6 Merkers wat my van koers laat verander

November 10, 2013 — Leave a comment

Daar het groot verwikkelinge die afgelope tyd in my lewe plaasgevind. Reusagtig genoeg om die lewe wat ek tot nou toe nog geken het, vir altyd te verander.

Ek is nou amper 10 jaar in Dalpark gemeente. Dit is my eerste gemeente. Ek het hier begin. Ek is ontsettend gelukkig en baie lief vir die mense. Hoewel ek my hier kan uitleef, voel ek ook dikwels of Dalpark nie my laaste bedieningspunt gaan wees nie.

Dit is moeilik om die gevoel in woorde vas te vang: Die Here het my hier laat begin, maar dit voel nie vir my of Hy my hier gaan laat eindig nie. Daar is ‘n gedagte wat kort-kort in my agterkop opkom, en dit is dat ek eendag gaan skuif. Die afgelope ruk het die gedagte weer baie sterk in my geleef – tot so ‘n mate dat ek vir Lindie gesê het ek gaan nie nuwe spykers in die mure van ons pastorie slaan, om bykomende portrette op te hang nie. Dit is hoe “dringend” ek hierdie wete beleef dat ons gaan skuif.

Nuwe moontlikhede op die horison.

In hierdie tyd het ek toe ‘n naamlose sms van iemand ontvang wat vra dat ons aansoek doen vir die leraarspos in Witrivier NG Gemeente – die persoon dink ons pas die profiel. Aanvanklik het ek nie baie van dit gemaak nie. Eers het ek gewonder of dit nie dalk een van my eie lidmate is wat my net by Dalpark wil weghê nie :-). Maar die gedagte het op my gegroei en ek het besluit om tog aansoek te doen.

Ek was 4 keer tevore deur kerkrade op kortlyste geplaas sonder dat ek vir die betrokke vakature aansoek gedoen het. Ek het telkens gevra dat my naam liefs afgehaal moet word. In 10 jaar het ek nog net 2 kere self vir ‘n vakature aansoek gedoen. Die een keer was ek onsuksesvol en die ander keer het ek onttrek nadat ons ‘n miskraam gehad het en ek in Libië vir Bybelverspreiding gearresteer is. Hierdie keer het ek egter met die proses deurgedruk. Ons is genooi vir ‘n onderhoud en kort daarna het ons ‘n oproep ontvang waarin ons meegedeel is dat ons aansoek suksesvol was: Ons word beroep Witrivier toe!

Die proses werk so dat nadat ons die nuus gekry het, ons twee weke het om te antwoord. In hierdie tyd vra jy weereens dat die Here jou sal lei om die regte ding te doen, hetsy of dit is om die posisie te aanvaar of te verwerp.

Hoe weet ons wat is die Here se wil?

So hoe maak mens hierdie besluit? Hoe weet jy of die Here jou Witrivier toe roep of nie?

Wel, om mee te begin dink ek die Here gee mens baie vryheid. Hy gee ons keuses en laat ons tot ‘n baie groot mate toe om self te besluit wát ons met ons lewe wil doen, wáár ons dit wil doen en met wíe ons dit wil doen.

Solank as wat ons hartsbegeertes nie téén die beginsels ingaan wat ons in God se Woord kry nie, hoef ons nie skuldig te voel as ons dit as ‘n kompas gebruik in ons besluite nie. Ons moet net vir die gedagte pasop dat geluk altyd “elders” is: In die volgende dorp, in ‘n ander werk, onder nuwe omstandighede. Ons as kinders van die nuwe verbond, glo immers dat die seën van die Here nie op ‘n plek is nie, maar op ‘n persoon: Op óns! Óns is geseëndes van die Here.

Wat my eie hartsbegeertes betref, kan ek sê dat ek maklik vir nog 10 jaar in Dalpark sou kon werk met groot bevrediging. Maar ek is dikwels bekommerd daaroor dat ek nie genoeg ondervinding van ander kerkmodelle opdoen nie. My blootstelling is Dalpark en Dalpark alleen. Soms dors ek nogal na ‘n wyer ervaringsveld. Witrivier – so hoor ek – het ‘n gans ander kerkmodel. Dus sou ek baie by dit kon baat.

Ek voel ook soms dit is tyd dat ek as leier meer my vlerke sprei. Dit klink vir my of die vakature in Witrivier vir my die geleentheid gaan gee om as leier verder te ontwikkel.

“Roep” die Here nog?

Met dit gesê, dink ek nie dit beteken dat die Here niemand ooit meer vir ‘n bepaalde taak êrens heen “roep” nie. Ek dink die geskiedenis is vol voorbeelde van mense wat duidelik deur die Here vir ‘n bepaalde taak in ‘n bepaalde posisie geplaas is. Winston Churchill se rol in die tweede wêreldoorlog is altyd vir my sprekend hiervan.

Maar word ek op so ‘n manier vir so ‘n bepaalde taak Witrivier toe geroep? In my hart voel ek so, maar ek deins terug as ek hardop hierop moet antwoord. Dit voel vir my bietjie voorbarig om voor die tyd te sê “die Here roep my soontoe”. Ek dink mens sou so iets eerder met retrospek sê. Soos ek hoop mense terugskouend van my rol in Dalpark sou sê.

6 Merkers op die pad

So wat is die merkers wat ek inspan om hierdie groot besluit te maak? Daar is ‘n beeld waarmee ek dit sou wou verduidelik.

Ek weet nie of jy al ooit in ‘n sterk stroom water beland het nie? Mens sien mos duidelik in watter rigting die stroom loop en hoe dit alles en almal saamsleur. Miskien het jy al so iets beleef by ‘n waterpark waar daar ‘n glybaan is waar mense op binnebande in ‘n rigting ingeskiet word. Of miskien het jy al so iets beleef toe jy ‘n riviermond by die see wou oorsteek en jy gesien het hoe dryfhout en mense se plakkies verby jou gesleur word die see in. Of miskien het jy al in ‘n seestroom beland waar jy net voel hier vat hy my en dit is nie eens die moeite werd daarteen te baklei nie – jy moet maar net kalm bly en kyk waarheen die stroom jou vat.

Wel, dit is baie wat ek en Lindie beleef. Dit voel vir ons of ons in ‘n stroom is waar ons duidelik kan sien in watter rigting die Here ons instuur – en ook dat Hy alles en almal in die proses saamneem.

As ek vir jou ‘n paar merkers van hierdie stroom opnoem, sou dit die volgende wees:

“Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld”.(Dt 28:3)

  • #1 Skrif: Eerstens beleef ons vanuit die Skrif dat ons mag gaan. Mens weet mos wanneer ‘n teksgedeelte met jou praat. Om een of ander rede spreek Deut 28:3 in hiertdie tyd tot my en Lindie se harte.
  • #2 Eensgesindheid: Verder het ek en Lindie eensgesindheid in wat ons dink die Here se wil vir ons is. Ons is op presies dieselfde bladsy en beleef presies dieselfde gedagtes en emosies.
  • #3 Medegelowiges: Nie net is ek en Lindie op dieselfde bladsy nie, maar ook al die stemme in ons lewens vir wie ons lief is en respek het, sê vir ons “gaan”. Daar is letterlik nie een persoon wat vir ons waarsku of vir ons sê “pasop” nie. Dit sluit ons ouers in en selfs lidmate van Dalpark wat seggenskap in my lewe het. Dit voel soos ‘n stroom van bevestiging
  • #4 Vrede: Die vreemde is dat ek en Lindie intense vrede midde in al die onstuimige emosies beleef. Ons het nie antwoorde op al ons vrae nie – soos wat ons met ‘n dagmoeder vir ons kinders gaan doen nie – maar ons het vrede. Dieselfde soort vrede wat ons beleef het toe ek Libië toe moes gaan midde in die burgeroorlog.
  • #5 Opofferings: As iemand onder ander omstandighede vir my sou sê dat ek en Lindie Dalpark moes verlaat, ek my pos by die universiteit moes opgee, en Lindie haar werksekuriteit by Muriel Brand moes laat gaan, sou ek vir die persoon sê hy is mal. Dit is alles dinge wat baie kosbaar vir ons is. Tog is die aantrekkingskrag in ons harte vir hierdie onbekende plek genaamd “Witrivier”, so sterk dat die risiko vir ons die moeite werd klink. Die opoffering klink “reg”. Ek wil so ver gaan as om te sê dat dit vir twee analitiese mense soos ek en Lindie om so onlogies en irrasioneel te dink, bomenslik is.
  • #6 Voorsiening: Laastens voel dit ook soos ‘n stroom van bevestiging as ons sien hoe die Here om elke hoek en draai vir ons voorsien. Ek sou huiwerig gewees het as “gunstige omstandighede” die enigste merker was. Op sy eie beteken ‘n “oop deur” nie veel vir my nie. Maar omdat die ander merkers reeds so sterk voorop staan, is dit tog versterkend vir jou geloof om te sien as daar skielik ‘n ideale huurhuis beskikbaar word en beloftes van werk aan Lindie gemaak word. Ek sal oneerlik wees as ek nie erken dat mens nie die gedagte kry dat die Here vir ons die weg voorberei nie.

Alles en alles beleef ons met ander woorde of die Here ons in ‘n kragtige stroom meesleur – saamneem, en ons wil kies om in Hom te rus en Hom te vertrou om te sien waar Hy ons gaan uitbring.

Wat van Dalpark?

Ek wil waag om iets met jou te deel wat ek tot nou toe nog net met my kollegas gedeel het. Een oggend bid ek en vra ek vir die Here wat van Dalpark gaan word as ek weggaan. Miskien sou die menslike ding wees om te verwag dat Hy gaan sê “Alles gaan inmekaartuimel met jou weggaan” of “hulle sal nooit sonder jou kan klaarkom nie”. Maar terwyl ek bid sien ek skielik in my gedagtes ‘n sluis wat oopgaan en nuwe vars water in ‘n poel stilstaande water toelaat. Ek het dit verstaan dat my weggaan ook nuwe lewe vir Dalpark inhou.

Slotsom

Die kort en die lank van die storie? Ons het Witrivier geantwoord en gesê dat ons die beroep met ‘n heelhartige “ja” aanvaar. Hoewel ons die Dalparkers gaan mis, voel ons geroepe om vir ‘n volgende fase van my bediening in Witrivier te gaan dien.

Nati Stander

Posts Google+

Firmly anchored in the father heart of the Lord, the finished work of Jesus Christ & the full outpouring of the Holy Spirit.

No Comments

Be the first to start the conversation.

Leave a Reply