Archives For Relationship with Jesus

Die brande in Knysna het ‘n blik wurms oopgemaak. Hoekom laat die Here nie net ‘n bui reën oor die gebied uitsak nie? Dit is mos nou reënseisoen! En as Hy nie dít wil doen nie, hoekom laat Hy nie ten minste net die wind ophou waai nie? Dit alleen sou al baie help…

Continue Reading...

Ek het onlangs ‘n baie interessante ervaring gehad, Ek het by ‘n boer ‘n paar jong avokadopeerboompies vir ons lappie grond hier in die Laeveld gekoop. Mens kry verskillende soorte avo’s – en elke soort dra op ‘n ander tyd van die jaar sy vrug. Omdat ons hele gesin gek is oor avo’s, het ek toe sommer 4 verskillende soorte boompies gekoop. Die idee is dat ons dan heel jaar kan avo’s eet. Dit is nou vir jou ‘n rein gedagte!

Omdat ek geweet het my seuns gaan vir my vra wanneer die boompies gaan vrug dra, het ek die boer se kennis so bietjie getap. “Wanneer ek kan verwag om die eerste avo’s te pluk?“, wou ek weet. Sy antwoord het my verbaas…

Die kleefband wat die "sagte-ent" in plek hou.

Die kleefband wat die “sagte-ent” in plek hou.

Jy sal hierdie jaar nog die eerste bloeisels sien. Maar jy moet dit dadelik afbreek. Die boom mag nog nie nou al vrug dra nie.“, was sy antwoord. Ek was onseker of ek reg verstaan. Ek koop dan die boom om avo’s te eet. Hoekom moet ek die bloeisels afbreek en die boom verhinder om vrug te dra?

Die boer het seker gesien ek lyk geskok, want hy buk toe af op sy knieë en wys vir my waar die boom ge-ënt is. Ek het nie eers gesien dat die jong takkies nie eintlik die boom se eie is nie. Onder op die stam is daar iets soos kleefband wat die ent in plek hou. Die boer verduidelik toe verder: “As die boom te vinnig vrug dra, skeur dit uit die ent. Jy moenie ‘n ‘sagte-ent’ te vinnig druk vir vrugte nie. Gee hom ‘n seisoen of wat om eers sterk te word. Wees geduldig. As die ent eers sterk is, gaan hy vir jou lekker avo’s gee.”

Daar was iets in die boer se besorgdheid oor sy boompie wat my laat dink het aan Jesus se gelykenis oor die tuinier wat ook so vir ‘n vyeboom in die bres getreë het.

Die “siklus van genade”

Maar die gesprek met die boer het my ook laat dink aan iets wat bekendstaan as die “siklus van genade“. Hierdie konsep is destyds die eerste keer deur Emil Brunner en Frank Lake verwoord. Brunner die teoloog en Lake die sielkundige, wou koppe bymekaarsit om uit te vind waarom daar so ‘n groot getal sendelinge is wat die bediening verlaat. Hulle wou kyk of daar nie ‘n model in die lewe van Jesus te vinde was, wat hulle kon gebruik om geestelike stamina te kweek nie. Wat hulle gevind het, het sedertdien duisende gelowiges se lewens verander…

2016-10-26_072800

Die siklus bestaan uit ‘n dinamiese fase van insette en uitsette. Aan die kant van die dinamiese insette, is daar ‘n stasie van aanvaarding en dan ‘n stasie van onderhouding (sustenance). Dit word gevolg deur die dinamiese uitset fase wat weer op sy beurt uit ‘n stasie van betekenisvolheid en ‘n stasie van prestasie bestaan.

Emil Brunner en Frank Lake het betoog dat Jesus se lewe volkome in balans tussen insette en uitsette was – en daarom kon Hy volhoubaar sy roeping uitleef en bedien:

  1. Aanvaarding (acceptance): Jesus se bediening ontspring uit wat die Vader oor hom sê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt 3:17). Alles wie Jesus is en wat Hy doen, spruit voort uit hierdie goedkeuring en aanvaarding van die Vader.
  2. Onderhouding (sustenance): Die feit dat die Vader so oor Jesus voel, was nie genoeg nie. Jesus moes dit ook sy eie maak. Hy moes die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader geniet. Hy het dit op etlike maniere gedoen. Een daarvan was om byvoorbeeld tyd in gebed te spandeer. Die punt is dat Jesus Homself aanhou voer het met die Vader se goedkeuring. Dit het Hom onderhou.
  3. Betekenis (significance): Jesus se selfwaarde was geheel en al gebasseer op wat die Vader van Hom sê. Sy identiteit was nie opgesluit in sy “doing” nie, maar in sy “being“. Gevolglik sien ons dat Jesus gelukkig is Homself te wees. Hy is vry om net te wees. Al Jesus se “Ek is-uitsprake“, rus op wie die Vader sê Jesus is.
  4. Prestasie (achievement): Jesus was deurgaans bewus daarvan dat die Vader ‘n spesifieke taak vir Hom het. Vergelyk byvoorbeeld die sendingmotief in die evangelie van Johannes. Toe Jesus  die taak op die kruis afhandel, roep Hy uit “dit is volbring!

Die reuse probleem waarmee ons sit!

Die probleem waarmee ons sit, is dat ons alles agterstevoor doen! Ons leef in ‘n wêreld wat vir ons sê dat jy eers moet presteer om iemand betekenisvol te wees. En as jy dit kan onderhou (of volhoubaar doen) dan eers word jy aanvaarbaar vir die samelewing, jou vriende, jou lewensmaat en vir God.

2016-10-26_073128

Die probleem hiermee is dat ons eintlik bankrot is. Dit is nie vir ons ooit moontlik om op ‘n plek van aanvaarding uit te kom as ons dit wil bou op ons prestasie nie! Wat nog van volhoubaar presteer!

Verkeerde teologiese klem.

Die probleem waarmee ons sit, is dat moralistiese prediking altyd op prestasie fokus: “Jy moet vrug dra!” Maar ons kan nie vrug dra as ons nie behoorlik geënt is nie. Wanneer ons imperatief belangriker word as ons indikatief, sit ons met ‘n skeeftrekking van die evangelie.

Ter wille van deeglikheid moet ek dalk ook net sê dat dit vir Jesus ondenkbaar sou wees dat sy Vader se aanvaarding van Hom, nie sou uitloop op ‘n spesifieke uitset nie. Op ‘n soortgelyke wyse sou ons in die verkondiging van die evangelie faal as ons iemand se identiteit in Christus (en gevolglike aanvaarding van God) preek, sonder om ook te praat oor roeping nie.

Wanneer ons God se goedkeuring preek sonder om iets oor die eise van dissipelskap te sê, sit jy met Bonhoeffer se “goedkoop genade“. Beide kante van die munstuk is dus belangrik, maar die volgorde maak op die ou einde die kritiese verskil tussen ‘n foutiewe en ‘n korrekte verstaan van die evangelie.

Waarom sukkel ons met vrug dra?

Kom ons keer nou terug na die probleem waarom mense sukkel om vrug te dra in hul verhouding met die Here. ‘n Tipiese fout wat ons oorkom is om te dink dat om vrug te dra, binne my invloedsfeer lê. Ek moet dit voortbring. Ek is verantwoordelik daarvoor.

Dus, as ek sukkel om byvoorbeeld geduldig te wees, dan moet ek net harder probeer. Ek moet meer daaraan werk. Ek moet groter wilskrag uitoefen. Wat ons vergeet is dat geduld deel is van die vrug van die Gees.

Nou, as iemand nie die gawe van genesing manifesteer nie, gaan niemand vir die persoon sê “Jy moet net harder probeer nie“. Ons sal sê dat ons die Heilige Gees moet vertrou. Hy sal die gawes laat manifesteer soos wat Hy wil, wanneer Hy wil. Mens kan dit nie – en moet dit nie – kunsmatig probeer naboots nie.

Ons is dus heel gemaklik daarmee om te sê dat die Heilige Gees verantwoordelik is om die gawes van die Gees voort te bring. Waarom sou ons dink dat ons verantwoordelik is om die vrug van die Gees voort te bring? Vrug “van die Gees” impliseer immers dit is van die Gees afkomstig.

Ons moet wees soos ‘n tak wat in ‘n boom ge-ënt is en mettertyd die vrug van die boom voortbring. Maar eintlik het Jesus dit al vir ons verduidelik: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie” (Joh 15:4)

Sien jy hoekom dit so gevaarlik is om net die eindproduk van “vrug” te beklemtoon? Ons dink daar is ‘n probleem met die eindpunt, terwyl die probleem eintlik by die beginpunt lê. Ons spreek ‘n simptoom aan, terwyl ons eintlik moet fokus op die oorprong. Die indikatief is belangriker as die imperatief.

‘n Beter manier!

As jy dus iemand is wat gefrustreerd is met hoe min vrug jy in jou verhouding met die Here dra, moenie langer fokus op die prestasiestasie nie. Spandeer tyd in die aanvaardingstasie. Vind by die Here uit wie jy in Christus is. Rus in sy volkome aanvaarding van jou. Maak jou nuwe identiteit waarlik jou eie. En leef dan vanuit jou identiteit in Christus.

Voel jy dalk op die oomblik oorweldig? Wel, hoewel ons tans met verlof by die see is, moes ek net gou die tyd neem om hierdie insident met jou te deel:

Die lewe het vir my makliker geword sedert ek …

in waarheid leef, en nie meer hoef te onthou wat ek gelieg het nie
eenvoudig leef, en nie meer ander hoef te probeer beïndruk nie
deel is van die oplossing, en nie van die probleem nie
eerder sê waarvóór ek is, pleks van waartéén ek is
mense met foute intrek, en nie uitsluit nie

dit is vir my lekkerder …

om te dien, as om selfgesentreerd te wees
om vrygewig te wees, as om inhalig te leef
om te versoen, as om aan te hou baklei
om te vergewe, as om wraak te neem
om te genees, as om seer te maak.

daar is vryheid daarin om …

selfontledigend te leef, in plaas van selfhandhawend
te gee, in plaas van om altyd net te wil ontvang
vrae te vra, sonder om al die antwoorde te ken
te glo, sonder om noodwendig te verstaan
broos te leef, in plaas van met brawade

dit maak my werklik gelukkig …

om nie vir God se goedkeuring te werk nie, maar in Jesus te rus
om te weet ek hoef nie nog te word, nie ek kan net wees
om gedring te word deur liefde, en nie deur skuld nie
om met God te praat, sonder om Hom te vrees
om nie meer te soek nie – ek is gevind!

YouVersionHet jy dit al ooit oorweeg om jou Bybel eerder op jou selfoon of tablet te lees? Vir die afgelope 3 jaar is dit hoe ek stiltetyd gehou het, en ek wil graag vir jou ‘n paar van die voordele opnoem. Continue Reading…

Daar het groot verwikkelinge die afgelope tyd in my lewe plaasgevind. Reusagtig genoeg om die lewe wat ek tot nou toe nog geken het, vir altyd te verander. Continue Reading…

MuisvalJy het waarskynlik ook met die gedagte groot geword dat jy by God die Vader in die “skuld” is vanweë jou sonde. Jesus het toe namens jou die “prys” daarvan betaal en jou sondeskuld by die Vader “gedelg”. Maar het jy geweet dat Christene vir lank eers geglo het dat die “betaling” nie aan God gemaak is nie, maar aan die Satan?

Ons is tans besig om die Christus Victor-teologie van die vroeë Kerk te bestudeer. Voor ons egter by die kritiese evaluering daarvan uitkom, is dit noodsaaklik om eers ‘n stukkie interessante agtergrondinligting te gee.

Dit is nodig dat ons ons sal vergewis van die “muisval-metafoor“… Augustinus het gesê: “crux muscipula diaboli” oftewel “die kruis is die strik vir die Duiwel”. Wat het hy hierdeur bedoel? Continue Reading…

Jesus was my pinata

July 22, 2013 — 1 Comment

Gideon pinataEk het oor die naweek ‘n kinderpartytjie van ons peetkind bygewoon. Die bulletjie het twee jaar oud geword en dit was heerlik om daarin te deel.

By die partytjie was daar ‘n pinata wat vir groot opwinding gesorg het. Vir díe wat nie weet wat ‘n pinata is nie – dit is ‘n voorwerp wat van papier-maché gemaak is en met ‘n klomp lekkers gevul is. Gewoonlik is dit in die vorm van ‘n dier of ‘n bekende Disney karakter. Dit word met ‘n tou teen die dak vasgemaak sodat in die lug hang – en dan neem die kinders beurte om die pinata met ‘n stok te slaan. Dikwels is die kinders geblinddoek wat dit aansienlik moeiliker maak om die pinata stukkend te kry. Wanneer die pinata uiteindelik breek, val al die lekkergoed op die grond en die kinders skarrel om hulle sakke vol te stop.

Dit was nogal lekker om weer ‘n pinata te siene te kry. Toe ek ‘n kind was het ons in Amerika gebly en daar was dit algemeen by partytjies. Maar in Suid Afrika is dit nie iets wat jy elke dag sien nie.

Ek het die kinders gestaan en dophou en dit geniet om te sien hoe hulle die lekkernye stormloop toe die pinata uiteindelik breek en sy inhoud op die grond stort. Dit was op daardie oomblik wat ek weer ‘n “A-ha oomblik” vir myself beleef het. Die Skrif van Efesiërs 1:3 het in my gedagtes opgekom:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef 1:3 NAV)

Wat Paulus in vers 3 sê, is dat daar ‘n klomp geestelike seëninge in Jesus Christus saamgevat was. Sy dood aan die kruis het egter dít wat waar was van Hóm, waar gemaak van ons.

Sien weer in jou geestesoog die pinata wat breek en die lekkernye wat die vloer vol spat. Op ‘n soortgelyke manier was Christus se liggaam aan ‘n kruishout gebreek, en het dit ons in staat gestel om toegang te verkry tot al die geestelike seëninge wat in sy persoon opgesluit was. Paulus noem in die opvolgende verse nie minder as vyf verskillende soorte seëninge nie:

  • Ons het Jesus se heiligheid en onberispelikheid ontvang (1:4).
  • Ons het deur Jesus ook nou die Vader se kinders geword (1:5).
  • Ons het deur Christus se bloed, die volmaakte stand van verlossing en vergifnis ontvang (1:7).
  • Ons het ook nou (te danke aan Jesus) deel geword van God se volk (1:11).
  • Ons is deur die Heilige Gees, nes Jesus, as die eiendom van die Vader beseël (1:13).

Net soos kinders wat skarrel om hulle hande op die lekkergoed te kry, sien ek myself op hierdie geestelike seëninge afstorm om besit daarvan te neem en dit vir myself toe te eien. Ek bid: “Christus was my pinata. U is vir my gebreek. Wat opgesluit was in U, het myne geword.”

Ek het onlangs die onderstaande ontvang en gedink dit is ‘n uiters goeie vraag wat ons gerus hier kan behandel:

Hi Nati, ek het n vraag. Ek lees so baie in die Bybel van die regverdige. Soos bv, Die Here sal die gebed van die regverdige verhoor. Soveel ander plekke word daar ook gepraat oor die regverdige. Wat is dit of hoe is dit om regverdig te wees?

Ek sou sê hierdie vraag het ‘n lang antwoord en ‘n kort antwoord. Die lang antwoord sou wees om te sê dat dit alles afhang van watter boek in die Bybel jy mee besig is. Verskillende Bybelse outeurs heg verskillende betekenisse aan die woord “regverdig” en mens sou elkeen kon gaan vergelyk en met mekaar opweeg. Dit sou egter ‘n vreeslike lang uiteensetting verg (wat eintlik onnodig vir ons doeleindes is).

justice-scaleDie kort antwoord wat ek dink ook heeltemal voldoende is, sou wees om die verskil te belig in die manier waarop die Ou en die Nuwe Testament die woord gebruik. In die Ou Testament verwys “regverdigheid” nie net na “onpartydigheid” nie, maar na jou doen en late oor die algemeen. Handhaaf jy met ander woorde deurgaans ‘n korrekte optrede in die praktyk. In die Ou Testament het jou “handel en wandel” jou stand voor God bepaal. Jou korrekte gedrag het gemaak of jy in God se oë “regverdig” of “onregverdig” was.

Die interessante is dat die Nuwe Testament die volgorde omdraai. Paulus sê: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor 5:21 Ou Vertaling). Die woord wat hier vir “geregtigheid” gebruik word, kom van die Griekse woord “dikaios” wat “regverdig” beteken.

Wanneer Paulus die woord “dikaios” gebruik, gaan dit nie vir hom oor jou korrekte optrede nie, maar oor jou nuwe stand voor die Here. Christus se “dikaios” – sy volmaakte stand voor die Vader – het joune geword.

En dit is hier waar die taal van die Ou en Nuwe Testament dan drasties anders begin klink: In die Ou Testament bepaal jou gedrag, jou stand. Volgens Paulus bepaal jou stand, jou gedrag. Volgens die Ou Testament moet die mens “reg” optree om deur God “regverdig” verklaar te word. Paulus sê omdat God jou reeds “regverdig” verklaar het, sal jy vanuit jou identiteit nou “reg” leef.

Dit is ‘n reuse aksentverskil. Die persoon wat hierdie onderskeid nie verstaan nie, sal altyd verlossing wil koppel aan jou werke. Die teendeel is egter ewe belangrik, ons nuwe stand voor die Here sal uitvloeisel vind in korrekte gedrag.

Om die kort antwoord (wat nou nie meer so kort lyk nie), af te sluit – Jy wil weet wat en hoe is dit om regverdig te wees: In Christus is jy presies dìt. As jy jou Bybel vanuit die perspektief van die kruis lees, dan kan jy elke keer waar daar van die “regverdige” gepraat word, jouself daarin raaksien – te danke aan Jesus se “dikaios” wat joune geword het. Jy is regverdig – nie oor wat jy doen nie – maar oor wat Jesus gedoen het!

Vir meer oor Paulus se opinie oor die verband tussen jou stand en jou gedrag, kan jy hier klik.

Picture1Op Kersdag wil ek een van Francis Schaeffer se treffende gedagtes met jou deel. Dit het betrekking op Maria se reaksie op die aankondiging van die engel.

Die konteks waarin Schaeffer oor Maria skryf, handel oor die gesindheid van “aktiewe-passiwiteit” wat in ‘n gelowige se verhouding met die Here moet wees – ‘n begrip wat vir die eerste keer deur Schaeffer bekend gemaak is. Dit is ‘n gedagte wat hy redelik aan die begin van sy boek “True Spirituality” beskryf, en dan herhaaldelik deur die loop van die boek daarna terugverwys. Dit is dus nogal ‘n belangrike konsep vir hom – en ek het self ook baie by dit gebaat.

Schaeffer begin deur die grootsheid van die engel se boodskap te benadruk: Daar word aangekondig dat Maria geboorte aan die langverwagte Messias gaan gee! Dit is ‘n unieke belofte en sal nooit weer herhaal word nie. Die tweede persoon van die Drie-eenheid sou ‘n vleeslike liggaam aanneem en in hierdie wêreld gebore word. Die omvang daarvan is verbysterend.

Maria se reaksie.

Maria is ‘n jong Joodse meisie. Sy is verlief op haar verloofde en opgewonde oor hulle toekoms. Toe sy hoor dat die Heilige Gees ‘n kind in haar gaan verwek, kon sy op een van verskeie maniere reageer:

  • Reaksie #1

Eerstens kon sy dit verwerp. Sy kon sê: “Ek het nie dit vir myself gekies nie. Ek aanvaar dit nie”. Sy kon besluit om haarself terug te trek. Sy kon haar rug op God draai en weghardloop. Ons sou haar nie eens kon blameer as sy sou kies om so te reageer nie. Dis sou baie menslik van haar wees om so op te tree.

  • Reaksie #2

Die tweede moontlike reaksie sou ewe menslik wees. Sy sou kon sê: “Wel, noudat ek die belofte ontvang het, sal ek al my kragte inspan om self die beloofde kind voort te bring.” Sy sou kon sê: “Ek besit die belofte – nou sal ek tot die beste van my vermoë, sonder ‘n man ‘n kind baar. Ek sal al my energie gebruik en uit myself hierdie belofte in vervulling laat gaan”. Maar met so ‘n reaksie sou sy nooit die Kind ontvang het nie. Sy is net so min as enige ander meisie in staat, om sonder ‘n man ‘n kind te baar.

  • Reaksie #3

Die derde opsie is die pragtige een. Sy neem ‘n besluit om haar liggaam in die hand van God te plaas – sodat Hy kan voortbring wat Hý gesê het Hy sal doen. En die gevolg is dat die Christus gebore word. Sy antwoord met die volgende woorde: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk 1:38 NAV).

Aan die een kant hardloop sy nie weg nie. En aan die ander kant probeer sy nie om Jesus self voort te bring nie. Daar is by haar ‘n “aktiewe-passiwiteit”. In reaksie op God se belofte, gee sy aktief haar liggaam aan Hom oor om passief in Hom te rus. Volgens Francis Schaeffer is dit die perfekte uitbeelding van hoe ‘n verhouding tussen God en mens moet lyk.

Maria as illustrasie van ons eie reaksie,

Die maagedlike geboorte is totaal uniek. Dit sal nooit weer plaasvind nie. Tog is Maria ook ‘n illustrasie van wat veronderstel is om elke dag met ons te gebeur. Ons is in dieselfde bootjie as wat sy is. Ons het ook ‘n belofte van die Here ontvang. Hy het ook aan ons belowe dat sy Gees, Christus in ons lewe totstand sal bring.

So min as wat ons egter onsself kan red, so min kan ons goeie werke wat God behaag, uit onsself voortbring. Tog kan ons ook nie ons aandeel as totaal passief beskou nie – asof ons geen rol hierin te speel het nie. Vir Christus om in ons lewe die vrug van die Gees voort te bring, sal daar by ons ‘n konstante (aktiewe) uitoefening van ons geloof moet wees. Daar moet by ons ‘n doelbewuste onderwerping aan die Here wees – ‘n besluit om in Hom te rus en Hom toe te laat om sy werk in ons tot uitvoer te bring.

Beoordeling van Schaeffer se gedagte.

Dit is nie jy wat vir Jesus moet leef nie, maar Hy wat deur jou moet leef.

Ek vind baie aanklank by hierdie gedagte van Schaeffer. Dit voel vir my dat die gelowige wat hierdie konsep verstaan, nie in wettisisme aan die een kant of “goedkoop-genade” aan die ander kant van die pendulum kán verval nie. Die dag as jy begin verstaan dat dit nie jy is wat vir God moet leef nie, maar Hý is wat deur jou moet leef, kan jy saam met Paulus uitroep: “…nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20 NAV).

Nes Maria kies ek vir ‘n “aktiewe-passiwiteit” in my eie verhouding met die Here. Ek wil jou uitnooi om saam te bely: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.