Wat is die beste manier om gelykenisse te verklaar?

September 27, 2016 — Leave a comment

Wat is die beste manier om gelykenisse te verklaar? Wel, deur die eeue heen was daar verskeie maniere waarop die gelykenisse geïnterpreteer is. Eers was daar die benadering dat elke faset van die gelykenis simbolies verstaan moet word.

Omdat dit aanleiding tot te veel allegorie gegee het, het ‘n volgende benadering ontstaan waarin daar gesê is dat daar slegs een boodskap in ‘n gelykenis lê – en een alleen. Daar was egter gou gevind dat dit weer ‘n verskraling van die gelykenisse is.

‘n Derde benadering wat die middelgrond tussen die eerste twee uiterstes van die pendulum probeer vind het, is dat daar een boodskap per hoofkarakter in ‘n gelykenis te vinde is. Sedertdien het hierdie benadering die mees aanvaarde manier geword om gelykenisse te interpreteer.

Die afgelope kwartaal het ons gemeente ‘n reeks oor Jesus se gelykenisse aangebied. Soos wat ek vir die reeks voorberei het, is daar tog iets anders wat my oor die gelykenisse van Jesus opgeval het.

Dit is vir my opvallend dat Jesus telkens sy gelykenisse vertel na aanleiding van iets wat gebeur het of gesê is. Jesus het sy gelykenisse as ‘n soort medisyne vir spesifieke situasies aangebied. Om sy gelykenisse van hulle konteks te isoleer, gee myns insiens aanleiding tot ‘n verwronge interpretasie van die gelykenisse. Ek wil dus aanvoer dat die beste manier om gelykenisse te verklaar, die lees van die konteks is…

Voor die handliggende gevalle

In sommige voor die handliggende gevalle, gaan jy dadelik sien dat die gelykenis onlosmaaklik verbind is aan die konteks. Neem byvoorbeeld die gelykenis van die man wat sy vriend in die middel van die nag wakker klop (Luk 11:5). Natuurlik handel die gelykenis oor gebed, want Jesus het nog tot in vers 4 vir sy dissipels geleer hoe om die “Onse Vader” te bid. Sonder veel eksegese gaan jy weet dat die gelykenis oor die vriend in die nag, oor die vrymoedigheid handel wat ons in ons gebedslewens mag hê.

Minder voor die handliggende gevalle

parable-of-two-sonsMaar ander gelykenisse word van hulle konteks vervreem deur perikoopafbakenings, en gevolglik is hul betekenis minder voor die handliggend.

Neem byvoorbeeld die Pa met die 2 seuns (Matt 21:28). Die een seun sê hy sal in die wingerd gaan werk, maar doen dit nie. Die ander een sê hy wil dit nie doen nie, maar kry later spyt en doen dit tog.

Geïsoleerd gesien, word die gelykenis verkeerdelik geïnterpreteer as ‘n teenstelling tussen woorde en dade. Ons lees ons eie teologiese vrae – naamlik die verband tussen geloof en werke – in die gelykenis in, terwyl Jesus glad nie besig was om hier kant te kies tussen Katolieke en Protestante nie.

Die konteks van die gelykenis wys ons egter dat Jesus die gelykenis by die tempel vertel het en dat die priesterhoofde en familiehoofde sy gehoor was. Die daaropvolgende 3 gelykenisse word op mekaar gestapel om hulle te bereik.

Die gelykenis oor die Pa met twee seuns handel dus oor die geveinsdheid van skeinheilige godsdienstige leiers – mense wat met hulle lippe al die regte klanke gemaak het. Daarteenoor was die prostitute en die tollenaars – mense wat uit die staanspoor gesê het dat hulle nie kans sien om God te behaag nie. Maar wat namate hulle Jesus leer ken het, hulle toe ook na God bekeer het.

As ons die konteks hier in ag sou neem, sou ons dus nie in die slaggat trap om ‘n valse spanning tussen woorde en dade te skets nie. Beide is ewe belangrik vir die Here. Dit gaan in hierde gelykenis oor skeinheiligheid.

Nog ‘n goeie voorbeeld

hultgrenNog ‘n goeie voorbeeld oor hoe belangrik die konteks is om die betekenis van die gelykenisse oop te sluit, vind ons in die gelykenis oor die onvrugbare vyeboom (Luk 13:6).

Op sy eie gesien, word hierdie gelykenis iets waarmee gelowiges op ‘n moralistiese wyse gedreig word om “vrug” te dra. Sou jy nie binnekort vrugte begin dra nie, gaan jy uitgekap word.

Maar Arland Hultgren wys ons daarop in sy kommentaar, The Parables Of Jesus, dat hierdie gelykenis in antwoord was op ‘n vraag wat vooraf gevra is. Die vraag was oor die Galileërs wat deur Pilatus doodgemaak is toe hulle offers gebring het. En Jesus voeg nog ‘n voorbeeld van tragiek by – die 18 mense wat omgekom het toe die toring van Siloam op hulle omgeval het.

Volgens Hultgren dui die konteks aan dat Jesus deur sy gelykenis te kenne wou gee dat die mens se lewe aan onsekerheid onderwerp is. As dit nie politieke onrus is wat jou lewe eis nie, dan is dit natuurrampe of fratsongelukke. Niemand weet wanneer hy/sy gaan sterf nie. Moet dus nie uitstel met jou besluit om Hom te volg nie. Begin “vrug dra” oftewel,  maak onmiddelik ‘n besliste keuse vir Jesus. Want môre kan dalk te laat wees.

Hierdie interpretasie wat gekoppel is aan die konteks van die perikoop, lyk gans anders as die geykte moralistiese verduideliking van die gelykenis.

rembrandt_-_the_return_of_the_prodigal_son_detail_-_wga19135Daar is heelwat sulke voorbeelde waar ons ‘n ander klem op ‘n gelykenis plaas as wat die konteks vir ons te kenne gee. Neem byvoorbeeld die gelykenis van die verlore Seun.

Gewoonlik fokus preke op hoe verkeerd die seun was om weg te loop of hoe belangrik dit is om die keuse te maak om terug te kom. Maar die konteks van die gelykenis fokus op iets anders.

Jesus stapel 3 gelykenisse oor verlorenheid op mekaar, om iets aan te dui van die Here se hart: Die gelykenis van die verlore skaap, die gelykenis van die verlore muntstuk en dan helaas die gelykenis van die verlore seun.

Telkens fokus Jesus se gelykenis nie op die aksie van die een wat weg is nie, maar op die aksie van die een wat soek. Jou interpretasie van die verlore Seun moet dus meer handel oor hoe die Vader dit hanteer het, as oor wat die seun gedoen het.

Slotgedagte

1.) Die beste manier om gelykenisse te verklaar is om na die konteks te kyk.

Dit maak my bang hoe maklik dit is om ‘n totaal ander betekenis aan ‘n gelykenis te gee, as jy nie sy konteks in ag neem nie. Ek wil dus jou aanmoedig om jou altyd eers van ‘n gelykenis se groter plek in die teks te vergewis. Volgens my is die beste manier om ‘n gelykenis te interpreteer, deur sy konteks in ag te neem.

Waarmee begin die gelykenis? Woorde soos “Daarna” of “Toe” verklap dat die gelykenis in antwoord was op iets wat vooraf gebeur het. Waar het Jesus dit vertel? Wie was sy hoorders? Dit is alles dinge wat die betekenis beïnvloed.

2.) Ons lees die Bybel moralisties.

Ek het net weereens besef dat ons ten diepste geneig is om die evangelie moralisties in te kleur. Sodra ons ‘n halwe kans kry beklemtoon ons eerder dit wat die mens moet doen – of nie moet doen nie. Of dit nou is om vrug te dra en of dit nou is om nie ‘n verlore seun te wees nie.

Maar ‘n getroue verkondiging van die evangelie fokus altyd meer op dit wat die Here doen, as op dit wat die mens moet doen.

3.) Deeglike studie en eksegese.

In ag genome ons geneigdheid om die boodskap van die Bybel “verkeerd” te kry sodra ons dit isoleer of nie in konteks lees nie, is ek net weereens gegryp deur die belangrikheid daarvan om deeglike eksegese en voorbereiding te doen.

Dit is wanneer ons “gou” oor ‘n teks preek, wat ons op ons gevaarlikste is. Dit is wanneer ons “weet” wat ‘n teks se bedoeling is omdat dit so voor die handliggend of voorspelbaar is, wat ons die maklikste ‘n fout maak.

Eksegese vra diep wroeging oor elke Skrifgedeelte.

Hierdie greep van Walter Brueggemann spreek my geweldig aan:

As dit nie korrek by jou vertoon nie, kan jy daarna kyk deur hier te klik

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

No Comments

Be the first to start the conversation.

Leave a Reply