Archives For Exegesis

25376-reading_bible-1200Daar is baie dinge in die Bybel wat ek nie verstaan nie. En toe lees ek onlangs nóg een raak.

“Wees inskiklik teenoor alle mense” Filippense 4:5

Jy sien, ek verstaan nie waarom die Bybel van gelowiges verwag om “inskiklik” te wees nie. Ek het verwag dat die Bybel iets anders van my sou verwag. Soos om onverbiddelik standpunt in te neem. Soos om sterk te staan en nie links of regs af te wyk van wat ek glo die regte ding is nie.

Ons is immers dapper Christenvegters, nie waar nie? Is ons nie veronderstel om sterk leiers te wees was vasbeslote voet by stuk moet kan hou nie? Om “inskiklik” te wees klink al te veel na om ‘n “push-over” te wees!

So, wat maak ek dan met hierdie oproep om “inskiklik” te wees? Continue Reading…

Ek het onlangs ‘n baie interessante ervaring gehad, Ek het by ‘n boer ‘n paar jong avokadopeerboompies vir ons lappie grond hier in die Laeveld gekoop. Mens kry verskillende soorte avo’s – en elke soort dra op ‘n ander tyd van die jaar sy vrug. Omdat ons hele gesin gek is oor avo’s, het ek toe sommer 4 verskillende soorte boompies gekoop. Die idee is dat ons dan heel jaar kan avo’s eet. Dit is nou vir jou ‘n rein gedagte!

Omdat ek geweet het my seuns gaan vir my vra wanneer die boompies gaan vrug dra, het ek die boer se kennis so bietjie getap. “Wanneer ek kan verwag om die eerste avo’s te pluk?“, wou ek weet. Sy antwoord het my verbaas…

Die kleefband wat die "sagte-ent" in plek hou.

Die kleefband wat die “sagte-ent” in plek hou.

Jy sal hierdie jaar nog die eerste bloeisels sien. Maar jy moet dit dadelik afbreek. Die boom mag nog nie nou al vrug dra nie.“, was sy antwoord. Ek was onseker of ek reg verstaan. Ek koop dan die boom om avo’s te eet. Hoekom moet ek die bloeisels afbreek en die boom verhinder om vrug te dra?

Die boer het seker gesien ek lyk geskok, want hy buk toe af op sy knieë en wys vir my waar die boom ge-ënt is. Ek het nie eers gesien dat die jong takkies nie eintlik die boom se eie is nie. Onder op die stam is daar iets soos kleefband wat die ent in plek hou. Die boer verduidelik toe verder: “As die boom te vinnig vrug dra, skeur dit uit die ent. Jy moenie ‘n ‘sagte-ent’ te vinnig druk vir vrugte nie. Gee hom ‘n seisoen of wat om eers sterk te word. Wees geduldig. As die ent eers sterk is, gaan hy vir jou lekker avo’s gee.”

Daar was iets in die boer se besorgdheid oor sy boompie wat my laat dink het aan Jesus se gelykenis oor die tuinier wat ook so vir ‘n vyeboom in die bres getreë het.

Die “siklus van genade”

Maar die gesprek met die boer het my ook laat dink aan iets wat bekendstaan as die “siklus van genade“. Hierdie konsep is destyds die eerste keer deur Emil Brunner en Frank Lake verwoord. Brunner die teoloog en Lake die sielkundige, wou koppe bymekaarsit om uit te vind waarom daar so ‘n groot getal sendelinge is wat die bediening verlaat. Hulle wou kyk of daar nie ‘n model in die lewe van Jesus te vinde was, wat hulle kon gebruik om geestelike stamina te kweek nie. Wat hulle gevind het, het sedertdien duisende gelowiges se lewens verander…

2016-10-26_072800

Die siklus bestaan uit ‘n dinamiese fase van insette en uitsette. Aan die kant van die dinamiese insette, is daar ‘n stasie van aanvaarding en dan ‘n stasie van onderhouding (sustenance). Dit word gevolg deur die dinamiese uitset fase wat weer op sy beurt uit ‘n stasie van betekenisvolheid en ‘n stasie van prestasie bestaan.

Emil Brunner en Frank Lake het betoog dat Jesus se lewe volkome in balans tussen insette en uitsette was – en daarom kon Hy volhoubaar sy roeping uitleef en bedien:

  1. Aanvaarding (acceptance): Jesus se bediening ontspring uit wat die Vader oor hom sê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt 3:17). Alles wie Jesus is en wat Hy doen, spruit voort uit hierdie goedkeuring en aanvaarding van die Vader.
  2. Onderhouding (sustenance): Die feit dat die Vader so oor Jesus voel, was nie genoeg nie. Jesus moes dit ook sy eie maak. Hy moes die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader geniet. Hy het dit op etlike maniere gedoen. Een daarvan was om byvoorbeeld tyd in gebed te spandeer. Die punt is dat Jesus Homself aanhou voer het met die Vader se goedkeuring. Dit het Hom onderhou.
  3. Betekenis (significance): Jesus se selfwaarde was geheel en al gebasseer op wat die Vader van Hom sê. Sy identiteit was nie opgesluit in sy “doing” nie, maar in sy “being“. Gevolglik sien ons dat Jesus gelukkig is Homself te wees. Hy is vry om net te wees. Al Jesus se “Ek is-uitsprake“, rus op wie die Vader sê Jesus is.
  4. Prestasie (achievement): Jesus was deurgaans bewus daarvan dat die Vader ‘n spesifieke taak vir Hom het. Vergelyk byvoorbeeld die sendingmotief in die evangelie van Johannes. Toe Jesus  die taak op die kruis afhandel, roep Hy uit “dit is volbring!

Die reuse probleem waarmee ons sit!

Die probleem waarmee ons sit, is dat ons alles agterstevoor doen! Ons leef in ‘n wêreld wat vir ons sê dat jy eers moet presteer om iemand betekenisvol te wees. En as jy dit kan onderhou (of volhoubaar doen) dan eers word jy aanvaarbaar vir die samelewing, jou vriende, jou lewensmaat en vir God.

2016-10-26_073128

Die probleem hiermee is dat ons eintlik bankrot is. Dit is nie vir ons ooit moontlik om op ‘n plek van aanvaarding uit te kom as ons dit wil bou op ons prestasie nie! Wat nog van volhoubaar presteer!

Verkeerde teologiese klem.

Die probleem waarmee ons sit, is dat moralistiese prediking altyd op prestasie fokus: “Jy moet vrug dra!” Maar ons kan nie vrug dra as ons nie behoorlik geënt is nie. Wanneer ons imperatief belangriker word as ons indikatief, sit ons met ‘n skeeftrekking van die evangelie.

Ter wille van deeglikheid moet ek dalk ook net sê dat dit vir Jesus ondenkbaar sou wees dat sy Vader se aanvaarding van Hom, nie sou uitloop op ‘n spesifieke uitset nie. Op ‘n soortgelyke wyse sou ons in die verkondiging van die evangelie faal as ons iemand se identiteit in Christus (en gevolglike aanvaarding van God) preek, sonder om ook te praat oor roeping nie.

Wanneer ons God se goedkeuring preek sonder om iets oor die eise van dissipelskap te sê, sit jy met Bonhoeffer se “goedkoop genade“. Beide kante van die munstuk is dus belangrik, maar die volgorde maak op die ou einde die kritiese verskil tussen ‘n foutiewe en ‘n korrekte verstaan van die evangelie.

Waarom sukkel ons met vrug dra?

Kom ons keer nou terug na die probleem waarom mense sukkel om vrug te dra in hul verhouding met die Here. ‘n Tipiese fout wat ons oorkom is om te dink dat om vrug te dra, binne my invloedsfeer lê. Ek moet dit voortbring. Ek is verantwoordelik daarvoor.

Dus, as ek sukkel om byvoorbeeld geduldig te wees, dan moet ek net harder probeer. Ek moet meer daaraan werk. Ek moet groter wilskrag uitoefen. Wat ons vergeet is dat geduld deel is van die vrug van die Gees.

Nou, as iemand nie die gawe van genesing manifesteer nie, gaan niemand vir die persoon sê “Jy moet net harder probeer nie“. Ons sal sê dat ons die Heilige Gees moet vertrou. Hy sal die gawes laat manifesteer soos wat Hy wil, wanneer Hy wil. Mens kan dit nie – en moet dit nie – kunsmatig probeer naboots nie.

Ons is dus heel gemaklik daarmee om te sê dat die Heilige Gees verantwoordelik is om die gawes van die Gees voort te bring. Waarom sou ons dink dat ons verantwoordelik is om die vrug van die Gees voort te bring? Vrug “van die Gees” impliseer immers dit is van die Gees afkomstig.

Ons moet wees soos ‘n tak wat in ‘n boom ge-ënt is en mettertyd die vrug van die boom voortbring. Maar eintlik het Jesus dit al vir ons verduidelik: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie” (Joh 15:4)

Sien jy hoekom dit so gevaarlik is om net die eindproduk van “vrug” te beklemtoon? Ons dink daar is ‘n probleem met die eindpunt, terwyl die probleem eintlik by die beginpunt lê. Ons spreek ‘n simptoom aan, terwyl ons eintlik moet fokus op die oorprong. Die indikatief is belangriker as die imperatief.

‘n Beter manier!

As jy dus iemand is wat gefrustreerd is met hoe min vrug jy in jou verhouding met die Here dra, moenie langer fokus op die prestasiestasie nie. Spandeer tyd in die aanvaardingstasie. Vind by die Here uit wie jy in Christus is. Rus in sy volkome aanvaarding van jou. Maak jou nuwe identiteit waarlik jou eie. En leef dan vanuit jou identiteit in Christus.

Wat is die beste manier om gelykenisse te verklaar? Wel, deur die eeue heen was daar verskeie maniere waarop die gelykenisse geïnterpreteer is. Eers was daar die benadering dat elke faset van die gelykenis simbolies verstaan moet word.

Omdat dit aanleiding tot te veel allegorie gegee het, het ‘n volgende benadering ontstaan waarin daar gesê is dat daar slegs een boodskap in ‘n gelykenis lê – en een alleen. Daar was egter gou gevind dat dit weer ‘n verskraling van die gelykenisse is.

‘n Derde benadering wat die middelgrond tussen die eerste twee uiterstes van die pendulum probeer vind het, is dat daar een boodskap per hoofkarakter in ‘n gelykenis te vinde is. Sedertdien het hierdie benadering die mees aanvaarde manier geword om gelykenisse te interpreteer.

Die afgelope kwartaal het ons gemeente ‘n reeks oor Jesus se gelykenisse aangebied. Soos wat ek vir die reeks voorberei het, is daar tog iets anders wat my oor die gelykenisse van Jesus opgeval het.

Dit is vir my opvallend dat Jesus telkens sy gelykenisse vertel na aanleiding van iets wat gebeur het of gesê is. Jesus het sy gelykenisse as ‘n soort medisyne vir spesifieke situasies aangebied. Om sy gelykenisse van hulle konteks te isoleer, gee myns insiens aanleiding tot ‘n verwronge interpretasie van die gelykenisse. Ek wil dus aanvoer dat die beste manier om gelykenisse te verklaar, die lees van die konteks is…

Voor die handliggende gevalle

In sommige voor die handliggende gevalle, gaan jy dadelik sien dat die gelykenis onlosmaaklik verbind is aan die konteks. Neem byvoorbeeld die gelykenis van die man wat sy vriend in die middel van die nag wakker klop (Luk 11:5). Natuurlik handel die gelykenis oor gebed, want Jesus het nog tot in vers 4 vir sy dissipels geleer hoe om die “Onse Vader” te bid. Sonder veel eksegese gaan jy weet dat die gelykenis oor die vriend in die nag, oor die vrymoedigheid handel wat ons in ons gebedslewens mag hê.

Minder voor die handliggende gevalle

parable-of-two-sonsMaar ander gelykenisse word van hulle konteks vervreem deur perikoopafbakenings, en gevolglik is hul betekenis minder voor die handliggend.

Neem byvoorbeeld die Pa met die 2 seuns (Matt 21:28). Die een seun sê hy sal in die wingerd gaan werk, maar doen dit nie. Die ander een sê hy wil dit nie doen nie, maar kry later spyt en doen dit tog.

Geïsoleerd gesien, word die gelykenis verkeerdelik geïnterpreteer as ‘n teenstelling tussen woorde en dade. Ons lees ons eie teologiese vrae – naamlik die verband tussen geloof en werke – in die gelykenis in, terwyl Jesus glad nie besig was om hier kant te kies tussen Katolieke en Protestante nie.

Die konteks van die gelykenis wys ons egter dat Jesus die gelykenis by die tempel vertel het en dat die priesterhoofde en familiehoofde sy gehoor was. Die daaropvolgende 3 gelykenisse word op mekaar gestapel om hulle te bereik.

Die gelykenis oor die Pa met twee seuns handel dus oor die geveinsdheid van skeinheilige godsdienstige leiers – mense wat met hulle lippe al die regte klanke gemaak het. Daarteenoor was die prostitute en die tollenaars – mense wat uit die staanspoor gesê het dat hulle nie kans sien om God te behaag nie. Maar wat namate hulle Jesus leer ken het, hulle toe ook na God bekeer het.

As ons die konteks hier in ag sou neem, sou ons dus nie in die slaggat trap om ‘n valse spanning tussen woorde en dade te skets nie. Beide is ewe belangrik vir die Here. Dit gaan in hierde gelykenis oor skeinheiligheid.

Nog ‘n goeie voorbeeld

hultgrenNog ‘n goeie voorbeeld oor hoe belangrik die konteks is om die betekenis van die gelykenisse oop te sluit, vind ons in die gelykenis oor die onvrugbare vyeboom (Luk 13:6).

Op sy eie gesien, word hierdie gelykenis iets waarmee gelowiges op ‘n moralistiese wyse gedreig word om “vrug” te dra. Sou jy nie binnekort vrugte begin dra nie, gaan jy uitgekap word.

Maar Arland Hultgren wys ons daarop in sy kommentaar, The Parables Of Jesus, dat hierdie gelykenis in antwoord was op ‘n vraag wat vooraf gevra is. Die vraag was oor die Galileërs wat deur Pilatus doodgemaak is toe hulle offers gebring het. En Jesus voeg nog ‘n voorbeeld van tragiek by – die 18 mense wat omgekom het toe die toring van Siloam op hulle omgeval het.

Volgens Hultgren dui die konteks aan dat Jesus deur sy gelykenis te kenne wou gee dat die mens se lewe aan onsekerheid onderwerp is. As dit nie politieke onrus is wat jou lewe eis nie, dan is dit natuurrampe of fratsongelukke. Niemand weet wanneer hy/sy gaan sterf nie. Moet dus nie uitstel met jou besluit om Hom te volg nie. Begin “vrug dra” oftewel,  maak onmiddelik ‘n besliste keuse vir Jesus. Want môre kan dalk te laat wees.

Hierdie interpretasie wat gekoppel is aan die konteks van die perikoop, lyk gans anders as die geykte moralistiese verduideliking van die gelykenis.

rembrandt_-_the_return_of_the_prodigal_son_detail_-_wga19135Daar is heelwat sulke voorbeelde waar ons ‘n ander klem op ‘n gelykenis plaas as wat die konteks vir ons te kenne gee. Neem byvoorbeeld die gelykenis van die verlore Seun.

Gewoonlik fokus preke op hoe verkeerd die seun was om weg te loop of hoe belangrik dit is om die keuse te maak om terug te kom. Maar die konteks van die gelykenis fokus op iets anders.

Jesus stapel 3 gelykenisse oor verlorenheid op mekaar, om iets aan te dui van die Here se hart: Die gelykenis van die verlore skaap, die gelykenis van die verlore muntstuk en dan helaas die gelykenis van die verlore seun.

Telkens fokus Jesus se gelykenis nie op die aksie van die een wat weg is nie, maar op die aksie van die een wat soek. Jou interpretasie van die verlore Seun moet dus meer handel oor hoe die Vader dit hanteer het, as oor wat die seun gedoen het.

Slotgedagte

1.) Die beste manier om gelykenisse te verklaar is om na die konteks te kyk.

Dit maak my bang hoe maklik dit is om ‘n totaal ander betekenis aan ‘n gelykenis te gee, as jy nie sy konteks in ag neem nie. Ek wil dus jou aanmoedig om jou altyd eers van ‘n gelykenis se groter plek in die teks te vergewis. Volgens my is die beste manier om ‘n gelykenis te interpreteer, deur sy konteks in ag te neem.

Waarmee begin die gelykenis? Woorde soos “Daarna” of “Toe” verklap dat die gelykenis in antwoord was op iets wat vooraf gebeur het. Waar het Jesus dit vertel? Wie was sy hoorders? Dit is alles dinge wat die betekenis beïnvloed.

2.) Ons lees die Bybel moralisties.

Ek het net weereens besef dat ons ten diepste geneig is om die evangelie moralisties in te kleur. Sodra ons ‘n halwe kans kry beklemtoon ons eerder dit wat die mens moet doen – of nie moet doen nie. Of dit nou is om vrug te dra en of dit nou is om nie ‘n verlore seun te wees nie.

Maar ‘n getroue verkondiging van die evangelie fokus altyd meer op dit wat die Here doen, as op dit wat die mens moet doen.

3.) Deeglike studie en eksegese.

In ag genome ons geneigdheid om die boodskap van die Bybel “verkeerd” te kry sodra ons dit isoleer of nie in konteks lees nie, is ek net weereens gegryp deur die belangrikheid daarvan om deeglike eksegese en voorbereiding te doen.

Dit is wanneer ons “gou” oor ‘n teks preek, wat ons op ons gevaarlikste is. Dit is wanneer ons “weet” wat ‘n teks se bedoeling is omdat dit so voor die handliggend of voorspelbaar is, wat ons die maklikste ‘n fout maak.

Eksegese vra diep wroeging oor elke Skrifgedeelte.

Hierdie greep van Walter Brueggemann spreek my geweldig aan:

As dit nie korrek by jou vertoon nie, kan jy daarna kyk deur hier te klik

1359080_32097935Op ’n dag sit ek by ’n gesinnetjie wat pas deur rowers in hul huis aangehou is. Hulle was erg getraumatiseer. Die Pa van die huis het gelukkig koelkop gebly en deurgaans probeer om sy kinders kalm te hou. Dit was ’n deurslaggewende rede hoekom hulle oorleef het. Maar na afloop van die roof is hy kwaad. Waarom het God sy gesin deur hierdie trauma gesit?

Ek was ietwat uit die veld geslaan om te hoor dat Hy dink God agter hierdie gewelddadige roof sit. God sal immers nie iets veroorsaak, wat Hy in sy Woord verbied nie (?!). Toe ek hom in groter diepte daaroor uitvra, kom ek agter dat Hy vir God kwaad is, omdat die Bybel sê dat daar nie eens ’n mossie op die grond sal val, sonder dat God ‘n aandeel daarin het nie.

Kom ons gaan kyk bietjie na hierdie teks. Ek dink jy sal geskok wees as jy sien hoe ‘n “voorsienigheidsleer” of ’n “leer oor God se allesbeskikking” ’n bril geword het waarmee ons  die Bybel vertaal het – tot so ’n mate dat die bril ons verblind het. Onbewus van ons vooropgestelde idees, het ons die Afrikaanse Bybel dinge laat sê wat die oorspronklike Grieks glad nie sê nie.[1]

Val daar mossies sonder dat dit God se wil is?

In die nuwe vertaling lui Matteus 10:29 byvoorbeeld:

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie” (Matt 10:29 NAV)

Die waarheid is egter dat die frase “die wil van” glad nie eens in die oorspronklike Griekse teks voorkom nie. Dit het in die teks ingesluip omdat dit die teologie van die vertaler is, naamlik dat God “alles beskik”. Jy kan in die ou vertaling sien (wat ‘n meer letterlike vertaling is), dat hierdie frase in die Griekse teks ontbreek:

Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie” (Matt 10:29 OAV)

Dat nie een mossie “sonder die Vader val” nie, sinspeel daarop hy elkeen wat val, raaksien. Ons weet dit omdat die paralelle lesing in Lukas dit bevestig:

Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie” (Luk 12:6 NAV)

Daar is egter ’n groot verskil om van elkeen se val bewus te wees, teenoor om elkeen se val te beskik. Om hartseer raak te sien is heeltemal anders as om dit te veroorsaak! Die lewende Bybel se weergawe van hierdie teks is selfs skreiender omdat hulle nog ’n stappie verder gegaan het:

Julle weet hoe min ’n mossie werd is. ’n Mens kan twee van hulle vir een geldstukkie koop. En tog kan nie een van hulle op die grond val as julle Vader dit nie toelaat nie” (Matt 10:29 LB)

Hierdie vertaler is totaal verblind deur sy teologie van “allesbeskikking”. Daar staan verseker nie in die Grieks dat die Vader elke mossie se val “toelaat” nie. In die geval van Jesus se uitspraak oor die mossies, is die nuwe lewende vertaling se weergawe is getrouste aan die intensie van die Griekse teks:

Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie” (Matt 10:29 NLV)

Ly martelare omdat dit God se wil is, of omdat hulle God se wil doen?

Kan jy sien hoe verskillende vertalers dieselfde teks op verskillende maniere vertaal het? Daar is talle voorbeelde waar die teologie van die Bybelvertaler in die vertaling neeslag vind en op die ou einde die boodskap van die teks in gedrang bring. In die nuwe vertaling skep 1 Petrus 4:19 byvoorbeeld weereens die indruk dat dit God se wil is as gelowiges ly.

Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen” (1 Pet 4:19 NAV)

Die nuwe lewende vertaling stel egter die fout reg deur te wys dat die gelowiges nie gely het omdat dit God se wil is nie, maar eerder omdat hulle God se wil gedoen het. Hulle is met ander woorde vervolg omdat hulle vir God opgestaan het.

As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie” (1 Pet 4:19 NLV)

Besoedel met ‘n giftige Godsbegrip.

Bogenoemde voorbeelde van foutiewe Skrifinterpretasie, het ongelukkig Christene generasies lank met die idee vergiftig dat God álles (goed en sleg) tot in die fynste detail vooruit beplan. Hy bepaal selfs die presiese plekkie waar die kleinste reëndruppel moet val. Hy beskik álles.

In alle billikheid moet daar gesê word dat hierdie begrip gebore is uit ’n edel behoefte om God as heerser te besing. Die hartseer is net dat dit op die ou einde God se naam deur die modder sleep: As dit waar was dat God alles tot in die fynste detail beplan – en jy sien die oorstromings in een wêrelddeel en die droogtes in ‘n ander – dan lyk dit nie of die Here vir die taak opgewasse is nie. Met alle respek wil ek sê dat selfs ’n kind water met groter oordeelsvermoë sou kon verdeel.

As al die gruwelikste maniere waarop mens en dier omkom, die werk van ’n “liefdevolle God” is, dan is dit oorbodig om in jou teologie ruimte vir die werk van Satan te los. Vra jouself af of jy regtig God aandadig wil maak aan die duisende vrouens en kinders wat nakend in Auschwitz konsentrasiekamp se sneeu staan, onsedelik aangerand word, en daarna gewetenloos vermoor word?

Dit bring vir God se naam veel meer eer as ons sê dat daar baie dinge in hierdie lewe gebeur wat nie deur sy toedoen plaasvind nie. God is met ander woorde nie die een wat ’n gewapende roof organiseer nie. Hy wil die een wees wat sy kinders in die midde daarvan kalm hou en vertroos – baie soos die aardse pa aan die begin van hierdie inskrywing. As ’n aardse pa vol foute immers die begeerte het om sy kinders te kalmeer en van gevaar te skerm, hoeveel te meer nie ons perfekte hemelse pa nie?



[1] Op hierdie punt wil ek dit beklemtoon dat die foute wat vertalers maak, onbewustelik is. Hulle is ernstige gelowiges wat lief is vir die Here net soos ek en jy. Niemand het die Bybel oorvertaal en gedink: “Kom ek kyk of ek die lesers kan bedrieg nie”. Die foute wat hulle maak is onbewustelik en dikwels kom dit aan die lig eers met retrospek. Dit neem egter nie die feit weg dat dit foute is nie. Daarom mag ons ook foute uitwys en beter alternatiewe aanbied.

Reading Roundup

August 29, 2012 — Leave a comment

Here is this week’s roundup:

1.) Would you believe that 44% of Swedes think that Cancer is contagious? This study is shocking. And here I thought we were the only ignorant nation.
2.) A very interesting article appeared in Scientific American Mind regarding our preconceived ideas. For more about my own biases, be sure to read the perspective page.
3.) Tim Keller had a hot seat explaining his take on homosexuality. I thought the interviewer’s questions/remarks were a very good example on how the secular world misunderstands justification in Christ.
4.) I thoroughly enjoyed Roger Olson’s explanation of the suffering servant in Isaiah 53.
5.) Is this how the books of the future will look like? I hope not!
6.) Some reasons why your mother was right when she said that breakfast is the most important meal of the day.
7.) Some posture tips for all of us who sit countless of hours in front of computers.