Archives For Ravings about my family

Ons jongste word vandag een jaar oud. So amptelik is hy seker van nou af nie meer my “babatjie” nie. Maar as ek so terugdink aan sy eerste lewensjaar, dan is daar een ding wat vir my uitstaan. Ek het iets by hom gesien wat opnuut ‘n waarheid van God vir my kom onderstreep het.

Die naam van God

Maar om vir jou te sê wat ek by hom geleer het, moet ek eers iets verduidelik oor die verskillende name van God. Soos jy weet, openbaar God Homself in die Bybel aan die hand van verskillende name. Op party plekke word Hy “Elohim” genoem. Op ander plekke “Jahwe-Ropheka”. Partykeer spreek mense Hom as “Jahwe-Shalom” aan. Ander kere as “Jahwe-Nissi”.

Dit is alles dieselfde God. Net verskillende name. Amper soos wat ons van Dawid sou kon sê dat hy ‘n herder is. Maar ook ‘n musikant, én ‘n seun én ‘n pa én ‘n koning én ‘n huweliksmaat. As een mens so veelkantig is en soveel rolle kan inneem, hoeveel te meer nie God nie? En dit is wat die verskillende name van die Here doen. Elkeen beeld ‘n ander sy van God uit.

Maar Paul – my babaseuntjie – het hierdie jaar die naam “El-Shaddai” opnuut vir my oopgebreek. El-Shaddai word gewoon as “God almagtig” vertaal, of net as “die Almagtige”.

Beteken “almagtig” wat ons dink dit beteken?

Maar nou moet ons pasop dat bekendheid met die term, ons verhoed om die betekenis daarvan te hoor. Ons is geneig om te dink dat “almagtig” beteken dat God enige iets kan doen. Daar is niks wat Hom inperk nie. Maar dit is nie wat die Skrif se gedagte agter daardie woord is nie.

Kom ons neem ‘n voorbeeld: Die Bybel sê dat God getrou is. Omdat God getrou is, kan Hy nie lieg nie. Doen God se onvermoë om níe te kan lieg nie, afbreek aan sy almagtigheid? Sou Hy méér almagtig gewees het, as Hy wel kon lieg? Beslis nie! Valsheid is immers swakheid.

God se “almag” verwys dus nie na ‘n soort vermoë wat Hy het om alles en enige iets te doen nie. Almag verwys eerder na die vermoë om sy Goddelike wil – wat altyd met sy Goddelike natuur in lyn is – tot uitvoer te bring.

‘n Dieper kyk na die woord “Shaddai”.

Hoewel die gedagte agter die woord “Shaddai” met krag verbandhou, het dit niks met geweld te make nie. Dit probeer eerder iets van “alles-genoegsaamheid” te kenne gee.

Sheddim

‘n Antieke afgod met verskeie borste.

Mens moet altyd versigtig wees om te veel van etimologie te maak. Maar ek dink tog dit kan ons in hierdie geval help as mens gaan kyk na waar die woord “shaddai” vandaan kom. In wese verwys “shaddai” na borste. Die woord “shad” word vertaal as “bors” – of meer spesifiek as ‘n vrou se bors.[1]

Dit lyk nie of hierdie konsep beperk was tot net die God van die verbondsvolk nie. Op party plekke sal die Hebreeuse Bybel ook na die “sheddim” verwys, as daar van afgode gepraat word. ‘n Baie letterlike vertaling van die woord “sheddim” sou jou by iets soos “veel-borstige-afgode” uitbring, maar in die Afrikaans word dit gelukkig net vertaal met “veldduiwels”.[2] Beide die argeologie en ook die kuns, bevestig vir ons dat dit nie vir heidene ongewoon was om hul afgode met verskeie borste uit te beeld nie.

Waar “sheddim” egter ‘n perversie van die afgodsdiens was, is El-Shaddai die ware gewer van lewe. Hy gee van Homself. En ons ontvang genade op genade.

Van die kop na die hart.

Bogenoemde is kopkennis. Totdat jy ‘n babatjie kry. Jong ouers sal weet waarvan ek praat. Jou babatjie is rusteloos. Hy steun en kreun. Dalk huil sy al tot so ‘n mate dat niks haar meer troos nie. Jy wil die babatjie voer, maar die gewone kos wat ons eet kan sy ook nie inneem nie. Die pa is al raadop. Daar is net een iets wat die kind tot rus kan bring: Die Ma se bors.

Die Ma se bors gee lewe. Dit verkwik. Dit vertroos. Aan haar bors het die Ma byna totale beheer oor haar kind. Dit klink soos ‘n paradoks, maar daar is niks wat soveel krag het, soos ‘n Ma nie.

Nee, God se almag maak nie van Hom iemand wat sy spiere bult en met geweld Hom aan alles vergryp wat Hy wil nie. Sy almag is ook nie ‘n towerstaf wat ek in gebed hied en gebied om myself uit die verknorsing te kry nie. God se almag lyk eerder soos die effek wat ‘n ma se bors op haar kind het.

Die een les wat ek hierdie jaar geleer het.

10413325_10153340191857008_3377183331573183676_nMale sonder tal het ek hierdie jaar gekyk terwyl my vrou ons babatjie borsvoed. In daardie oomblikke het hy nie nukke en grille nie. Alle weerstand verkrummel. Dit is ‘n prentjie van teerheid, versorging en sekuriteit, Totale rus en vrede daal op hom neer. In daardie prentjie het ek my eie verhouding met die Here gesien.

Menige keer het ek net na hulle gesit en kyk terwyl ek ‘n gebed prewel: “Voed my ook, Here. Verkwik my. U is vir my ‘alles-genoegsaam’. U is ‘El-Shaddai’.”

Jesaja 66:13
“Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel.”

 

 

[1] Kyk byvoorbeeld in hierdie verband na Ps 22:10 en die meervoud in Job 3:12

[2] Sien byvoorbeeld Deut 32:17

Jesus was my pinata

July 22, 2013 — 1 Comment

Gideon pinataEk het oor die naweek ‘n kinderpartytjie van ons peetkind bygewoon. Die bulletjie het twee jaar oud geword en dit was heerlik om daarin te deel.

By die partytjie was daar ‘n pinata wat vir groot opwinding gesorg het. Vir díe wat nie weet wat ‘n pinata is nie – dit is ‘n voorwerp wat van papier-maché gemaak is en met ‘n klomp lekkers gevul is. Gewoonlik is dit in die vorm van ‘n dier of ‘n bekende Disney karakter. Dit word met ‘n tou teen die dak vasgemaak sodat in die lug hang – en dan neem die kinders beurte om die pinata met ‘n stok te slaan. Dikwels is die kinders geblinddoek wat dit aansienlik moeiliker maak om die pinata stukkend te kry. Wanneer die pinata uiteindelik breek, val al die lekkergoed op die grond en die kinders skarrel om hulle sakke vol te stop.

Dit was nogal lekker om weer ‘n pinata te siene te kry. Toe ek ‘n kind was het ons in Amerika gebly en daar was dit algemeen by partytjies. Maar in Suid Afrika is dit nie iets wat jy elke dag sien nie.

Ek het die kinders gestaan en dophou en dit geniet om te sien hoe hulle die lekkernye stormloop toe die pinata uiteindelik breek en sy inhoud op die grond stort. Dit was op daardie oomblik wat ek weer ‘n “A-ha oomblik” vir myself beleef het. Die Skrif van Efesiërs 1:3 het in my gedagtes opgekom:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef 1:3 NAV)

Wat Paulus in vers 3 sê, is dat daar ‘n klomp geestelike seëninge in Jesus Christus saamgevat was. Sy dood aan die kruis het egter dít wat waar was van Hóm, waar gemaak van ons.

Sien weer in jou geestesoog die pinata wat breek en die lekkernye wat die vloer vol spat. Op ‘n soortgelyke manier was Christus se liggaam aan ‘n kruishout gebreek, en het dit ons in staat gestel om toegang te verkry tot al die geestelike seëninge wat in sy persoon opgesluit was. Paulus noem in die opvolgende verse nie minder as vyf verskillende soorte seëninge nie:

  • Ons het Jesus se heiligheid en onberispelikheid ontvang (1:4).
  • Ons het deur Jesus ook nou die Vader se kinders geword (1:5).
  • Ons het deur Christus se bloed, die volmaakte stand van verlossing en vergifnis ontvang (1:7).
  • Ons het ook nou (te danke aan Jesus) deel geword van God se volk (1:11).
  • Ons is deur die Heilige Gees, nes Jesus, as die eiendom van die Vader beseël (1:13).

Net soos kinders wat skarrel om hulle hande op die lekkergoed te kry, sien ek myself op hierdie geestelike seëninge afstorm om besit daarvan te neem en dit vir myself toe te eien. Ek bid: “Christus was my pinata. U is vir my gebreek. Wat opgesluit was in U, het myne geword.”

My Pa en boeke

May 20, 2013 — Leave a comment
2013-05-20_100304

Ek en my Pa in Egipte

Ek voel byna nostalgies want my pa is vandag 60 jaar oud. Ek is so uiters bevoorreg om juis hierdie man, my pa te mag noem. Op so ‘n dag kan ek nie help om te dink wie en wat ek in hierdie lewe sou wees sonder sy insette nie.

Ek kan baie dinge van my pa sê – soos hoe hy altyd dieselfde is. Wie hy by die universiteit in ‘n klaskamer, by die kerk op ‘n preekstoel of by ons huis rondom ‘n etenstafel is, is altyd eenders. Ek sou ook kon vertel van al die geleenthede wat hy my in die lewe gegee het. Soos toe hy my vir al die Love Southern Africa’s ingeskryf het. Ek sou ook kon vertel van hoe hy my Ma behandel. Soos dat hy vir haar blomme koop sonder dat hy iets verkeerd gedoen het. Ek sou ook kon vertel van al die gesprekke wat hy al met my gevoer het wat rigtinggewend in my lewe was. Soos daardie keer in 1999-2000 toe ek deur ‘n geloofskrisis gegaan het. Ek sou ook kon vertel wat dit aan my doen as ek sien hoe hy my kinders vashou, vir hulle drukkies gee en met hulle grappies maak.

Maar vandag trek my kop om een of ander rede na die invloed wat my pa op my uitgeoefen het, deur middel van boeke. As kind was ek tipies seun. Al wat belangrik was, was honde en gewere. Vir my pa was dit belangrik dat ek moes lees – iets wat op daardie stadium van my lewe baie vervelig gelyk het. Ons het menige kere vasgesit omdat ek nie genoeg gelees het nie.

Toe doen my pa ‘n slim ding. Hy gee vir my ‘n boek oor ‘n seun wat ‘n hond as ‘n geskenk kry, met al die avonture wat daaruit spruit. Die boek was getiteld “Present” deur H.J. Vermaas. Ek het die boek nou nog in my boekerak. Ek kry dit nie weggegooi nie. Dit was immers die eerste boek wat ek klaargelees het.

Direk hierna het my pa vir my “Valskermbataljon” deur Heinz G. Konsalik gegee om te lees. Hierdie boek is ook nog in my boekerak. Dit was die tweede boek wat ek klaargelees het.

Hierdie twee boeke het my ingelei in die nuwe wêreld van lees. Kort hierna het ek ernstig oor my verhouding met die Here geraak. Toe my pa dit sien, het hy vir my Charles Sheldon se “In His Steps” gegee om te lees. Dit was lewensveranderend vir my. Ek wou ook Jesus nougeset volg.

Vandaar het my pa vir my boeke soos “The Prayer Factor” deur Sammy Tippit en “Prison To Praise” deur Merlin Carothers gegee, asook “He is There And He Is Not Silent” deur Francis Schaeffer – ja, my pa het Francis Schaeffer vir ‘n hoërskoolseun voorgeskryf! Van die ander boeke wat uit my pa se hand na my toe aangekom het, was “God se Smokkelaar” deur Broer Andrew en Viktor Frankl se vertaalde werk “Waarom Lewe Ek”.

Deesdae moet ek gereeld boeke wegmaak om plek te maak vir nuwes wat ek aankoop. Maar die boeke wat my pa vir my gegee het, kry ek nie weggegooi nie. Hy het altyd die perfekte boek vir die perfekte tyd van my lewe gegee – en dit het ‘n bepalende rol gespeel in wie ek vandag is.

Toe ek later in my studiejare met Calvinisme se “streepteologie” te make kry, het my pa vir my sy eie boekie “Die besonderse gawes van die Heilige Gees in die eerste vier eeue n.C.” in die hand gestop. Dit was die eerste keer ooit dat my pa een van sy eie boeke vir my voorgeskryf het – en ek was verbaas om die minste te sê. Ek het besef – en ek glo dit vandag nog – dat my pa deur daardie navorsingstuk die streepteologie van Calvinisme eiehandig die nek omgedraai het. Wie nog daarin glo, het definitief nog nie van my pa se boek kennis geneem nie (verskoon asseblief my skaamtelose trots in hierdie verband).

Toe ek met ‘n skok ontdek dat ek ‘n akademikus vir ‘n pa het, het ek uit my eie sy ander boeke gaan opsoek. Daar was so baie om vanuit te kies: “Gebruike en Gewoontes in die Bybel”, “Baptism in the early Church”, “God gee ons seks om te geniet” – goed, dit was bietjie “weird” om dáárdie een te lees en my pa te hoor praat . . .

Maar intussen het sy stroom van aanbevole werke nie opgehou nie. Ben Witherington se “Jesus Quest”, “Sounds of Wonder” deur Eddie Ensley en “Healing in the Early Church” deur Daunton-Fear. Sy verjaarsdaggeskenk aan my van twee jaar gelede, was “The Resurrection of Jesus” deur Michael Licona en hierdie jaar het hy vir my ‘n geskenkbewys by Augustine Bookroom gegee. Daarmee het ek die boek van Beale, “We Become What We Worship”, gekoop.

Daar is geweldig baie dinge van my pa wat aan my afgesmeer het: sy liefde vir die Patristiek (vroeë Kerk), sy waardering vir vroeg Christelike kuns – maar ‘n konstante dors na meer kennis is definitief ‘n liefde wat hý by my gekweek het.

Hy het my geleer om nie net die boeke te lees van die ouens met wie jy saamstem nie, maar ook van die ouens met wie jy verskil. Hy het my geleer om nie terug te deins vir die klassieke werke van groot outeurs en te dink dat dit te moeilik verstaanbaar is nie. Hy het my geleer dat jy gelyktydig ‘n akademikus en ‘n gelowige kan wees – dat wetenskap en geloof nie teenoor mekaar staan nie.

Kortom, deur ‘n liefde vir lees by my te wek, het my pa my geleer dink. Dit is een van sy vele blywende nalatenskappe in my lewe, en daarvoor sal ek hom altyd innig dankbaar wees.

Nostalgies

August 13, 2012 — Leave a comment

Ek het onlangs die langpad aangedurf om vir familie te gaan kuier. In die kar het een van Jak De Priester se cd’s gespeel. Hy sing oor die liefde, Brooklyn en Stellenbosch.

Sy musiek het my ver teruggeneem na dae toe ek en ‘n beautiful girl by Tukkies geswot het. Ons het saam op kampus geloop en oor ons toekoms gedroom. Ons het aan die einde van elke jaar saam in Brooklyn op die tapyt van Jakarandabloeisels nog ‘n jaar afgetel en bereken wanneer ons eendag sal kan trou.

Later het hierdie beautiful girl my beautiful bruid geword. Ons het wittebrood in Stellenbosch gehou. Ons was jonk. Ons was gesond. Die lewe was so mooi. Terwyl ek na Jak se musiek luister, soek ek daardie meisie. Sy sit nie meer langs my nie.

20120805_115533

Ek sien haar in die truspieëltjie. Deesdae – ‘n stuk of agt jaar later –  sit sy mos op die agterste sitplek – tussen ons twee seuntjies. As die pad vir hulle lank word moet hierdie Mamma naby wees om ‘n haas uit die hoed te ruk . . . hierdie Mamma . . . hierdie Pappa.

Partykeer prewel ek hierdie titels want dit voel nog baie onwerklik. Jikkels, ons het ‘n ver pad gekom sedert daardie dae van studenteliefde. “But, truth be told” ek ruil dit wat ek nou het vir niks in die lewe nie. Ek het twee seuns! En daardie girl in die truspieëltjie is vir my mooier as ooit!

Terwyl ek na Jak se musiek luister, dank ek die Here. My beker loop oor. Ja, ek weet ek raak nostalgies. Maar dit is meer as net ‘n sentimentele oomblik. Ek wil soos die Psalmdigter innig uit my hart uitroep: “‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps 16:6)