Archives For Rethinking scenarios

Die brande in Knysna het ‘n blik wurms oopgemaak. Hoekom laat die Here nie net ‘n bui reën oor die gebied uitsak nie? Dit is mos nou reënseisoen! En as Hy nie dít wil doen nie, hoekom laat Hy nie ten minste net die wind ophou waai nie? Dit alleen sou al baie help…

Continue Reading...

Dit is op enige gegewe tyd ‘n voorreg om in Amerika te kuier. Maar dit is ‘n unieke ervaring om in verkiesingstyd in die VSA te wees. Die spanning oor wat die resultate gaan oplewer is op almal se lippe.

hillary-clinton-donald-trump

Ek het byvoorbeeld vanmiddag in Fuller Theological Seminary se winkel geloop en kwyl oor al die boeke wat daar te sien is. Toe die verkoopsdame hoor ek kom van Suid Afrika, het sy onmiddelik verskoning gevra vir die politieke situasie van hulle land. Dieselfde het nou die dag op die vliegtuig gebeur. Die persoon langs my het uit haar eie gesê hoe skaam sy oor hulle twee presidentskandidate is.

‘n Traumatiese laagtepunt

Hierdie verkiesing is inderdaad ‘n laagtepunt in die geskiedenis van die Amerikaanse demokrasie. ‘n Politieke ontleder het byvoorbeeld op die nuus uitgelig hoe gans anders hierdie verkiesing se oploop as vorige jare s’n is. Vorige presidensiële kandidate het alles in die stryd gewerp om in die nuus te kom. Die ontleder sê dit is die eerste verkiesing waar dit presies andersom werk. As Trump in die nuus kom, styg Clinton se aanhang. Sodra Clinton in die nuus is, styg Trump se ondersteuning. Vir die eerste keer stem die Amerikaanse publiek nie vír ‘n kandidaat nie maar téén een.

Ek moet eerlik wees, nadat ek die Amerikaners se sirkus beleef het voel ek nou baie beter oor ons eie politieke penarie in my geliefde Suid Afrika.

amerikaanse-verkiesingDit lees regtig soos ‘n rillerstorie: Net wanneer jy dink dit kan nie slegter gaan nie, dan breek die volgende bom. Trump se uitlatings oor Islam is skaars koud, dan maak hy weer neerhalende opmerkings oor vrouens. Clinton se duistere verlede het skaars gaan lê of jy hoor die FBI heropen die ondersoek in haar epos-sage. Net sodat dit ‘n paar dae daarna weer teruggetrek word…

Dit is asof Trump en Clinton in ‘n maalkolk vasgevang is wat jou al laer en laer aftrek…

Die maalkolk van Rigters

Dit is juis hierdie prentjie van ‘n maalkolk wat my laat dink aan die boek Rigters wat mos handel oor Israel se leiers.

rigters1Die boek begin vol verwagting by Otniël. Maar dan volg dit ‘n afwaartse spiraal na Ehud, Debora en Barak, Gideon, Abimelek tot en met Jefta wat sy eie dogter offer.

In die boek se eerste twaalf hoofstukke, sien ons hoe Israel en haar “Rigters” telkens teleurstel. Ondanks die Here se genade oor sy volk, verval hulle net elke keer weer van vooraf in sonde.

Teen hoofstuk 13 het ons al so ‘n lae verwagting van wat kom, dat ons eintlik geskok is oor die bonatuurlike aankondiging van Simson se geboorte. Vir ‘n oomblik is dit asof jy moed skep: Dalk is hierdie die draaipunt! Gaan dit die redder wees wat God se volk eens en vir altyd verlos?

Maar die skrywer van die boek Rigters het net vir ons hoop gegee, sodat hy ons kan teleurstel. Hierdie kind wat as ‘n Nasireër vir die Here eenkant gesit moes word, breek elke reël in die boek en ontheilig die gelofte wat oor sy lewe uitgeroep is.

Die laagtepunt

Soos wat tyd verloop en die geskiedenis ontvou, versleg die volk se verbondsverhouding met die Here. Die laaste twee verhale in die boek mag jy net lees as jy ‘n sterk maag het. Want die verhaal oor die Leviet en sy byvrou en oor hoe die Benjaminiete vir hulle vrouens gekry het, is om van naar te word.

En dit is op hierdie lae noot wat die boek Rigters afsluit. Die laaste sin van die boek lui:”…elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (Rigters 21:25)

As jy die boek klaar lees, is daar ‘n frank smaak in jou mond. Dit is ‘n nasmaak van teleurstelling, onvervuldheid en hopeloosheid.

Die boodskap van Rigters

Die boek Rigters probeer te kenne gee hoe gevaarlik dit is om jou op menslike leiers te verlaat. Israel se Rigters het voete van klei en niemand kon blywende redding en vrede vir God se volk bewerk nie.

Dit is ‘n boek met ‘n ernstige waarskuwing ook vir ons tyd: Die Amerikaners durf nie hulle vertroue in ‘n Trump of ‘n Clinton plaas nie . . . en ons mag ook nie heimlik dink dat ‘n politieke figuur of ‘n geestelike leier vir ons in Suid Afrika uitkoms sal bring nie. Jy sal teleurgesteld daarvan afkom!

Rigters het nie die laaste woord nie.

Hoewel die boek Rigters op ‘n laagtepunt eindig, is dit gelukkig nie die laaste woord op die onderwerp nie. Hoewel Rigters met ‘n onvervuldheid eindig, is dit net die einde van die boek, maar nie die einde van die storie nie. Die Nuwe Testament antwoord op Rigters se verlange na ‘n onwankelbare leier. Jesus is die standvastige een! Hy is die enigste een op wie ek en jy kan vertrou!

Dit is ‘n tydige waarskuwing in ‘n tyd wat beide Amerikaners en Suid Afrikaners na leiers gryp. Jy kan stem vir ‘n leier, maar jy skaar jou by Jesus. Kom ons plaas ons vertroue in Hom en ons gooi gewig agter dit wat Hy van ons vra.

 

 

 

 

 

Voel jy dalk op die oomblik oorweldig? Wel, hoewel ons tans met verlof by die see is, moes ek net gou die tyd neem om hierdie insident met jou te deel:

Gisteraand oppad terug van ‘n afspraak af, ry ek deur die middedorp huis toe. Ek het stadig gery. Die strate was stil en dit het liggies gereën – dit was nostalgiese weer.

Die groot trek

‘n Paar van die bokse wat ek al vir die groot trek kon opgaar.

Terwyl ek so ry, sien ek langs die pad ‘n reuse kartonboks. Dit was ‘n allermintige 2m x 1,5m boks wat perfek sou werk om ons skilderye in toe te draai.

Jy sien, vandat ek gehoor het dat ons die 18e Desember Witrivier toe trek, is ek besig om bokse bymekaar te maak! Een van die dinge waarmee ek in my gedagtes al ‘n geruime tyd mee stoei, is hoe ek al ons portrette gaan toedraai sodat dit nie in die trek skade kry nie – hierdie was die oplossing wat ek nodig gehad het. Om alles te kroon het hierdie boks nie eens reënskade opgedoen nie (dit het onder ‘n afdak reg voor een van die winkels gelê).

Ek het die kar gestop en met mening uitgeklim om my fonds op te eis. Die koerantpapiere wat daar rondom gelê het, het ek weggeskuif om by die waardevolle stukkie karton uit te kom. Ek het afgebuk en my hand na die boks uitgestrek…en toe verstar. Wat ek daar gesien het, het my yskoud laat word. Want daar onder die boks het ek ‘n verwese man gesien lê en slaap. Goed, ek erken: Ek het nie bloot gesien nie – ek het eers VREK GROOT GESKRIK en tóé gesien! Dit was glad nie wat ek verwag het nie.

Maar groter as die emosie van skrik was die gevoel van ontsteltenis… dieselfde boks wat ek wou gebruik om luukshede in toe te draai, was reeds in gebruik om in iemand anders se basiese behoeftes te voorsien. Dieselfde boks wat ek wou gebruik om íets van my huis in toe te draai, was iemand anders se héle huis. Skielik het die probleempies waarmee ek myself mee besig gehou het, baie klein en selfgerig gelyk.

Sou dit een van my laaste herinneringe aan my dorp wees voor ons vertrek? Miskien ‘n herinnering dat ek nie al die probleme kon oplos soos ek my 10 jaar terug voorgeneem het om te doen toe ons hier aangekom het nie? Miskien ‘n nugtere bewuswording dat ek ook nie al die probleme sal kan oplos waarheen ek vertrek nie? Mag dit in ieder geval ‘n herinnering wees om nie ‘n selfgerigte lewe te leef nie.

Daar het groot verwikkelinge die afgelope tyd in my lewe plaasgevind. Reusagtig genoeg om die lewe wat ek tot nou toe nog geken het, vir altyd te verander. Continue Reading…

My moeilikste preek ooit

September 23, 2013 — Leave a comment

Gister moes ek een van die moeilikste preke nog ooit gepreek het. In die amper 10 jaar wat ek nou predikant is, was daar al baie moeilike preke.

Ek dink byvoorbeeld aan die keer toe ek slegte nuus met my gemeente moes deel. Of die keer toe ek die allerpragtigste kleuter moes begrawe het. Of soos die keer toe ek net voordat ek begin preek, die persoon in die gehoor raakgesien het wat ek weet my verafsku.

Maar ek dink gister s’n was een van my moeilikste 5 nog ooit… Continue Reading…

Jesus was my pinata

July 22, 2013 — 1 Comment

Gideon pinataEk het oor die naweek ‘n kinderpartytjie van ons peetkind bygewoon. Die bulletjie het twee jaar oud geword en dit was heerlik om daarin te deel.

By die partytjie was daar ‘n pinata wat vir groot opwinding gesorg het. Vir díe wat nie weet wat ‘n pinata is nie – dit is ‘n voorwerp wat van papier-maché gemaak is en met ‘n klomp lekkers gevul is. Gewoonlik is dit in die vorm van ‘n dier of ‘n bekende Disney karakter. Dit word met ‘n tou teen die dak vasgemaak sodat in die lug hang – en dan neem die kinders beurte om die pinata met ‘n stok te slaan. Dikwels is die kinders geblinddoek wat dit aansienlik moeiliker maak om die pinata stukkend te kry. Wanneer die pinata uiteindelik breek, val al die lekkergoed op die grond en die kinders skarrel om hulle sakke vol te stop.

Dit was nogal lekker om weer ‘n pinata te siene te kry. Toe ek ‘n kind was het ons in Amerika gebly en daar was dit algemeen by partytjies. Maar in Suid Afrika is dit nie iets wat jy elke dag sien nie.

Ek het die kinders gestaan en dophou en dit geniet om te sien hoe hulle die lekkernye stormloop toe die pinata uiteindelik breek en sy inhoud op die grond stort. Dit was op daardie oomblik wat ek weer ‘n “A-ha oomblik” vir myself beleef het. Die Skrif van Efesiërs 1:3 het in my gedagtes opgekom:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef 1:3 NAV)

Wat Paulus in vers 3 sê, is dat daar ‘n klomp geestelike seëninge in Jesus Christus saamgevat was. Sy dood aan die kruis het egter dít wat waar was van Hóm, waar gemaak van ons.

Sien weer in jou geestesoog die pinata wat breek en die lekkernye wat die vloer vol spat. Op ‘n soortgelyke manier was Christus se liggaam aan ‘n kruishout gebreek, en het dit ons in staat gestel om toegang te verkry tot al die geestelike seëninge wat in sy persoon opgesluit was. Paulus noem in die opvolgende verse nie minder as vyf verskillende soorte seëninge nie:

  • Ons het Jesus se heiligheid en onberispelikheid ontvang (1:4).
  • Ons het deur Jesus ook nou die Vader se kinders geword (1:5).
  • Ons het deur Christus se bloed, die volmaakte stand van verlossing en vergifnis ontvang (1:7).
  • Ons het ook nou (te danke aan Jesus) deel geword van God se volk (1:11).
  • Ons is deur die Heilige Gees, nes Jesus, as die eiendom van die Vader beseël (1:13).

Net soos kinders wat skarrel om hulle hande op die lekkergoed te kry, sien ek myself op hierdie geestelike seëninge afstorm om besit daarvan te neem en dit vir myself toe te eien. Ek bid: “Christus was my pinata. U is vir my gebreek. Wat opgesluit was in U, het myne geword.”

Terapie van die teerpad

June 27, 2013 — 3 Comments

Daar is iets terapeuties aan die agt ure teerpad oppad Suidkus toe. Tussendeur die kinderliedjies wat in die kar blêr, kry mens kans om alles wat in jou gedagtes maal te besoek. Dalk is dit hoe mens spanning afwen:

 “…die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei A-hum…”

…Ek moet stadiger ry. Spoed veroorsaak ongelukke. Spoed en alkohol. Ek weet nie hoe ek AA met sy drankprobleem gaan help nie. Ek moet die ondersteuningsgroep op die been kry. Ek soek net ‘n oop aand om dit te doen. Hierdie werkers agterop die vragmotor moet vrek koud kry. Ek weet nie hoe breek mens die siklus van armoede nie. Dit lyk of hulle almal vriende is. Here, ek kry nie tyd vir pêlle nie. Ek kan sien Lindie is eensaam en het behoefte aan sinvolle verhoudings. Maar in die aande wanneer ander mense tipies kuier, het ek afsprake vir pastoraat. Ek moet reël dat ek vir BB in plaas van Woensdagaand eerder Dinsdagaand sien. Hulle gaan iets onbesonne aanvang. Here, is dit van my verkeerd om soms te wens dat ek iets anders geword het? Die bediening maak my seer – soos CC – maar ek het vergewe. Dit het regtig gehelp. Ek weet egter nie hoe ek DD gaan begelei om EE te vergewe nie. Ek kan sien die haat is besig om haar op te vreet…

“…Ons kyk na Haas das se nuuskas, vroegaand net na ses…”

…Ek dink die CMR personeel wat ek nou het is ‘n goeie span. Ons sal ‘n impak kan maak. Ek sal die geld mooi moet bestuur. Ek sal my dood skaam as ons finansies duik terwyl ek die hoof is. Ek moet nog by die trust vir fondse aansoek doen vir ons HIV-projek. Ek het so baie om nog van VIGS te leer. Ek doen nie genoeg om sosiale ongeregtighede in ons gemeenskap aan te spreek nie. Dit doen my getuienis skade. Ek wens ek was meer soos FF. Hy is vir my die toonbeeld van ‘n geloofwaardige predikant. Ek wou ook altyd soos hy, ‘n alternatiewe bedieningstyl hê. Ek het nooit gedink ek gaan in ‘n tadisionele predikantsrol vasval nie. Maar ek moet erken dat gewone huisbesoek al baie geleenthede vir my gegee het om die evangelie te deel. Soos daardie keer in Van Dyk Park . . . Van Dyk Park . . . ek kan nie glo GG het weer sy vrou geslaan nie. Ek kan my net voorstel hoe beangs die kinders in die kamer weggekruip het toe dit alles gebeur het. My kinders slaap nou lekker. Ek is so bly ek het seuns. Ek sal moet tyd opvang met hulle hierdie vakansie. Here, gee asseblief vir hulle goeie vrouens eendag. Ook vir Lindie se onthalwe . . . om oulike dogters te kan hê. Ek moet omkyk na my vrou. Ek bid te min vir my gesin. Ek bid te min…

“…Daar is vissies in die water, kyk hoe swem hul rond…”

…Ek kom ook te min by my sussie en haar gesin uit. Heeltemal te min. Dit is so goed sy het nie ‘n broer nie. Ek wonder hoekom het ek vanoggend gevoel ek moet vir haar bid. Ek het vir HH ook gebid. Ek weet nie wat sal ek doen as ek soos hulle ‘n kind moet begrawe nie. Ek sal mal word. Ons babatjie sou nou gebore word. Ek dink almal het al daarvan vergeet. Lindie het nie daarvan vergeet nie. Ek sien sy dink nog gereeld daaraan. Ons ander babatjie sou September twee geword het. Ek wonder wat gebeur fisiologies dat sekere mense miskrame kry en ander nie. Here, ek is so bly dat ek U vaderhart leer ken het. Meer as ooit tevore weet ek dat U nie kinders doodmaak nie. Ek dink die deursnee Christen dink baie oppervlakkig oor lyding. Ek wil nog eendag ‘n boek daaroor skryf. Maar eers moet ek Dachau besoek. Ek lees dat niemand oor lyding mag praat as hulle nog nie die konsentrasiekampe gesien het nie. Ek is bly ek en Lin het teen DSTV besluit en gekies om eerder te spaar sodat ons oor ‘n paar jaar met rugsakke deur Europa kan toer. Ek kan nie glo my seuntjie was weer in die hospitaal nie. Ek kan nie glo my hond is dood nie. Gelukkig was dit nie my seun nie…

“…Shakka-doem-shakka-doem-shakka-doem-da-ry. Muis is die sterkste een vir my…”

…Die hoofstuk met II het my lewe onherroeplik op ‘n ander koers gesit as wat ek vir myself sou kies. Ek sou dit egter weer so hanteer. Ek vertrou glad nie vir JJ nie. Ek is bly hy is nie my kollega nie. Gelukkig het die Here vir my nuwe geleenthede geskep. Ek is nogal teleurgesteld oor die paar Nuwe Testament studente wat opgeskop het. Ek hoop nie dit was omdat ek ‘n swak dosent was nie. Ek wil baie graag self ook verder studeer. Miskien my doktorsgraad oorsee doen. Maar ek sal nie die kinders kan alleen los nie. Ek kan ook nie sien hoe die werk in die gemeente vir ‘n paar maande kan stilstaan nie. Ek het ‘n paar berge om te verskuif as ek terugkom van verlof. Ek beter KK betyds kontak sodat ons genoeg mense vir die projekte kan mobiliseer. Ek wonder hoe lank my Oupa en Ouma nog sal leef. Ek kom ook te min by hulle uit. Hulle is amazing. Madiba is ook amazing. Ek het nog nie vandag nuus geluister nie – ek wonder of hy nog leef. Ek kan nie verstaan dat daar blankes is wat actually in “uhuru” glo nie. Die ANC maak droog – maar die regses ook. Mens moet versigtig wees wie en wat jy toelaat om jou te beïnvloed. Daar is darem niks so goed soos ‘n goeie teologiese boek nie. Ek dink die Kerk maak te min van die leer oor “double imputation”. Ons onderspeel ook die “Christus Victor“-tema. Ek wil nog ‘n VBO kursus oor die eskatologiese spanning in Pauliniese literatuur aanbied. Ek dink dit bied antwoorde vir baie van ons vrae oor lyding…

 “Wie weet waar Willie Wouter woon? Willie Wouter woon waar die weste winde waai…”

…Ek moet die kar weer diens as ek by die huis kom. Dit gaan ‘n paar rand kos. Ek maak nie genoeg geld nie. Ek moet ‘n manier vind om my inkomste aan te vul. Die kinders sal eendag wil gaan swot. Ek het nog nie eens ‘n huis gekoop nie. Ek moet sorg dat ek aan ‘n huis klaar afbetaal is as ek eendag aftree. Ek weet nie hoe ek met my pensioen gaan uitkom nie. Ek wil nie ‘n finansiële las vir my kinders wees as ek eendag oud is nie. Ek moet kan voorsiening maak soos wat my ouers gedoen het. Ek wonder hoe dit regtig met hulle gesondheid gaan. Ek dink nie Tannie LL gaan meer leef as ek terugkom nie. Dit was spesiaal om haar te groet. Ek is bevoorreg om sterfbeddens te mag beleef. Dankie daarvoor, Here. Ek kan sien dat U leef. Ek moet meer tyd met my familie spandeer. Niemand van die mense aan wie ek my tyd nou spandeer gaan my eendag besoek as ek bedlêend is nie. Ek is besig om vet te word. Ek dink my metabolisme verander. Ek oefen ook te min. As alles reg loop gaan ek volgende jaar die Ysterman doen. Ek wil dit opdra aan my pa want hy is my ysterman. Maar ek weet nie hoe ek alles gaan inpas nie. Ek gaan slaap te laat in die aande omdat ek mense se eposse probeer antwoord. Dan kan ek nie vroegoggend opstaan om nog te gaan hardloop nie. Ek besef nou ek moet nog MM, NN en OO antwoord…

“…Weet jy nie weet jy nie jy is’n tempel…”

…Here, ek wonder hoe lank U my nog in Dalpark gaan hou. Ek is regtig gelukkig hier. Ek dink ook nie ek sal elders weer sulke goeie kollegas kry nie. Maar ek stap sterk oppad na tien jaar toe. Dit is ‘n lang tyd. Ek wil nie hê dit moet lyk asof ek in ‘n groef verval nie. Ek wonder of Dalpark my ooit sal mis as ek ‘n beroep na elders aanvaar. Ek wonder of Dalpark vir my lief is. Ek weet PP sal baie bly wees as ek weggaan. QQ ook. Ek wens ek kon ‘n kans kry om my kant van die storie te vertel, maar ek mag nie uit ‘n spreekkamer praat nie. Ek dink nie die mense weet hoeveel ure ek insit en watter drama ek alles agter geslote deure moet aanhoor nie – soos die gesin met die molesteringsaak. Dit maak my naar. Ek wens ek kan daardie storie net vergeet. Ek voel soos ‘n ablik met gemors in. Hierdie vakansie moet ek daarvan ontslae raak. As iemand my seuns sou molesteer, sal ek wragtag in die versoeking wees om hom te skiet soos ek dit daardie keer in die polisie gesien het. Genade is ‘n moeilike ding. Ek werk nog baie selektief daarmee. Here, help my om dit te leef. Ek is so bly ek kan met my gesin met vakansie gaan. Ek kon nou êrens in ‘n tronk in Libië gesit het. Dankie dat U my bevry het, Here. Dit sal baie oortuiging kos voor ek weer op so ‘n uitreik gaan. U leef, Here. Maar ek kan sien hoekom party mense nie so dink nie. Daar is baie seer rondom ons…

“…Daar onder in die vlei, sit almal in ‘n ry, die brulpad-da is die leier van die koor…”

…Ek moet na die moesie op my rug laat kyk. Dit lyk sleg. Dit is nie goed dat RR se kanker versprei het nie. Ek weet nie wat ek sal doen as Lindie kanker sou kry nie. Ek sal nie kan aangaan as ek haar verloor nie. Ek is gek daaroor as sy haar hare dra soos wat sy dit vandag het. Here, help my asseblief dat ek nie my huwelik opmors nie. Ek beter vir SS’hulle betyds opvolg as ek terugkom. Ek dink nie ek is ‘n goeie berader nie. Dit voel nooit of ek slaag nie. Ek dink iemand soos TT is beter. Ek wonder of ander predikante ook nodig het dat hulle vrouens hulle moed inpraat. Ek wonder of ek depressie het. Ek voel al so lank so, dat ek nie seker is of dit abnormaal is en of almal maar so voel nie. Ek hoop nie UU pleeg selfmoord nie. Ek is baie bekommerd oor daardie gesin. Hulle sou daarby baat as hulle meer kerk bywoon. Miskien woon hulle nie eredienste by nie omdat hulle nie van my prediking hou nie. Ek het weer baie min terugvoer gekry oor my laaste reeks. Ek weet nie wat ek verkeerd doen nie. Die VV-gesin het wel begin inskakel. Hulle was kerklos. Wonderlik wat ‘n boodskap van genade doen. Ek moet nog my stemposboodskap op my selfoon verander om te sê dat ek met verlof is…

Ek het eendag geloop en op ‘n poel water afgekom.
Die poeletjie het vir my geskree:
“Fee-faai-fou-fam, ek is ‘n diep gevaarlike dam!
Jy moet pasop want ek sal vir jou vang!”
Stadig het ek my toon in die poeletjie gesit
en met ‘n skok agtergekom hoe vlak dit eintlik is.
Die poeletjie was toe al die tyd ‘n plassie!
Ek het net my kop geskud en weggeloop.
Maar die plassie het aangehou skree:
“Fee-faai-fou-fam, ek is ‘n diep gevaarlike dam!
Jy moet pasop want ek sal vir jou vang!”.

Daardie dag het ek besef dit is gevaarlik
as jy onkundig oor jou eie onkunde is.

“Real knowledge is to know the extent of one’s ignorance” ~ Confucius

Vandag dink ek aan ‘n bitter-soet tydperk van my lewe. Mens assosieer mos sekere tye van die jaar met sekere insidente van jou verlede. Dit is dan ook so vir my met Opstandingsondag, sedert sewe jaar gelede. Sewe jaar gelede het ek ‘n periode van felle kritiek in my bediening beleef. Gesiene dat dit so lank gelede was, kan ek dit seker waag om myself so bietjie bloot te stel en jou meer daarvan te vertel.

Agtergrond

Ek was op daardie stadium omtrent twee jaar in die bediening. My “nuutheid” in die gemeente het afgeloop en die wittebroodfase was verby. Tog het ek nog nie naby gevoel dat ek my voete al gevind het nie.

Ek was nog aan die uitpluis hoe om ‘n beroep te beoefen wat meer van my menswees vereis het as wat ek gedink het die geval gaan wees. Ek het ook nog nie ‘n styl van prediking ontdek wat goed by my persoonlikheid gepas het nie. Elke erediens was as’t ware ‘n eksperiment om te sien of ‘n spesifieke aanslag vir my sou werk. Ek het preke aangepak wat kwaai eksegeties van aard was. Ander was meer tematies. Party was instruktief, ander verhalend.

Van nature is my preke altyd meer lerend en minder emosioneel. Wanneer ek agtergekom het dat ek te veel op linkerbreinvoorkeure gefokus het, het ek weer na die ander kant toe geswaai en gepoog om ‘n erediens met ‘n sterker regterbrein-aanslag aan te bied. ‘n Emosie-gelaaide preek het egter altyd vir my persoonlikheid onnatuurlik en geforseerd gevoel. Die pendulum het van die een kant na die ander geswaai. Dit was ‘n soeke na balans tussen egtheid en effektiwiteit. Ek moet erken dat dit vandag nog iets is wat dit vir my voel ek mee sukkel.

Left-Brain-Right-Brain

My probleem

Prediking is welliswaar die kleinste deel van ‘n predikant se werk, maar dit is uiteraard die sigbaarste. Dikwels word dit dus ongelukkig die maatstaf waarmee mense jou meet of jy ‘n “goeie” of “slegte” predikant is.

Soos jy uit die voorafgaande hoor, was ek ook heeltemal daarvan bewus dat ek met hierdie belangrike komponent van my werk sukkel. Dit was nie asof mense wat dit kom aksentueer het, die probleem vir die eerste keer onder my aandag gebring het  nie. Inteendeel, dit het my probleem net vergroot. Hoe meer ek van my probleem bewus gemaak is, hoe meer het ek op my senuwees geword. Hoe meer senuweeagtig ek was, hoe meer geïnhibeerd het ek oorgekom. Hoe meer geïnhibeerd, hoe groter my onsekerheid en hoe minder my effektiwiteit. En so het ‘n bose siklus hom herhaal totdat ek op ‘n punt gekom het waar ek elke keer fisies naar van spanning geword het, voor ek moes preek (Ek kry eintlik skaam om hier te erken dat dit my só geraak het).

As ek vandag terugdink aan alles wat gebeur het, weet ek dat party van my kritici uit opregte besorgdheid met my gepraat het. Maar daar was definitief ander stemme wat dit geniet het om iets te hê waarmee hulle my kon kap, bloot omdat hulle nie van my gehou het nie. Vandag weet ek dat ek sommige van die kritiek verdien het. Maar ek weet ook dat ek nie alles verdien het nie. Baie van die woorde wat vir my gesê is, het ek al agter my gesit en vergeet, maar party van die sinne bly mens by.

Maar of dit in ‘n gees van “opbouende kritiek” was, of gebore is uit persoonlike vendetta’s, is eintlik irrelevant. Ek het toegelaat dat kritiek ‘n diep vrees in my binneste wek, wat uiteindelik my prediking gekniehalter het. Dit was tot Opstandingsondag sewe jaar gelede . . .

Die opstanding

Sewe jaar gelede was dit my beurt om op Opstandingsondag te preek – iets wat ek op daardie stadium (vanweë al die kritiek) na opgesien het om te doen. Soos ek vir die preek voorberei het, het die gedagte van ‘n opgestane Jesus – en die konsekwensies daarvan vir my – in my gebroei.

Nou moet ek sê, dat die opstanding van Jesus vir my ‘n geestelike bekoring ingehou het. Dit was (en is steeds) vir my ‘n uiters spesiale tyd van die Christelike jaar. Dalk omdat ek op ‘n stadium van my lewe nie in die liggaamlike opstanding van Jesus geglo het nie, het dit vir my ‘n krities belangrike punt geword om te bely.

Ek wens ek kan meer dramaties vertel wat volgende gebeur het, maar ek kan nie. Dit was as’t ware doodluiters. Ek het gelees hoe Paulus sê: “en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20 NAV). Op daardie oomblik was dit asof daar ‘n liggie vir my aangegaan het.

Ek wou nie meer deur wilskrag en aangeleerde tegnieke, probeer beter preek nie. Ek wou Jesus toelaat om dit deur my te doen. Ek het Paulus se woorde dat dit moontlik is dat Jesus deur jou kan leef, op sigwaarde geneem en geglo. As Jesus immers die dood oorwin het en vandag lewe, moes Hy op een of ander manier ‘n werklikheid in my lewe kon wees.

Daardie Sondag sewe jaar gelede het ek oor die Emmausgangers gepreek. Die preek was ‘n reuse sukses. Nie omdat mense daaroor gaande was nie, maar omdat ek vir die eerste keer in maande sonder die bewerasies voor ‘n gehoor kon optree. Die sukses was daarin dat my vrees oorwin was!

Dit was anders as enige van die talle ander kere wat ek vir die Here gevra het om my te help, te vervul, of te lei. Hierdie keer, het ek geglo, is dit Hýself wat deur my gaan leef.

Wees verseker, ek probeer nie hierdeur “rang trek” deur die indruk te skep dat dit Jesus self is wat gepreek het en dus was ek bo enige kritiek verhewe nie. Al my maniërismes, woordeskat, gebrekkige begrip en ander tekortkominge was natuurlik steeds aanwesig. Maar ek kon terugstaan en toelaat dat Jesus die vrees oorkom wat my vir so lank lamgelê het.

Opstandingsondag sewe jaar gelede was vir my ‘n waterskeidingsmoment. Vir die eerste keer in maande het ek gevoel daar is wind in my seile. Vir die eerste keer was daar vir my hoop dat ek dalk tóg eendag sal kan slaag.

Opstandingsondag het vir my ‘n dag geword wat my herinner dat Jesus nie net die dood oorwin het sodat ek eendag die ewige lewe kan beërwe nie, maar ook sodat ek reeds in hierdie lewe ‘n oorwinningslewe kan leef.

Ek wil nie maak asof ek nooit weer bang was om te preek nie. Die gedagte dat my prediking eintlik “nikswerd” is, het nog gereeld daarna by my opgekom. Soms sal die bewerasies my vandag nog voor ‘n erediens pak, en dan hoor ek weer in my gedagtes die woorde: “Jy is die slegste predikant wat hierdie gemeente nog ooit gehad het”. Dan moet ek myself weer vinnig voor ‘n erediens regruk en onthou om Jesus toe te laat om my eie onbevoegdheid, te oorwin. Om Jesus hierdie reg van toegang te gee, is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie maar ‘n aanhoudende proses.

Opsommend

As ek ‘n paar dinge kan uitlig sal dit die volgende wees: Eerstens moet ons onthou dat die kerk ‘n gebroke plek is. Dit kan ‘n wrede plek wees as jy nie oppas nie. Dit bestaan uit ‘n klomp mense wat seer het, en daarom dikwels seermaak. As jy in die kerk seerkry, moet jy altyd perspektief behou en nie dink dat “almal so is nie”. Dit is net so ‘n wrede veralgemening van jou kant. In dieselfde tyd wat ek gedink het “niemand” van my hou nie, het daar etlike mense vorendag gekom wat hulle waardering teenoor my uitgespreek het. Dit het my geweldig bemoedig. In dieselfde asem kan ek dus sê dat ek in hierdie tyd baie oor kritiek geleer het – naamlik dat mens jou nie te veel daaraan moet steur nie. Vir elke een stem van kritiek, het ek nege ander gevind wat wel by my aanklank gevind het. Mense wat kritiseer is net geneig om vinniger en harder te praat as hulle wat tevrede is, en gevolglik skep dit maklik by jou ‘n wanpersepsie van wat aan die gang is.

Met amper tien jaar se bedieningsondervinding agter die blad, is ek nou nog meer dankbaar teenoor my gemeente vir die kanse wat hulle my gegee het. Ek dink dit is prysenswaardig as enige werksplek – en veral ‘n kerk – ‘n onervare jongeling aanstel en toelaat om foute daar te kom maak. Daarom wil ek dus tweedens sê dat ‘n gemeente daarna moet streef om ‘n kultuur te hê waar daar geduldig met mekaar se foute gewerk word. Hoewel alle individue dalk nie ewe geduldig is nie, is dit die groepsetos wat van belang is.

Ek wil dit nie te hard sê nie want ek is bang dit lyk asof ek myself as voorbeeld voorhou, maar derdens wil ek deursettingsvermoë uitlig. Paulus se brief aan die jong Timoteus het so baie in hierdie tyd vir my beteken. Paulus sê: “Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee . . . Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien” (1 Tim 4:13-15 NAV). As hulle by Timoteus “vordering” moes kon sien, beteken dit dat hy nie eensklaps in sy prediking “gearriveer” het nie. Daar was ‘n stelselmatige verbetering. Ek is dikwels bekommerd oor die tempo waarteen jong predikante die bediening ontnugterd verlaat. Deursettingsvermoë is deesdae die stiefkind van ‘n kitskultuur. Dit is nie net jou prediking wat oor tyd heen geslyp word nie, maar ook die storie van ‘n gemeente. Moenie te vinnig hierop moed opgee nie. Dit geld ook vir mense wat nie noodwendig ‘n predikant is nie, maar elders deur die Here gebruik word. As die Here nie handdoek op jou ingegooi het nie, moet jy ook nie.

en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” ~ Paulus (Gal 2:20)

Laastens wil ek beklemtoon dat dit regtig moontlik is dat die opgestane Jesus, deur jou kan leef. Ons dink dikwels (verkeerdelik) dat die Christendom oor veranderde lewens handel – terwyl dit eintlik oor ‘n verruilde lewe gaan. Hou op om self te probeer. Staan terug. Plaas doelbewus jouself op die agtergrond en laat Jesus toe om dit wat jou gevange hou, te oorwin. Hierdie keuse wat jy uitoefen is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar ‘n lewenslange proses.

Dit is ‘n praktiese manier waarop die opgestane Christus ‘n werklikheid in jou lewe word. Dit het ek eerstehands sewe jaar terug op Opstandingsondag geleer.