe ‘n Christus Victor-teologie ons by uitbring nie.

Iemand sou heeltemal tereg skepties kon vra: “As Jesus dan vir siektes gesterf het, waarom word ek dan nog siek?” Maar jy moet nou mooi dink oor die geldigheid van hierdie vraag. As ons sê dat Jesus vir ons sonde (in die eng sin van die woord) gesterf het, vra niemand “maar hoekom vind daar dan nog so baie verkeerde dinge plaas nie?”. Ons almal weet dat hoewel Hy vir ons sondes gesterf het, gaan daar nog altyd sonde wees. Die gevolg is net dat ons nie meer langer slawe van die sonde is nie en dat ons verlossing nie meer bepaal word deur hoe baie of hoe min ons daarvan het nie.

Ook as ons sê dat Jesus vir seerkry gesterf het, vra niemand “nou waarom vind daar nog soveel seerkry plaas nie?”. Ons almal weet dat hoewel Jesus daarvoor gesterf het, gaan daar nog altyd emosionele trauma wees. Maar die gevolg van Jesus se sterwe is dat jy nie ‘n gevangene van die emosionele trauma van jou verlede, hoef te bly nie. Hy maak jou daarvan vry sodat jy uit jou emosionele tronk kan stap.

En nou moet ons konsekwent wees. Wanneer die Christus Victor-gedagtes dus sê dat Jesus ook vir siekte gesterf het, bedoel dit nie daardeur dat siekte ophou bestaan het nie. Dit beteken dat jy nie langer deur die sinneloosheid daarvan lamgelê hoef te word nie. Want dit is wat so vreesaanjaend van lyding is: dat dit sinneloos is. Maar die kind van God ontvang die belofte dat God niks in sy of haar lewe sinneloos sal los nie.[3] Die Here beloof dat Hy, selfs midde in siekte, betekenis kan gee.

Die ware verhaal van Linda-Lee

Hierdie is nie net ‘n akademiese oefening nie. Dit raak baie prakties. Kom ek vertel jou van Linda-Lee…[4]

Eendag maak ons gemeente se sekretaresse vir my ‘n spreekkamerafspraak met ‘n vrou wat onbekend was aan my. Toe die middeljarige vrou instap, val sy sommer met die deur in die huis: Sy is nuut in die dorp. Sy het ‘n drankprobleem wat sy weet sy moet oplos. Sy het verby die kerk gery en die nommer op die uithangbord gesien. Sy bel toe sommer en maak ‘n afspraak…

Terwyl sy praat was daar egter iets wat my pla. Die heeltyd wat ek na haar geluister het, was daar ‘n gedagte in my kop dat hierdie vrou seksueel misbruik is. Ek glo dit was ‘n woord van wysheid van die Heilige Gees.

Toe sy klaar gepraat het, het ek vir haar bedank vir haar eerlikheid en gevra of ek vir haar nog ‘n eerlike vraag mag vra wat haar dalk kan ongemaklik maak. Sy het ingestem en ek het so sensitief moontlik vir haar gevra of sy ooit in haar lewe seksueel misbruik is.

Sy het vir ‘n paar oomblikke (dit het vir my soos ‘n ewigheid gevoel) my net aangestaar, en toe saggies in haar hande begin huil. Sy vertel my toe dat sy van die ouderdom van 6 deur haar Ma se kêrel gemolesteer is. “Dinge was nooit weer dieselfde nie”, het sy gesê. En rondom die ouderdom van 12 het sy in prostitusie beland. Êrens deur die jare – wat soos diep geplooide slote op haar wange gelê het – het sy in die kloue van alkohol beland. Waarskynlik om ‘n pynstiller op die diep donker gat in haar binneste te gooi, het ek by myself gedink.

Om sake te vererger het sy vanweë haar promiskue leefstyl VIGS opgetel het. Ja, sy was HIV positief en moes vrede maak met die feit maak dat sy gaan sterf. Sy kom van Pretoria maar bly nou by ‘n man wat vir haar en haar kinders kos en skuiling gee – inruil vir seks. Die dood hang egter soos ‘n swaard oor haar kop en sy wil weet dat wanneer sy sterf, is haar saak met God reg. Daarom haar besluit om solank die drank te los…

Toe sy in Pretoria was het sy ‘n paar keer die drank gelos gekry. Sy het daar met ‘n predikant gaan praat wat kwaai met haar oor die bottel geraas het. Elke keer as sy by hom was, dan het dit vir so paar weke beter gegaan. Sy het gehoop ek doen dieselfde: Praat kwaai met haar oor die drank.

Ek kon my ore nie glo nie. Ek vra haar: “So jy het ‘n afspraak met my gemaak om te kom raaskry?” Ja, knik sy instemmend, “Is dit nie wat dominees tog moet doen nie?”Nee”, sê ek, “ons is nie veronderstel om net die simptome van ‘n dieperliggende probleem te behandel nie”.

Maar ek admireer nogtans jou dapperheid”, voeg ek by. Sy frons en toe verduidelik ek: “Ten spyte daarvan dat jou blootstelling aan Kerk jou laat glo het dat jy vandag gaan pakslae kry, het jy steeds gekom. Ek dink dit was dapper van jou.”

Ek gaan toe voort en deel met haar die evangelie en hoe geloofsekerheid werk. Jy verdien nie die ewige lewe op grond van hoe min of hoe baie sonde jy het nie. Al wat jou red is ‘n oorgawe aan Jesus – selfs al is jy ‘n alkoholis. Toe ek daardie dag vir haar vertel, dat Jesus vir al haar sondes gestraf is sodat sy nie eendag die straf daarvoor hoef te dra nie, kon ek die verligting in haar oë sien.

Maar dit is nie waar ek opgehou het nie. Toe ek haar vertel dat Jesus ook vir die seer van haar seksuele misbruik gesterf het, sodat sy nie meer daarvan ‘n gevange hoef te wees nie, het daar trane oor haar wange gerol. Dit was nie meer vir haar nodig om op die gekoopte omhelsing van ‘n man te wag, alvorens sy aanvaar en geliefd voel nie. Sy het in die genade van Jesus, ware aanvaarding en liefde gevind.

En nóg was dit nie waar ek gestop het nie. Ek het haar vertel dat Jesus ook vir haar siekte gesterf het. Haar HIV hoef nie sinneloos te bly nie. Sy kan haar narratief nuut verpak en iets vir iemand beteken. Toe sy dit hoor, het ek in haar oë gesien hoe hoop opvlam. Sy het met ‘n voorneme uitgestap om in haar klein sirkeltjie, bewusmaking teen seksuele geweld/uitbuiting en die realiteit van HIV, te kweek. Later sou sy openlik hieroor met vele mense praat.

Meeste van ons vind gewoonlik dat een van die s’e – hetsy óf sonde, óf seerkry óf siekte, op ‘n bepaalde tydstip tot jou spreek. Maar Linda-Lee was iemand wat die volle omvang van die evangelie op een dag beleef het.

Geen van Linda-Lee se omstandighede het in daardie oomblikke verander nie. Maar haar perspektief op haar omstandighede het. Omdat sy nou na haar lewe gekyk het deur die bril van Jesus se bloed, het dit letterlik die wêreld se verskil vir haar gemaak.

free-to-go

Full credit to Naked Pastor

Sy was om die waarheid te sê onthuts dat sy nie vroeër hierdie evangelie gehoor het nie. Sy het vir my gesê: “Ek voel beroof. Dink net hoe anders kon my situasie lyk, as ek vroeër in my lewe God se waarheid raakgesien het”.

En sy was 100% in die kol. Sy het haar lewe lank in ‘n spreekwoordelike tronk gesit. Die seerkry van haar verlede, het haar ‘n klomp onwaarhede oor haarself laat glo, en daardie foutiewe selfpersepsie het haar toekoms bepaal. Die tragiek is dat die tronk waarin sy haar hele lewe gesit het, se deure nog die heeltyd oop was. Jesus het dit reeds met sy offer op die kruis oopgebreek. Maar sy het haar lewe lank geglo sy is ‘n gevangene – tot op die dag wat sy die oorwinning van Christus Victor vir haarself toegeien het. Daardie dag het sy begin om uit die tronk te loop.

Ek wil nie voorgee elke pastoraatsessie van my is so geslaagd nie. Inteendeel, sulke voorbeelde is meer die uitsondering as die reël. Maar daardie dag het die Heilige Gees waarheid vir Linda-Lee in een sessie oopgebreek. Ek gaan ook nie voorgee dat alles daarna seepglad verloop het nie. Hierdie verhaal moet ek eintlik opvolg met die pynlike storie van hoe ons gemeente nie gerat was om alternatiewe vir ‘n prostituut te skep nie. Dit is maklik om te sê hou op met hierdie “sonde”. Dit raak heelwat moeiliker as sy na die geloofsgemeenskap kyk om haar met volhoubare alternatiewe te help. Dan raak die geloofsgemeenskap se onvermoë, deel van die sonde. Dit was ‘n baie lang proses om haar uit daardie leefstyl te kry.

Maar die punt is dat sy op een dag die volle omvang van Jesus se kruisdood gesnap het. Die omvang daarvan was baie meer veelkantig as die Latynse perspektief wat sonde net in die eng sin van die woord beklemtoon. Daardie dag het sy gesnap Jesus is oor haar hele lewe, Christus Victor!

[1] Cross of Christ, p106

[2] In daardie tipiese verduideliking hoor mens die aksent van die Latynse perspektief wat in my kerklike agtergrond hoogty vier. Dit is natuurlik heeltemal die waarheid – maar tog ook eenkantig en onmiddelik mis mens Christus Victor-teologie se breër verstaan van sonde.

[3]Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet . . .” (Rom 8:28 NAV)

[4] Linda-Lee is ‘n skuilnaam om die vrou se identiteit te beskerm.

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

No Comments

Be the first to start the conversation.

Leave a Reply