Archives For Fruitfulness

Ek het onlangs ‘n baie interessante ervaring gehad, Ek het by ‘n boer ‘n paar jong avokadopeerboompies vir ons lappie grond hier in die Laeveld gekoop. Mens kry verskillende soorte avo’s – en elke soort dra op ‘n ander tyd van die jaar sy vrug. Omdat ons hele gesin gek is oor avo’s, het ek toe sommer 4 verskillende soorte boompies gekoop. Die idee is dat ons dan heel jaar kan avo’s eet. Dit is nou vir jou ‘n rein gedagte!

Omdat ek geweet het my seuns gaan vir my vra wanneer die boompies gaan vrug dra, het ek die boer se kennis so bietjie getap. “Wanneer ek kan verwag om die eerste avo’s te pluk?“, wou ek weet. Sy antwoord het my verbaas…

Die kleefband wat die "sagte-ent" in plek hou.

Die kleefband wat die “sagte-ent” in plek hou.

Jy sal hierdie jaar nog die eerste bloeisels sien. Maar jy moet dit dadelik afbreek. Die boom mag nog nie nou al vrug dra nie.“, was sy antwoord. Ek was onseker of ek reg verstaan. Ek koop dan die boom om avo’s te eet. Hoekom moet ek die bloeisels afbreek en die boom verhinder om vrug te dra?

Die boer het seker gesien ek lyk geskok, want hy buk toe af op sy knieë en wys vir my waar die boom ge-ënt is. Ek het nie eers gesien dat die jong takkies nie eintlik die boom se eie is nie. Onder op die stam is daar iets soos kleefband wat die ent in plek hou. Die boer verduidelik toe verder: “As die boom te vinnig vrug dra, skeur dit uit die ent. Jy moenie ‘n ‘sagte-ent’ te vinnig druk vir vrugte nie. Gee hom ‘n seisoen of wat om eers sterk te word. Wees geduldig. As die ent eers sterk is, gaan hy vir jou lekker avo’s gee.”

Daar was iets in die boer se besorgdheid oor sy boompie wat my laat dink het aan Jesus se gelykenis oor die tuinier wat ook so vir ‘n vyeboom in die bres getreë het.

Die “siklus van genade”

Maar die gesprek met die boer het my ook laat dink aan iets wat bekendstaan as die “siklus van genade“. Hierdie konsep is destyds die eerste keer deur Emil Brunner en Frank Lake verwoord. Brunner die teoloog en Lake die sielkundige, wou koppe bymekaarsit om uit te vind waarom daar so ‘n groot getal sendelinge is wat die bediening verlaat. Hulle wou kyk of daar nie ‘n model in die lewe van Jesus te vinde was, wat hulle kon gebruik om geestelike stamina te kweek nie. Wat hulle gevind het, het sedertdien duisende gelowiges se lewens verander…

2016-10-26_072800

Die siklus bestaan uit ‘n dinamiese fase van insette en uitsette. Aan die kant van die dinamiese insette, is daar ‘n stasie van aanvaarding en dan ‘n stasie van onderhouding (sustenance). Dit word gevolg deur die dinamiese uitset fase wat weer op sy beurt uit ‘n stasie van betekenisvolheid en ‘n stasie van prestasie bestaan.

Emil Brunner en Frank Lake het betoog dat Jesus se lewe volkome in balans tussen insette en uitsette was – en daarom kon Hy volhoubaar sy roeping uitleef en bedien:

  1. Aanvaarding (acceptance): Jesus se bediening ontspring uit wat die Vader oor hom sê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt 3:17). Alles wie Jesus is en wat Hy doen, spruit voort uit hierdie goedkeuring en aanvaarding van die Vader.
  2. Onderhouding (sustenance): Die feit dat die Vader so oor Jesus voel, was nie genoeg nie. Jesus moes dit ook sy eie maak. Hy moes die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader geniet. Hy het dit op etlike maniere gedoen. Een daarvan was om byvoorbeeld tyd in gebed te spandeer. Die punt is dat Jesus Homself aanhou voer het met die Vader se goedkeuring. Dit het Hom onderhou.
  3. Betekenis (significance): Jesus se selfwaarde was geheel en al gebasseer op wat die Vader van Hom sê. Sy identiteit was nie opgesluit in sy “doing” nie, maar in sy “being“. Gevolglik sien ons dat Jesus gelukkig is Homself te wees. Hy is vry om net te wees. Al Jesus se “Ek is-uitsprake“, rus op wie die Vader sê Jesus is.
  4. Prestasie (achievement): Jesus was deurgaans bewus daarvan dat die Vader ‘n spesifieke taak vir Hom het. Vergelyk byvoorbeeld die sendingmotief in die evangelie van Johannes. Toe Jesus  die taak op die kruis afhandel, roep Hy uit “dit is volbring!

Die reuse probleem waarmee ons sit!

Die probleem waarmee ons sit, is dat ons alles agterstevoor doen! Ons leef in ‘n wêreld wat vir ons sê dat jy eers moet presteer om iemand betekenisvol te wees. En as jy dit kan onderhou (of volhoubaar doen) dan eers word jy aanvaarbaar vir die samelewing, jou vriende, jou lewensmaat en vir God.

2016-10-26_073128

Die probleem hiermee is dat ons eintlik bankrot is. Dit is nie vir ons ooit moontlik om op ‘n plek van aanvaarding uit te kom as ons dit wil bou op ons prestasie nie! Wat nog van volhoubaar presteer!

Verkeerde teologiese klem.

Die probleem waarmee ons sit, is dat moralistiese prediking altyd op prestasie fokus: “Jy moet vrug dra!” Maar ons kan nie vrug dra as ons nie behoorlik geënt is nie. Wanneer ons imperatief belangriker word as ons indikatief, sit ons met ‘n skeeftrekking van die evangelie.

Ter wille van deeglikheid moet ek dalk ook net sê dat dit vir Jesus ondenkbaar sou wees dat sy Vader se aanvaarding van Hom, nie sou uitloop op ‘n spesifieke uitset nie. Op ‘n soortgelyke wyse sou ons in die verkondiging van die evangelie faal as ons iemand se identiteit in Christus (en gevolglike aanvaarding van God) preek, sonder om ook te praat oor roeping nie.

Wanneer ons God se goedkeuring preek sonder om iets oor die eise van dissipelskap te sê, sit jy met Bonhoeffer se “goedkoop genade“. Beide kante van die munstuk is dus belangrik, maar die volgorde maak op die ou einde die kritiese verskil tussen ‘n foutiewe en ‘n korrekte verstaan van die evangelie.

Waarom sukkel ons met vrug dra?

Kom ons keer nou terug na die probleem waarom mense sukkel om vrug te dra in hul verhouding met die Here. ‘n Tipiese fout wat ons oorkom is om te dink dat om vrug te dra, binne my invloedsfeer lê. Ek moet dit voortbring. Ek is verantwoordelik daarvoor.

Dus, as ek sukkel om byvoorbeeld geduldig te wees, dan moet ek net harder probeer. Ek moet meer daaraan werk. Ek moet groter wilskrag uitoefen. Wat ons vergeet is dat geduld deel is van die vrug van die Gees.

Nou, as iemand nie die gawe van genesing manifesteer nie, gaan niemand vir die persoon sê “Jy moet net harder probeer nie“. Ons sal sê dat ons die Heilige Gees moet vertrou. Hy sal die gawes laat manifesteer soos wat Hy wil, wanneer Hy wil. Mens kan dit nie – en moet dit nie – kunsmatig probeer naboots nie.

Ons is dus heel gemaklik daarmee om te sê dat die Heilige Gees verantwoordelik is om die gawes van die Gees voort te bring. Waarom sou ons dink dat ons verantwoordelik is om die vrug van die Gees voort te bring? Vrug “van die Gees” impliseer immers dit is van die Gees afkomstig.

Ons moet wees soos ‘n tak wat in ‘n boom ge-ënt is en mettertyd die vrug van die boom voortbring. Maar eintlik het Jesus dit al vir ons verduidelik: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie” (Joh 15:4)

Sien jy hoekom dit so gevaarlik is om net die eindproduk van “vrug” te beklemtoon? Ons dink daar is ‘n probleem met die eindpunt, terwyl die probleem eintlik by die beginpunt lê. Ons spreek ‘n simptoom aan, terwyl ons eintlik moet fokus op die oorprong. Die indikatief is belangriker as die imperatief.

‘n Beter manier!

As jy dus iemand is wat gefrustreerd is met hoe min vrug jy in jou verhouding met die Here dra, moenie langer fokus op die prestasiestasie nie. Spandeer tyd in die aanvaardingstasie. Vind by die Here uit wie jy in Christus is. Rus in sy volkome aanvaarding van jou. Maak jou nuwe identiteit waarlik jou eie. En leef dan vanuit jou identiteit in Christus.