3 Redes waarom die evangelie vandag kán versprei

October 17, 2013 — Leave a comment

Die storie oor Jesus het in die eerste eeu soos ‘n veldbrand versprei. Dit wil lyk asof dit weer kan gebeur…

Dit was nie grappies om in eerste eeu na Christus te leef nie. Tog was daar sekere ekonomiese, sosiale en maatskaplike faktore wat gemaak het dat die tyd ryp was vir die verspreiding van die evangelie. Dit was asof al hierdie faktore saamgewerk het om ‘n gunstige klimaat te skep waarin die evangelie kon wortel skiet. In die teologie praat ons van die “volheid van die tyd” – in die spreektaal noem ons dit sommer op sy naam: God se perfekte tydsberekening!

Daar word gewoonlik so 6 faktore uitgelig as daar oor die volheid van die tyd gepraat word. Ek het dit onlangs met ‘n groepie studente bespreek en toe dog ek ek deel dit sommer ook met jou:

1         Tydperk van relatiewe vrede:

Rondom 27v.C. word die Romeinse republiek met ‘n keiserryk vervang. Dit lei tot eenheid tussen al die streke. Daar het relatiewe vrede geheers en staan as die “Pax Romana” bekend. Omdat mense nie oorlog gemaak het nie, en hulle fokus nie net daarop gerig was om te oorleef nie, kon hulle aan die dieper vrae van die lewe aandag skenk. Die evangelie het op hierdie behoefte ingespeel.

2         Een wêreldtaal:

In die tyd van die Grieke wou Aleksander die Grote die Ooste en die Weste met mekaar verbind. Hy het ‘n helleniseringsbeleid van stapel gestuur wat bepaal het dat Grieks die wêreldtaal sou word wat almal saambind. Hy was uiters suksesvol hierin, tot so ‘n mate dat toe die Romeine die Grieke oorgeneem het, Grieks die wêreldtaal gebly het. Omdat daar een wêreldtaal was, het dit die kommunikering van die evangelie aansienlik vergemaklik.

3         Sinagoges in die “buiteland”:

Die diaspora het die Jode letterlik die hele wye wêreld ingeskiet. Die interessante is dat nie al die Jode na afloop van die Persiese oorheersing na die beloofde land teruggekeer het nie. Baie het besighede begin en gevestig geraak in die “buiteland”. Om die waarheid te sê was daar teen die tyd toe die Nuwe Testament afspeel, meer Jode buite Palestina as daarbinne. Hierdie faktor het ‘n geweldige groot voet in die deur vir die evangelie gegee. Jy kon na letterlik enige bekende wêrelddeel reis en jy sou daar ‘n sinagoge vind waarin jy ‘n aanknopingsgesprek kon begin.

4         Ekonomiese blomtyd:

Die vreedsame “Pax Romana”-tydperk het nuwe moontlikhede vir ekonomiese groei geskep. In hierdie tyd was daar ‘n letterlike vergestalting  van die uitdrukking “alle paaie lei na Rome”. Die Romeine het baie geld spandeer om goeie handelsroetes na Rome te skep en daar was gereelde skeepsreise onderneem na die hawestede van die bekende wêreld. Dit was ‘n blomtyd vir handeldryf. Maar die vestiging van ‘n vervoernetwerk en die beveiliging van die antieke hoofweë, het ook beteken dat gewone burgers met groter gemak en sekuriteit kon reis – wat op sy beurt die verspreiding van die evangelie aangehelp het.

5         Filosofies arm:

Teen die tyd wat die Nuwe Testament op die wêreldtoneel gekom het, was die leeftyd van die vernaamste filosofiese skole uitgedien. Nie Platonisme, Cynisme, Epikurisme, of Stoïsisme was meer so populêr soos aanvanklik nie. Dit het nie vir mense die antwoorde gebied waarop almal gehoop het nie. Gevolglik was die mense honger vir nuwe perspektiewe op hul werklikheid. Die evangelie het op die vrae van mense vars antwoorde gebied.

6         Morele verval:

Hoewel die eerste eeu na Christus gekenmerk word aan groot vooruitgang op ekonomiese vlak en die uitbreiding van die vervoer- en handelsindustrie, het die teenoorgestelde op morele vlak gebeur. Dit was ‘n tydperk van agteruitgang en verval. Dit was asof die antieke mitologie nie meer vir die mense voldoende was nie.  Die “Iliad & Odyssea” is sprekend van hoe vrot van die sonde die mitologiese gode was. Die gode was beter sondaars as die mense! Hulle was alles behalwe navolgenswaardig. Met sulke gode was daar geen hoop vir die mens nie. Gevolglik was daar ‘n morele verval wat saam met ‘n godsdienstige onsekerheid gepaard gegaan het. Die nuus oor die lewe van Jesus was soos ‘n vars briesie wat mense beetgepak en geïnspireer het.

Hoe lyk ons samelewing vandag?

As ons na die faktore kyk wat die verspreiding van die evangelie meegehelp het, kan ek nie help om raak te sien dat so baie daarvan in vandag se tyd weer voor ons oë afspeel nie.

1.)   Relatiewe vrede:

Waarskynlik meer as ooit, soek ons geslag na die sin van die lewe.

Ons leef ook in ‘n tyd van relatiewe vrede. Ja, jy kan vir my van Boko Haram opnoem en ‘n paar oorloë in die Midde Ooste. Jy kan selfs aanvoer dat ons met al die geweld in Suid Afrika, vir ons lewens “vrees”. Maar die feit is dat ek en jy met ons normale dag tot dag take kan aangaan sonder om iemand anders daarvoor dood te maak. Ons is nie in ‘n wêreldoorlog gewikkel waar ons elke dag net moet probeer oorleef nie. Ons vra vrae oor die dieper dinge van die lewe. Waarskynlik meer as ooit, soek ons geslag na die sin van die lewe.

2.)   “Global village”:

Daar was drie dinge wat die bekende antieke wêreld “gekrimp” het: dit was die totstandkoming van een wêreldtaal, al die sinagoges in die buiteland wat ‘n reuse platform geskep het, en ‘n veilige gevestigde vervoerinfrastruktuur. Waar dit voorheen ondenkbaar was om in ‘n ander wêrelddeel ‘n bestaan te maak, was dit skielik nou ‘n wesenlike opsie.

Die bekende wêreld het sedert die eerste eeu groter geword – in die sin dat nuwe wêrelddele ontdek is. Maar dit het gelukkig ook intussen weer kleiner geword – tot die mate dat ons deesdae van ‘n “global village” praat. Jy kan vandag op ‘n vliegtuig klim en more op ‘n ander uithoek van die aarde afklim. Maatskappye verplaas hulle werkers letterlik die wêreld vol. Jy kan aan die mees afgesonderde samelewing dink, en tog sal jy ‘n lewendige Expat gemeenskap daar vind. Daar is ‘n paar wêreldtale wat groot aftrek kry. Met Frans, Russies of Mandaryns kan jy met biljoene mense praat. Wanneer mens nog die internet ook in hierdie mengsel in berekening bring, besef jy dat mens net met Engels enige gehoor in die hele wêreld kan bereik. Die internet het ons bekende wêreld vir altyd “gekrimp” en as’t ware “naby” gebring.

3.)   ‘n Spirituele soeke:

Ook in hierdie verband het die een en twintigste eeu raakpunte met die eerste eeu. Ons het ook ongekende vooruitgang beleef. Om die waarheid te sê neem ontwikkeling in ons era eksponensieel toe. Tog beleef ons ook geweldige agteruitgang: Waardes verval en moraliteit word afgetakel. Materialisme byvoorbeeld laat mense onbevredig. Promiskue verhoudings los mense onvervuld. Die leefstyl van gejaagdheid bring mense (wanneer die wiele afval) op ‘n plek van ontnugtering. Die mensdom is opsoek na substans.

Die tragiek is dat niemand meer in die rigting van die kerk kyk vir antwoorde nie. Die “Kerk” het vir te lank mense koud gelaat. Soos wat Platonisme, Cynisme, Epikurisme, en Stoïsisme holrug gery geraak het, loop Christendom die gevaar om ook “uitgedien” te raak.

Sien jy die tragiese ironie? Gelyklopend met die geestelike hongerte van ons era, is daar ook ‘n ontnugtering in georganiseerde godsdiens. Daar is ‘n vloedgolf van mense met ‘n “I-am-spiritual-but-not-religious”-ingesteldheid. Die kritiek teen die Christendom is feller as ooit tevore. Veral vanuit die geledere van wat ons “Neo-ateïsme” noem.

die vormgodsdiensgod wat ateïste afmaak, wil ek ook nie iets mee te make hê nie.

Maar in so baie gevalle is die argumentering nie gemik teen God nie maar teen godsdiens. “Sondag-christene” het die saak van die evangelie behoorlik skade aangedoen. Dít is die mense wat verhouding met Jesus geëksternaliseer het tot ‘n uiterlike vormgodsdiens. Hulle het mense wat die reëls gebreek het of nie ingepas het nie, veroordeel en uitgestoot. Hulle het die hart van die evangelie verloor en dit bloot gereduseer tot ‘n lysie van moets en moenies. Die ateïste wat die god van vormgodsdiens verwerp, is inderdaad nader aan dit wat Jesus verkondig het as die propageerders van ‘n Christendom wat vrot is van wettisisme. Ja, die vormgodsdiensgod wat ateïste afmaak, wil ek ook nie iets mee te make hê nie.

Waar los dit ons?

Dit is asof almal weet dit is donker rondom ons, maar niemand weet waar om die lig aan te sit nie.

Maar die feit dat sommige Christene in die verlede met die verkondiging van die evangelie verbrou het, maak nie die boodskap van die evangelie vandag ongeldig nie. En die feit dat enige iemand met die “Kerk” deesdae kan fout vind, los nie ons huidige eksistensiële probleem op nie. Daar is nog steeds iets met ons samelewing verkeerd. Dit is asof almal weet dit is donker rondom ons, maar niemand weet waar om die lig aan te sit nie.

Daar is ‘n soeke na die spirituele. Geen wonder die boekwinkels se esoterika-afdeling is so gewild nie. Dit loop oor met spirituele selfhelpboeke wat die dors net tydelik les. Maar ‘n verhouding met Jesus het soveel meer om te bied as selfhelpriglyne.

Ek wil die vertroue uitspreek dat ons weer deur die goeie nuus van God se genade “gearresteer” kán en sál word – soos in die eerste eeu na Christus. Mag ons met Jesus deurdrenk word tot die mate dat Hý die diepste van ons binneste binnedring. Wanneer dit gebeur, wil ek vir jou sê, sal die evangelie weer soos ‘n veldbrand versprei. Al die eksterne faktore is absoluut ryp daarvoor!

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

No Comments

Be the first to start the conversation.

Leave a Reply