Archives For Identity in Christ

Ek het onlangs ‘n baie interessante ervaring gehad, Ek het by ‘n boer ‘n paar jong avokadopeerboompies vir ons lappie grond hier in die Laeveld gekoop. Mens kry verskillende soorte avo’s – en elke soort dra op ‘n ander tyd van die jaar sy vrug. Omdat ons hele gesin gek is oor avo’s, het ek toe sommer 4 verskillende soorte boompies gekoop. Die idee is dat ons dan heel jaar kan avo’s eet. Dit is nou vir jou ‘n rein gedagte!

Omdat ek geweet het my seuns gaan vir my vra wanneer die boompies gaan vrug dra, het ek die boer se kennis so bietjie getap. “Wanneer ek kan verwag om die eerste avo’s te pluk?“, wou ek weet. Sy antwoord het my verbaas…

Die kleefband wat die "sagte-ent" in plek hou.

Die kleefband wat die “sagte-ent” in plek hou.

Jy sal hierdie jaar nog die eerste bloeisels sien. Maar jy moet dit dadelik afbreek. Die boom mag nog nie nou al vrug dra nie.“, was sy antwoord. Ek was onseker of ek reg verstaan. Ek koop dan die boom om avo’s te eet. Hoekom moet ek die bloeisels afbreek en die boom verhinder om vrug te dra?

Die boer het seker gesien ek lyk geskok, want hy buk toe af op sy knieë en wys vir my waar die boom ge-ënt is. Ek het nie eers gesien dat die jong takkies nie eintlik die boom se eie is nie. Onder op die stam is daar iets soos kleefband wat die ent in plek hou. Die boer verduidelik toe verder: “As die boom te vinnig vrug dra, skeur dit uit die ent. Jy moenie ‘n ‘sagte-ent’ te vinnig druk vir vrugte nie. Gee hom ‘n seisoen of wat om eers sterk te word. Wees geduldig. As die ent eers sterk is, gaan hy vir jou lekker avo’s gee.”

Daar was iets in die boer se besorgdheid oor sy boompie wat my laat dink het aan Jesus se gelykenis oor die tuinier wat ook so vir ‘n vyeboom in die bres getreë het.

Die “siklus van genade”

Maar die gesprek met die boer het my ook laat dink aan iets wat bekendstaan as die “siklus van genade“. Hierdie konsep is destyds die eerste keer deur Emil Brunner en Frank Lake verwoord. Brunner die teoloog en Lake die sielkundige, wou koppe bymekaarsit om uit te vind waarom daar so ‘n groot getal sendelinge is wat die bediening verlaat. Hulle wou kyk of daar nie ‘n model in die lewe van Jesus te vinde was, wat hulle kon gebruik om geestelike stamina te kweek nie. Wat hulle gevind het, het sedertdien duisende gelowiges se lewens verander…

2016-10-26_072800

Die siklus bestaan uit ‘n dinamiese fase van insette en uitsette. Aan die kant van die dinamiese insette, is daar ‘n stasie van aanvaarding en dan ‘n stasie van onderhouding (sustenance). Dit word gevolg deur die dinamiese uitset fase wat weer op sy beurt uit ‘n stasie van betekenisvolheid en ‘n stasie van prestasie bestaan.

Emil Brunner en Frank Lake het betoog dat Jesus se lewe volkome in balans tussen insette en uitsette was – en daarom kon Hy volhoubaar sy roeping uitleef en bedien:

  1. Aanvaarding (acceptance): Jesus se bediening ontspring uit wat die Vader oor hom sê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My” (Matt 3:17). Alles wie Jesus is en wat Hy doen, spruit voort uit hierdie goedkeuring en aanvaarding van die Vader.
  2. Onderhouding (sustenance): Die feit dat die Vader so oor Jesus voel, was nie genoeg nie. Jesus moes dit ook sy eie maak. Hy moes die liefdesverhouding tussen Hom en die Vader geniet. Hy het dit op etlike maniere gedoen. Een daarvan was om byvoorbeeld tyd in gebed te spandeer. Die punt is dat Jesus Homself aanhou voer het met die Vader se goedkeuring. Dit het Hom onderhou.
  3. Betekenis (significance): Jesus se selfwaarde was geheel en al gebasseer op wat die Vader van Hom sê. Sy identiteit was nie opgesluit in sy “doing” nie, maar in sy “being“. Gevolglik sien ons dat Jesus gelukkig is Homself te wees. Hy is vry om net te wees. Al Jesus se “Ek is-uitsprake“, rus op wie die Vader sê Jesus is.
  4. Prestasie (achievement): Jesus was deurgaans bewus daarvan dat die Vader ‘n spesifieke taak vir Hom het. Vergelyk byvoorbeeld die sendingmotief in die evangelie van Johannes. Toe Jesus  die taak op die kruis afhandel, roep Hy uit “dit is volbring!

Die reuse probleem waarmee ons sit!

Die probleem waarmee ons sit, is dat ons alles agterstevoor doen! Ons leef in ‘n wêreld wat vir ons sê dat jy eers moet presteer om iemand betekenisvol te wees. En as jy dit kan onderhou (of volhoubaar doen) dan eers word jy aanvaarbaar vir die samelewing, jou vriende, jou lewensmaat en vir God.

2016-10-26_073128

Die probleem hiermee is dat ons eintlik bankrot is. Dit is nie vir ons ooit moontlik om op ‘n plek van aanvaarding uit te kom as ons dit wil bou op ons prestasie nie! Wat nog van volhoubaar presteer!

Verkeerde teologiese klem.

Die probleem waarmee ons sit, is dat moralistiese prediking altyd op prestasie fokus: “Jy moet vrug dra!” Maar ons kan nie vrug dra as ons nie behoorlik geënt is nie. Wanneer ons imperatief belangriker word as ons indikatief, sit ons met ‘n skeeftrekking van die evangelie.

Ter wille van deeglikheid moet ek dalk ook net sê dat dit vir Jesus ondenkbaar sou wees dat sy Vader se aanvaarding van Hom, nie sou uitloop op ‘n spesifieke uitset nie. Op ‘n soortgelyke wyse sou ons in die verkondiging van die evangelie faal as ons iemand se identiteit in Christus (en gevolglike aanvaarding van God) preek, sonder om ook te praat oor roeping nie.

Wanneer ons God se goedkeuring preek sonder om iets oor die eise van dissipelskap te sê, sit jy met Bonhoeffer se “goedkoop genade“. Beide kante van die munstuk is dus belangrik, maar die volgorde maak op die ou einde die kritiese verskil tussen ‘n foutiewe en ‘n korrekte verstaan van die evangelie.

Waarom sukkel ons met vrug dra?

Kom ons keer nou terug na die probleem waarom mense sukkel om vrug te dra in hul verhouding met die Here. ‘n Tipiese fout wat ons oorkom is om te dink dat om vrug te dra, binne my invloedsfeer lê. Ek moet dit voortbring. Ek is verantwoordelik daarvoor.

Dus, as ek sukkel om byvoorbeeld geduldig te wees, dan moet ek net harder probeer. Ek moet meer daaraan werk. Ek moet groter wilskrag uitoefen. Wat ons vergeet is dat geduld deel is van die vrug van die Gees.

Nou, as iemand nie die gawe van genesing manifesteer nie, gaan niemand vir die persoon sê “Jy moet net harder probeer nie“. Ons sal sê dat ons die Heilige Gees moet vertrou. Hy sal die gawes laat manifesteer soos wat Hy wil, wanneer Hy wil. Mens kan dit nie – en moet dit nie – kunsmatig probeer naboots nie.

Ons is dus heel gemaklik daarmee om te sê dat die Heilige Gees verantwoordelik is om die gawes van die Gees voort te bring. Waarom sou ons dink dat ons verantwoordelik is om die vrug van die Gees voort te bring? Vrug “van die Gees” impliseer immers dit is van die Gees afkomstig.

Ons moet wees soos ‘n tak wat in ‘n boom ge-ënt is en mettertyd die vrug van die boom voortbring. Maar eintlik het Jesus dit al vir ons verduidelik: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie” (Joh 15:4)

Sien jy hoekom dit so gevaarlik is om net die eindproduk van “vrug” te beklemtoon? Ons dink daar is ‘n probleem met die eindpunt, terwyl die probleem eintlik by die beginpunt lê. Ons spreek ‘n simptoom aan, terwyl ons eintlik moet fokus op die oorprong. Die indikatief is belangriker as die imperatief.

‘n Beter manier!

As jy dus iemand is wat gefrustreerd is met hoe min vrug jy in jou verhouding met die Here dra, moenie langer fokus op die prestasiestasie nie. Spandeer tyd in die aanvaardingstasie. Vind by die Here uit wie jy in Christus is. Rus in sy volkome aanvaarding van jou. Maak jou nuwe identiteit waarlik jou eie. En leef dan vanuit jou identiteit in Christus.

Jesus was my pinata

July 22, 2013 — 1 Comment

Gideon pinataEk het oor die naweek ‘n kinderpartytjie van ons peetkind bygewoon. Die bulletjie het twee jaar oud geword en dit was heerlik om daarin te deel.

By die partytjie was daar ‘n pinata wat vir groot opwinding gesorg het. Vir díe wat nie weet wat ‘n pinata is nie – dit is ‘n voorwerp wat van papier-maché gemaak is en met ‘n klomp lekkers gevul is. Gewoonlik is dit in die vorm van ‘n dier of ‘n bekende Disney karakter. Dit word met ‘n tou teen die dak vasgemaak sodat in die lug hang – en dan neem die kinders beurte om die pinata met ‘n stok te slaan. Dikwels is die kinders geblinddoek wat dit aansienlik moeiliker maak om die pinata stukkend te kry. Wanneer die pinata uiteindelik breek, val al die lekkergoed op die grond en die kinders skarrel om hulle sakke vol te stop.

Dit was nogal lekker om weer ‘n pinata te siene te kry. Toe ek ‘n kind was het ons in Amerika gebly en daar was dit algemeen by partytjies. Maar in Suid Afrika is dit nie iets wat jy elke dag sien nie.

Ek het die kinders gestaan en dophou en dit geniet om te sien hoe hulle die lekkernye stormloop toe die pinata uiteindelik breek en sy inhoud op die grond stort. Dit was op daardie oomblik wat ek weer ‘n “A-ha oomblik” vir myself beleef het. Die Skrif van Efesiërs 1:3 het in my gedagtes opgekom:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Ef 1:3 NAV)

Wat Paulus in vers 3 sê, is dat daar ‘n klomp geestelike seëninge in Jesus Christus saamgevat was. Sy dood aan die kruis het egter dít wat waar was van Hóm, waar gemaak van ons.

Sien weer in jou geestesoog die pinata wat breek en die lekkernye wat die vloer vol spat. Op ‘n soortgelyke manier was Christus se liggaam aan ‘n kruishout gebreek, en het dit ons in staat gestel om toegang te verkry tot al die geestelike seëninge wat in sy persoon opgesluit was. Paulus noem in die opvolgende verse nie minder as vyf verskillende soorte seëninge nie:

  • Ons het Jesus se heiligheid en onberispelikheid ontvang (1:4).
  • Ons het deur Jesus ook nou die Vader se kinders geword (1:5).
  • Ons het deur Christus se bloed, die volmaakte stand van verlossing en vergifnis ontvang (1:7).
  • Ons het ook nou (te danke aan Jesus) deel geword van God se volk (1:11).
  • Ons is deur die Heilige Gees, nes Jesus, as die eiendom van die Vader beseël (1:13).

Net soos kinders wat skarrel om hulle hande op die lekkergoed te kry, sien ek myself op hierdie geestelike seëninge afstorm om besit daarvan te neem en dit vir myself toe te eien. Ek bid: “Christus was my pinata. U is vir my gebreek. Wat opgesluit was in U, het myne geword.”

Begin die waarheid bely!

November 28, 2012 — 3 Comments

Hierdie is die laaste in ‘n reeks inskrywings oor jou identiteit “in Christus”.

GladiatorDaar is ‘n spesifieke toneel in die epiese rolprent “Gladiator” wat jou elke keer hoendervleis gee. Die fliek handel mos oor die dapper Romeinse generaal Maximus, wat lojaal aan die keiser was. Toe die keiser se seun hom aan die troon vergryp en sy pa vermoor, is Maximus in die proses tot slaaf gemaak.

Hy moes as Gladiator baklei om aan die lewe te bly. Stelselmatig het hy homself in die rangorde van die gevegskringe opgewerk totdat hy eendag (gemaskerd) voor die keiser in ‘n stampvol Colosseum aan ‘n geveg moes deelneem.

Toe hy die geveg wen, het die verraaier Commodus van die keiserstoel opgestaan en afgekom om hom te ontmoet. Toe Commodus op hom skree om sy identiteit bekend te maak, het hy sy masker afgehaal, stadig omgedraai en gesê: “My name is Maximus Decimus Meridius, commander of the armies of the north, general of the Felix Legions. Loyal servant to the true emperor Marcus Aurelius. Father to a murdered son, husband to a murdered wife, and I will have my vengeance. In this life or the next.”

Die keiser het homself – sigbaar – asvaal geskrik. Maar die eintlike roerende was om te sien hoe hierdie adelike soldaat wat in sulke haglike omstandighede geleef het, sy identiteit met soveel trots bekendmaak. Kyk gerus na die snit deur op die onderstaande skakel te klik:

Hierdie greep uit die fliek, het soveel raakvlakke met ons as Christene. Weereens kan ons noem dat die uiterlike omstandighede waarin ons onsself bevind, nie ons identiteit bepaal nie. Maar ons sou ook kon sê dat daar ‘n beroering in die geesteswêreld kom, die dag as jy jou ware identiteit in Christus begin bely. Jou vyand sidder.

Die belang van ‘n positiewe belydenis.

Die sielkunde het al herhaaldelik vir ons die belang daarvan uitgewys om positief oor jouself te praat. In die 1950’s het Dr Albert Ellis byvoorbeeld gesien dat verskeie van sy pasiënte geen beterskap beleef nie. Hy het dit toegeskryf aan hulle negatiewe selfgesprek. Dr Ellis was eintlik vir die Kerk ‘n doring in die vlees. Hy het onomwonde gesê dat godsdiens vir baie mense se selfverdoemende gedrag verantwoordelik is. Later sou ander geleerdes soos Christopher Peterson ook ons aandag op die belangrikheid van positiewe denke vestig.

Partykeer wens ek dat die Kerk meer na hierdie stemme geluister het. Jy hoef nie met alles saam te stem wat die sielkunde sê nie, maar ons moet erken dat die selfgesprek wat ons voer, ‘n enorme effek op ons lewens het. Dit kan destruktief of opbouend wees. Die vraag is hoe wil die Here hê moet jy oor jouself praat?

Ons wurmteologie laat in hierdie verband veel te wense oor. Ons is van kleins af geleer dat ons moet sê: “Ek is ‘n ellendige sondaar. Ek is ‘n nikswerd wurm voor die aangesig van die Here”. My kritiese vraag is net of dit regtig is wat die Here sien as Hy na jou kyk?

Sien die Here jou vandag as ‘n nikswerd wurm?

Ek het baie kosbare herinneringe as ek aan my Ouma Kitty dink. Toe ek as kind by hulle gaan oorslaap het, het sy altyd in die aande vir my gesing tot ek aan die slaap raak. Ek dink vandag nog aan haar as ek die versie hoor: “Here Jesus ek is klein, swak onkundig en onrein”.

Daardie liedjie is so kinderlik. Dit klink so vroom. Maar inderwaarheid is dit totaal teenstrydig met wat die Nuwe Testament oor ons identiteit “in Christus” sê. Die Bybel sê: “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor 1:30 NAV).

Jy moet my mooi hoor. My Ouma was ongetwyfeld gered. Om die waarheid te sê is sy vandag nog in my gedagtes die toonbeeld van ’n Christenvrou. Maar daar was by haar ’n minderwaardigheid wat nie van die Here afgekom het nie. Sy het onnodig voor Hom skuldig gevoel. Daar was ’n selfveroordeling wat teenstrydig was met wat die Skrif oor haar gesê het. Ons beroof onsself van soveel vreugde, vryspraak en vrymoedigheid, as ons met ons selfbelydenis, die Bybel weerspreek.

Dit is asof ons ’n onvermoë het om ons uitsprake te sinkroniseer met dit wat die Here oor ons sê:

  • Ons maak asof God vir ons kwaad is en nog ’n appeltjie met ons te skil het, terwyl die Skrif inderwaarheid sê dat daar vrede tussen ons en Hom is.[1]
  • Dit klink mooi om te sê dat ons met vrees en bewing voor God op ons aangesig moet kruip, maar die Bybel sê eintlik dat ons met vrymoedigheid na Hom toe moet gaan.[2]
  • Ons pleit en smeek God om ons te vergewe, asof dit iets is wat nog moet gebeur. Dit terwyl die Nuwe Testament verklaar dat al ons sondes van die verlede, hede en toekoms reeds vergewe is.[3]
  • Ons hou aan om vroom te verklaar dat ons “onwaardig” voor die Here is. Dit is asof ons vergeet dat Jesus sy heerlikheid vir ons gegee het.[4] Hy kon dit net sowel nie gedoen het nie.
  • Ons belaai mekaar met skuldgevoelens van minderwaardigheid deur te sê dat ons vir die Vader teleurstel. Dit terwyl die Skrif sê dat ons in Christus “gelykvormig” aan Jesus geword het en ten volle aan die Vader se verwagtinge voldoen.[5]
  • Ons sê so maklik dat die Here ons teëgaan of dat ons met Hom worstel, ten spyte daarvan dat die Skrif verklaar dat God “vir ons” is.[6]

Niemand kan met so ‘n konstante weerspreking saamleef nie. Dit is asof ons in ons verhouding met die Here wipplank ry. Geen wonder ons beleef soveel vertwyfeling nie. Besluit vandag eens en vir altyd: Was Jesus genoeg of nie!? Het Jesus geslaag om jou aanvaarbaar te maak of nie? Was Hy suksesvol om jou perfek in die Vader se oë te maak of nie? Óf Jesus was genoeg, óf Hy was nie. Maar moenie langer op twee gedagtes weifel nie. Begin die waarheid oor jouself bely!

Het Jesus geslaag? Ja of Nee?

Ek probeer jou nie verlei om in positiewe denke te verval soos die sielkunde dit verstaan nie. Ek sê nie jy moet net mooi en lekker en goeie gedagtes oor jouself dink, wat nie met die werklikheid klop nie. Positiewe denke soos die sielkunde dit bedoel, is van Christus gestroop. Jy probeer jouself heuning om die mond smeer – maar eintlik weet jy dat “al dra ’n aap ’n goue ring, bly hy ’n lelike ding”. Nee, die positiewe selfbelydenis waartoe ek jou oproep, is een wat konsekwent verdiskonteer wat Christus aan die kruis gedoen het en hoe dit jou verander het. Dit is immers die spilpunt waarom ons geloof draai.

Die belydenis van ‘n seun.

In ‘n vorige inskrywing het ek jou vertel van ‘n keer toe my oudste seun net begin praat het. Hy sit eendag op my skoot en ek sê vir hom: “Hendrik, jy is baie spesiaal”. Verontwaardig skud hy sy kop en sê: “Nee. Ek ith Hendrik”.

Ek besef toe dat ek vir hom sal moet verduidelik wat dit beteken om “spesiaal” te wees. Na ‘n lang gesukkel het ek op die ou einde gesê dat om spesiaal te wees, beteken dat hy my “hart warm maak” van liefde.

Onmiddellik het hy sy kop geknik en instemmend gesê: “Ek ith thpethiaal”. Toe Lindie later die kamer instap, draai hy na haar en sê skaamteloos: “Mamma, ek ith thpethiaal”. Daar was niks selfvoldaan daaraan nie. Hy het net kinderlik herhaal wat sy Pappa van hom sê.

Ek het eintlik hartseer geword toe ek hoor met hoeveel vertroue hy my napraat. Ek het gewonder hoe lank hy hierdie belydenis oor homself gaan glo. Ek het gedink aan al die kere wat maatjies nog in sy lewe met hom gaan lelik maak. Al die spot, verwerping en kritiek wat ons deurgaan, skep mos by ons ’n diep gesetelde minderwaardigheid. Hy sal homself van soveel seerkry kan beskerm, as hy ander se stemme ignoreer en net vir sy hele lewe vashou aan dit wat sy pa van hom sê.

Dit werk presies so in ons verhouding met die Here. Jy is nie selfvoldaan as jy jou nuwe identiteit in Christus bely nie. Jy roem mos in Christus. Jy praat net jou hemelse Pa na. Jy herhaal net dit wat Hy van jou sê. Wel, jou hemelse Pa sê dat jy nie meer tekortskiet nie maar – in Christus – vir die eerste keer oorgenoeg is!


[1]Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Rom 5:1 NAV)

[2]Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon” (Heb 4:16 NAV)

[3]Ek skrywe vir julle, liewe kinders, omdat julle sondes vergewe is in die Naam van Jesus.” (1 Joh 2:12 NAV)

[4]Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee” (Joh 17:22 NAV)

[5]Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. (Rom 8:29 NAV)

[6]God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom 8:31 NAV)

In November, kyk ons elke Woensdag na jou identiteit in Christus.

THE LION KINGDaar is min rolprente so roerend soos die epiese Lion King. Dit handel oor die leeuwelpie Simba, wat deur sy Pa se aartsvyand, Scar, bedrieg word. Scar bring vir Simba onder die indruk dat hy vir die dood van Mufasa verantwoordelik is. Hy glo die leuen van minderwaardigheid en – met skuld belas – hardloop hy weg en doen hy afstand van sy identiteit as toekomstige koning van die diereryk.

Die tragiek is dat baie Christene ’n soortgelyke leuen vandag glo. Ons glo ook dat ons nog skuldig, vuil en onwaardig is – dat ons nie werd is om God se kinders te wees nie. Maar hierdie godsdienstige vroomheid, verhoed ons om ooit ons ware identiteit as koningskinders van die Allerhoogste op te neem.

Het jy geweet dat Paulus jou níe één keer in ál sy briewe ‘n “sondaar” noem nie? Volgens hom het jou identiteit ’n radikale verandering ondergaan! Hy spreek jou 63 keer as ‘n “heilige” aan. Hiermee verwys hy nie na jou gedrag nie, maar na jou identiteit.

Kyk byvoorbeeld na sy brief aan die gemeente van Korinte. Hy rig sy brief “aan die geheiligdes in Christus Jesus” (1 Kor 1:2 OAV). Hy begin deur die gelowiges as “heiliges” aan te spreek, en eers daarna spreek hy hulle verkeerde gedrag aan. Paulus probeer dus nie die indruk skep dat gelowiges, nie meer sonde doen nie. Hy probeer net te kenne gee dat jou identiteit nie meer bepaal word deur wat jý doen nie – maar deur wat Jesus gedoen het.

As die kruis die hartklop van Paulus se teologie vorm (1 Kor 2:2), dan is ons nuwe identiteit “in Christus”, die skelet waaraan alles anders vasheg.

Volgens Paulus het die kruis en opstanding van Jesus Christus, ons in ’n splinternuwe verhouding met God die Vader geplaas. Hy beskryf hierdie nuwe verhouding, deur telkens gebruik te maak van spesifieke sinskonstruksies. So gebruik hy byvoorbeeld die frase “in Christusmeer as 80 keer net in sy briewe alleen. Benewens dit, maak hy ook nog gebruik van ander uitdrukkings soos “deur wie”, “van Hom”, “deur Hom”,  “in Hom”, “met Hom” en “tot Hom”. In Paulus se briewe wemel dit letterlik op elke bladsy met ‘n diep verstaan van ons identiteit in Christus.

’n Storie oor hoe ’n groep hul identiteit gevind het.

So ’n paar jaar terug het ons gemeente weer ’n span mense op ’n uitreik na Mosambiek gestuur. Ek rig altyd die stiltetye so in dat ons ‘n Bybelboek gedurende die week van die uitreik behandel. Hierdie spesifieke keer het ons Efesiërs gelees. Deur net een hoofstuk per dag te lees, sou ons hierdie brief in minder as ’n week kon afhandel.

Elke spanlid moes eers op sy eie die bepaalde hoofstuk van die dag lees, waarna almal dan bymekaar sou kom en bespreek wat ons opval. Ek het besluit om niks oor Efesiërs se struktuur en teologie met die groep te deel, totdat die tyd nie daarvoor ryp was nie.

Die eerste dag het ons gelees hoedat ons “in Christus” reeds met al die seëninge van die Gees toegerus is (Ef 1:3). Ons het ook gesien dat ons “deur Jesus”, reeds kinders van die Here is (Ef 1:5) en deel van God se volk geword het (Ef 1:11).

In Christus” is jy God se hemelse gedig op aarde.

Op die tweede dag van die uitreik het ons gesien dat ons “in Christus” uit ons doodsbestaan opgewek is (Ef 2:6) en dat ons “deur Christus” nou naby aan die Vader leef (Ef 2:13). Ons het selfs ontdek dat die Bybel oor ons sê dat ons “in Christus”, “God se handewerk” (Ef 2:10 NLV) is. Die Griekse woord vir “handewerk” is “poiema” – die Engelse woord “poem” word hiervan afgelei. Dit was verbysterend om te dink dat ons “in Christus” God se hemelse gedig, op aarde is.

Teen dag drie was dit opvallend dat ons nog geen bevele ontvang het nie. Daar was niks van “wees lief vir jou naaste” of “behandel mense met respek nie”. Steeds het ons net gelees dat ons “in Christus” deel gekry het aan alles wat God beloof het (Ef 3:6) en dat ons nou “in Christus” vrymoedig na die Vader kan gaan (Ef 3:12).

Dit het die groep begin pla. Hulle het gevoel die boek kom nie op dreef nie. “Wanneer kom ons nou by die deel oor praktiese Christenskap?” het een persoon gevra. Die eerste aansporing om jou gedrag in orde te kry, het eers teen dag vier gekom (Ef 4:1). Die groep was gefrustreerd en geïrriteerd met die feit dat Paulus in sy brief soveel “tyd mors”.

Dit is toe dat ek vir die eerste keer die struktuur van Efesiërs aan die groep verduidelik: Paulus beskryf in hoofstuk 1-3 ons identiteit. Eers as ons deeglik besef wie ons “in Christus” is, volg die oproep (Ef 4-6) om ons gedrag in oreenstemming met ons identiteit te kry.

VingerafdrukDaar is twee opmerklikhede in die teologie van Paulus: Eerstens is Hy van mening dat ons identiteit ons gedrag bepaal.  Óns is geneig om baie klem op die regte gedrag te lê, omdat dit kwansuis ons identiteit bepaal. Volgens Paulus werk dit egter andersom. As jy jou identiteit korrek verstaan, sal die korrekte gedrag vanself uitvloei.

Die tweede opmerklikheid is dat Paulus van mening is dat “wie ons in Christus is”, ‘n afgehandelde saak is. Jy sal nooit die gedagte by hom vind dat ons nog vergewe of nog vrygespreek of nog heilig moet “wórd” nie. Volgens hom is ons “in Christus” dit reeds. Ons kan maar net “wéés wat ons ís”.

Ek onthou nog goed hoe die groep se monde oopgehang het. Dit was ‘n “A-ha!” oomblik. Skielik het almal begin terugblaai om weer na al die plekke te gaan kyk waar hulle identiteit beskryf word. Hulle wou sien hoe God na hulle kyk. Die gedeeltes wat hulle vroeër geïrriteer het, het hulle nou geïnspireer.

In die Christendom is wie jy is, belangriker as wat jy doen.

Jy maak ’n fout as jy dink dat die Christendom oor ’n reeks bevele gaan. Die bepalende faktor is jou identiteit. In die Christendom gaan dit nie oor al die imperatiewe nie, maar oor die een indikatief. Paulus begin nie sy brief aan die Efesiërs by hoofstuk 4 nie. Sodra jy die indikatief verloor en net al die imperatiewe beklemtoon, verval jy in wettisisme. In die Christendom is wie jy is, met ander woorde belangriker as wat jy doen.

‘n Opsomming van wie jy “in Christus” is.

Waarskynlik is jý ook nou baie nuuskierig om jou identiteit “in Christus” te ontdek. Benewens die paar dingetjies wat ek vir jou uit Efesiërs uitgelig het, kan jy gerus ook na die onderstaande lys kyk:

  • In Christus” is daar vrede tussen jou en die Vader (Rom 5:1).
  • In Christus” kan jy op genade aanspraak maak (Rom 5:2).
  • In Christus” veroordeel God die Vader jou glad nie (Rom 8:1).
  • In Christus” is jy vrygespreek, verlos én geheilig (1 Kor 1:30).
  • In Christus” is jy ’n splinternuwe skepping (2 Kor 5:17).
  • In Christus” is jy met ander gelowiges verenig (Gal 3:28).
  • In Christus” is jy is heilig en onberispelik voor die Here (Ef 1:4).
  • In Hom” is jy reeds verlos en vergewe (Ef 1:7).
  • In verbondenheid met Hom” is die volle Jesus in jou (Kol 2:10).
  • In Christus” het jy nie meer ‘n sondige natuur nie (Kol 2:11).
  • Deur Hom” is jy in alles meer as ’n oorwinnaar (Rom 8:37).
  • In Christus” kan niks jou van die Here skei nie (Rom 8:39).

want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand 17:28 OAV)

As ek vir jou sê dat my hele huis afgebrand het, is dit sinneloos om te vra of die ketel en die tv ook afgebrand het. Per implikasie is alles ingesluit. Net so hoef jy ook nooit te wonder of daar sekere aspekte van jou lewe is, wat nie “in Christus” inbegrepe is nie. Toe Paulus in Atene was, het hy gepreek en gesê “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand 17:28 OAV). Paulus bedoel hiermee dat jy geheel en al “in Jesus” bestaan.

Tullian Tchividjian som die konsekwensie hiervan treffend op: “Rediscovering the gospel enabled me to see that:   because Jesus was strong for me, I was free to be weak; because Jesus won for me, I was free to lose; because Jesus was someone, I was free to be no one; because Jesus was extraordinary, I was free to be ordinary; because Jesus succeeded for me, I was free to fail.[1]

Simba het gedink dat sy optrede hom diskwalifiseer. Hy het gedink dit is gedrag wat hom bevoeg moet maak. Inderwaarheid was die feit dat hy die kind van die koning was, die enigste maatstaf of hy die identiteit van koningskind kon opneem. Jy mag nie dieselfde fout as Simba maak nie!



[1] Tullian Tchividjian (2011-10-03). Jesus + Nothing = Everything (p. 24). Good News Publishers. Kindle Edition

In November, kyk ons elke Woensdag na jou identiteit in Christus.

catch_me_if_you_canIn die skitterende film “Catch me if you can”, vertolk Leonardo DiCaprio die ware lewensverhaal van Frank Abagnale. Voor die ouderdom van negentien, het Frank ’n reeks valse identiteite aangeneem en hom suksesvol as ’n prokureur, ’n dokter en ’n vlieënier voorgedoen! Toe die regte Frank Abagnale in 2002 die film oor sy lewe sien, was hy beïndruk met die lewensgetrouheid daarvan. Hy vertel dat hy kan onthou hoe hy aan die einde van elke dag – nadat hy wonderlike ervarings gehad, mooi vrouens ontmoet en baie geld gemaak het – alleen in sy hotelkamer gesit en huil het.

Het ’n soortgelyke hartseer jou al beetgepak? Het jy ook al jouself met die gedagte betrap dat jy voorgee om iemand te wees wat jy nie is nie? Het jy ook ’n verlange na egtheid?

Niemand hou daarvan om vals te wees nie. Elkeen begeer die sekerheid om te weet dat jy jouself kan wees – en dat jy steeds goed genoeg sal wees. Ons smag na goedkeuring en aanvaarding. Ons hunker na onvoorwaardelike liefde. Dikwels is hierdie dors so oorweldigend dat ons voel of niks in hierdie wêreld dit ooit sal kan les nie. C.S. Lewis skryf hieroor: “If I find in myself a desire which no experience in this world can satisfy”—and don’t we all?— “the most probable explanation is that I was made for another world.”

Die ongeluk is dat ons selde besef, dat ons eintlik opsoek is na die omhelsing van ons Skepper. In plaas daarvan dat ons uitvind hoe Hy oor ons voel, word hierdie “ewige soeke” na liefde en aanvaarding, uitgeleef in ‘n reeks nimmereindigende pogings om jouself geliefd en gesiene in die oë van ander te maak.

Ons probeer aan onsself waarde toeskryf aan die hand van hoofsaaklik vier soorte dinge. Ons soek identiteit in ons voorkoms, verhoudings, vermoëns en voorbeeldigheid.

#1        Voorkoms.

Dit is vir ons almal belangrik om ‘n goeie indruk by ander mense te skep, maar vir iemand wat wáárde in hul voorkoms vind, word dit ‘n uitermatige hoë prioriteit. Dit raak vir jou geweldig belangrik waar jy bly en met watter kar jy ry. Besittings word ‘n instrument waarmee jy mense beïndruk. Wat jy koop moet die blinkste, nuutste, grootste of beste op die mark wees. Die handelsnaam van die klere wat jy dra asook die plekke waar jy inkopies doen, is vir jou belangrik. Elke keer as jy op Facebook by ‘n restaurant of vakansieplek “check-in”, hoop jy dat mense se wenkbroue sal lig. Uiterlike vertoon is waaroor dit gaan.

#2        Verhoudings.

Die persoon wat hul aan die hand van verhoudings definieer, voel nie heel alleen nie. Die een persoon sal haar waardes (en haarself) verloën, net inruil daarvoor om aan die sy van iemand te staan. Net die volgende een se grootste bron van standvastigheid, is haar verbintenis aan haar lewensmaat of haar rol as ouer in die lewe van haar kinders. Nog ‘n ander een se grootste dryfveer in die lewe is om vriende te wees met mense wat in tel is. Hy sal kort-kort die name van bekendes laat val met wie hy onlangs gekuier het. Of dit neem die vorm van ‘n begeerte aan om ‘n groot vriendekring of ‘n wye invloedsfeer te hê. Hoe meer mense jou Facebook foto’s “like” en hoe groter jou Klout puntetelling is, hoe beter. Jy is altyd besig om jou lewe met jou vriende (en vyande) s’n te vergelyk.

#3        Vermoëns.

As jy jouself moet beskryf en die eerste gedagte wat by jou opkom is die beroep waarin jy staan, dan definieer jy jou in terme van jou vermoëns. Jy vind jou waarde in die feit dat jy vir iets spesifiek opgelei is, sekere prestasies behaal het, ‘n hoë werksverrigting het of moeilike projekte suksesvol afgehandel het. Range, titels, posbeskrywings, kwalifikasies en kapasiteit is waaroor dit gaan. Jy hou daarvan om as ‘n kenner op ‘n gebied bekend te staan of dat jou naam rondswerf as iemand wat weet hy doen. Jy wil hê mense moet van jou notisie neem vanweë jou bekwaamheid en talente.

#4        Voorbeeldigheid.

Voorbeeldigheid lyk onskuldig maar is die giftigste van die lot. Jy plaas daarop klem om kerk toe te gaan, dankoffer te gee en by ‘n selgroep in te skakel. Die toewyding waarmee jy godsdienstige reëls nakom, word die maatstaf waarmee jy beoordeel hoe God oor jou voel. Hoe meer jy bid, hoe meer kan jy op God se genade staatmaak. Jou lewe word gekenmerk aan inspanning en dat jy toenemend harder probeer.

Die probleem.

Die probleem daarmee om jou identiteit te omskryf aan die hand van die bogenoemde punte, is dat dit onstabiel en onversadigbaar is:

~          Onstabiliteit.

Jou voorkoms gaan verander: Jy word oud word en so ook al die speelgoed waarmee jy jou omring. Niks wat jy koop sal altyd dieselfde bly nie. Jou verhoudings gaan ook verander. Vriendskappe breek op, kinders word groot en lewensmaats gaan dood. Wat jou as vriend, lewensmaat en ouer definieer, gaan verdwyn.

Vermoëns is ook onstabiel. Jou gesondheid neem af hoe ouer jy word – en daarmee saam jou fisiese en kognitiewe vlak van funksionering. Die prestasies en rekords wat jy opstel, is ook nie blywend nie. Dit is ’n kwessie van tyd voor iemand anders daarop verbeter en op dit neerkyk.  Selfs ons voorbeeldigheid bied nie sekuriteit nie. Ons is nie altyd ewe toegewyd in die uitlewing van reëls nie. As jy identiteit in jou toewyding vind, sit jy met ’n krisis elke keer wat jy sonde doen.

~          Onversadigbaarheid.

VingerafdrukDie voorkoms wat jy wil voorhou, sal altyd onversadigbaar wees. Jy sal altyd mooier kan lyk. Jy sal nooit genoeg kan besit of indrukwekkend genoeg kan leef, om vir eens en vir altyd “goed genoeg” oor jouself te voel nie. Verhoudings sal ook nie jou dors les nie. Baie mense het al daarna gestreef om vir die applous van ander te leef. Jy sal nie die eerste persoon wees wat alles in die stryd werp om nie verwerp te word nie – net om aan die einde ontnugterd agter te kom dat jy nooit regtig onvoorwaardelik aanvaar is nie.

Ons vermoëns is ook in wese onversadigbaar. As jy gister jou beste nog ooit gevaar het, sal jy vandag die begeerte hê om daarop te verbeter. Jou kan jou lewe daaraan wy om aan die voorpunt van jou veld te kom – en as jy daar uitkom sal jy die res van jou lewe moet gebruik om daar te bly en te keer dat niemand jou verbyvat nie.

Maar daar is min dinge so onversadigbaar soos voorbeeldigheid. As jy vandag R5 vir ‘n arme kon gee, moet jy dit môre met R10 opstoot. As jy vandag 10 sondes gedoen het, moet jy dit môre met 5 verminder. As jy jou toewyding as maatstaf gebruik om te weet hoe God oor jou voel, sal jy altyd tekortskiet.

Staan vir ‘n oomblik stil en vra jouself af watter van die bogenoemde punte jy gebruik om jouself te omskryf. Gebruik jy voorkoms, verhoudings, vermoëns of voorbeeldigheid om jou identiteit mee te skep? Wat definieer jou?

Die oplossing.

Vir solank as wat jy voorkoms, verhoudings, vermoëns en voorbeeldigheid gebruik om jou waarde te bepaal, sit jy met die probleem van onstabiliteit en onversadigbaarheid. Jy het nodig om jou identiteit in iets te vind wat onverbeterlik en onveranderbaar is.

Om hierdie rede sê die Skrif dat ons identiteit in die persoon en werk van Jesus Christus moet vind. Al wat in hierdie lewe onverbeterlik is, is wat Jesus op die kruis gedoen het. Jy kan nie iets by sy voltooide werk byvoeg nie. Jy kan niks toevoeg om dit enigsins méér geslaagd te maak nie. Dit is onverbeterlik. Die Skrif sê: “Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig” (Heb 10:14 NLV).

Verder is dit ook nét Jesus wat in hierdie lewe onveranderlik is. Sy gedrag is nie wispelturig nie. Sy karakter is nie onvoorspelbaar nie. Jy weet altyd waar jy met Hom staan en hoe Hy oor jou voel. Hy is onwankelbaar. Daarom sê die Skrif: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8 NAV).

Probeer dus die omvang daarvan raaksien as die Skrif sê: “julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kol 3:3 NAV). Dit beteken dat jou identiteit onveranderbaar en onverbeterlik, veilig by God weggebêre is.

Daarom sluit C.S. Lewis sy klassieke werk “Mere Christianity” met die volgende af: “Look for yourself, and you will find in the long run only hatred, loneliness, despair, rage, ruin, and decay. But look for Christ and you will find Him, and with Him everything else thrown in.”

Het jy jou naam vergeet?

November 7, 2012 — 1 Comment

Vir die maand van November, gaan ons elke Woensdag na jou identiteit in Christus kyk. Dit is volgens my een van die belangrikste temas waaraan ons kan aandag gee, en ek vertrou dat dit vir jou lewensveranderend gaan wees.

VingerafdrukEen van ons skatte in Afrikaans, is F. A. Venter se boek “Die keer toe ek my naam vergeet het”. Die boek word deur baie letterkundiges as ‘n “wonderwerk” beskryf, want Frans vertel sy eie verhaal van herstel, na afloop van sy beroerte.

Die een oomblik was hy nog besig om skottelgoed te was. Die volgende oomblik het hy op die vloer wakker geword. Die regterkant van sy liggaam was verlam, en hy kon nie praat nie. Maar die ergste van alles was dat hy geen benul gehad het wie hy was nie!

In die weke wat gevolg het was F.A. Venter dood, al het hy gelewe. Hy was in ’n liggaam toegesluit wat hy nie geken het nie en waarmee hy ook nie kon kommunikeer nie. Uiteindelik het sy toestand stadig begin verbeter. Sy vrou, Stella, het male sonder tal vir hom gevra of hy weet wie hy is. Een oggend het hy uit die bloute opvlieënd op haar vraag geantwoord: “Frans Venter, dêmmit!

Dink jou dit in.

Kan jy jou in dink hoe dit moes wees? Stel jouself vir ’n oomblik voor hoe dit moet voel om te leef sonder om ’n naam te hê. ’n Naam is seker die mees basiese bousteen van wie jy is.  Al het jy niks anders nie – maar jy het ’n naam – dan het jy darem al ’n greep op jouself. Sonder ’n naam is jy identiteitloos. Sonder ’n naam, is jy sonder ’n bestaan.

Dat jy in so ’n situasie vanweë ’n breinbesering kan beland, is skrikwekkend. Maar asof dit nie erg genoeg is nie, is daar selfs nog meer mense wat aan ’n soort “geestelike geheueverlies” ly. Hulle het ’n “spirituele identiteitskrisis” wat niks minder angswekkend is nie. Ek was al daar en dalk beleef jy dit op die oomblik.

Ons is almal soekers.

Hoor jy ook hoe bekommerde ouers opmerk: “My kind soek homself”? Sien jy ook hoe jarelange lewensmaats op mekaar uitloop met die woorde: “Ek moet myself gaan vind”? Dalk betrap jy deesdae jousélf met die vraag: “Wie is ek?”.

Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom het daar al ooit so baie boeke oor selfhelp, selfkennis, selfbeeld, selfontwikkeling, selfwaarde, selfondersoek en selfbeskikking verskyn nie. Ons was nog nooit so selfgesentreerd soos nou nie. Mens sou dink dat al die selfbeheptheid ’n selfversekerde generasie sou voortbring, maar die teendeel blyk die waarheid te wees. Hoe meer ons onsself in onsself soek, hoe meer ontwyk ons onsself.

Dit was natuurlik nie altyd so nie. So min as ‘n geslag of twee terug het mense heeltemal anders oor identiteit gedink. Daar was egter ’n “sosiale revolusie” wat ’n ingrypende verandering teweeggebring het in die manier waarop ons oor onsself dink. Dink maar net aan:

  • die post-modernisme met sy relatiwiteit.
  • die verskyning van menseregte
  • die beywering vir ’n nie-rassige samelewing
  • die seksuele ontwaking
  • die bevordering van geslagsgelykheid
  • die tendens van verstedeliking
  • die bevolkingsontploffing en gepaardgaande wêreldwye energietekort.

Hierdie dinge is nie op sigself negatief nie. Jy moet net nie die invloed daarvan op jou onderskat nie. Allan Bloom het reeds in 1987 in sy boek “The Closing of the American Mind”, aangedui hoe hierdie sosiale faktore veroorsaak het dat mense “in hulself ingekeer” het.

Baie van die omwentelinge wat dus in die leeftyd van die afgelope geslag plaasgevind het, was nodig en positief. Daar is egter ook byprodukte wat minder positief is.

Een daarvan is dat ons “na binne” begin leef het. Dit het die manier waarop ons oor geluk dink en die plek waar ons vir dit soek, begin beïnvloed. Dink maar net aan hoeveel keer jy deesdae hoor dat jy “geluk in jouself moet vind”. Die waarheid is egter dat so min as wat jy geluk in eksterne mense of voorwerpe gaan vind, so min gaan jy geluk in jouself vind.

Kyk maar gerus na binne. Doen jou selfondersoek. Verlustig jou in introspeksie. As jy met jouself eerlik is, gaan jy net nog ’n groter onvergenoegdheid beleef. Jy het dalk intussen hoogstens geleer om met jouself “saam te leef” – maar dit is onmoontlik om met jouself gelukkig te wees.

Het God hieroor ’n opinie?

Het die Bybel salf aan hierdie situasie te smeer? Het die Here iets oor jou identiteit te sê?

Dit sou seker so onsinnig wees as om vir Steve Jobs te vra of hy iets van Apple produkte weet. Dit is so goed jy vra vir Mark Zuckerburg of hy FaceBook ken. Sal jy vir Bill Gates vra of hy al van Microsoft gehoor het?

Die skeppers van hierdie produkte het met hulle “babatjie” jare lank in hulle gedagtes geloop. Hulle het aan elke moontlikheid, beperking, sterk-en-swakpunt gedink. Hulle ken hulle breinkind deur en deur. Ander mense probeer kortpaaie in hul produkte vind en kyk waar hulle wat kan omseil. Maar elke kortpad het sy eie tekortkoming en eindig in ’n doodloopstraat. Daar is nie iemand wat meer van ’n patent weet, as die ontwerper daarvan nie.

Op ’n soortgelyke wyse is daar niemand wat jou beter ken as die Here nie. Hy besit die bloudruk van jou bestaan. Hy ken jou soos die palm van sy hand. Hy weet waar jou “geluksknoppie” skuil. Hý is die een wat jou geskep het om geluk op nét een manier te beleef.

Ons gaan in hierdie maandlange reeks kyk na wat sy oogmerk is. Jy sal vinnig agterkom waar die Here wil hê jy jou identiteit moet vind. Teen die einde sal jy wonder hoekom jy soveel tyd, geld en energie op ander dinge gemors het, in ’n poging om gelukkig te wees. Om die intensie van God se hart te begryp, gaan ons egter eers moet kyk hoe mense in die Bybelse tyd, hul identiteit verstaan het.

Identiteit soos die Skrif dit verstaan.

Enige student van die Bybel sal vinnig agterkom dat die mense waarvan ons lees, beskryf word aan die hand van ’n ander stel maatstawwe, as wat ons vandag gebruik. Wanneer ons informasie oor iemand ontvang, leer ons iets oor hulle verhouding tot iemand anders: Johanna is byvoorbeeld die vrou van Gusa (Luk 8:3). Paulus is ‘n leerling van Gamaliël (Hand 22:3).

Die kenner van antieke sosiale waardes, Jerome Neyrey, gaan so vêr as om te sê: “Individual people are not known or valued because of their uniqueness, but in terms of their dyad, that is some other person or thing. Dyadism, therefore, is a means value by which one’s honor can be continually checked, affirmed or challenged.”

Die verhouding wat jou identiteit die sterkste uitdruk, is by verre die verhouding met jou pa. As iemand wou weet wie jý is, het hulle gevra wie jou pa is. Daarom lees ons Simon is die seun van Jona (Matt 16:17), Jakobus en Johannes staan bekend as die seuns van Sebedeus (Mark 1:19), Jesus is die seun van die timmerman (Matt 13:55) en word geopenbaar as die seun van God (Mark 15:39).

Vir die Bybel is dit totaal ondenkbaar dat ‘n seun van byvoorbeeld ‘n boer, eenkant op ‘n landery sit en “na homself soek”! Die wete dat hy sy Pa s’n is, was vir hom genoeg. Dit het vir hom sekuriteit gegee en aan hom groot waarde verskaf. Wie hy is, het hy in sy verhouding met sy Pa gevind. Hy kon, soos Jerome Neyrey sê, sy eer en identiteit voordurend in hierdie verhouding herbevestig.

My vriend, ek en jy het ’n hemelse Pa van wie ons ons waarde ontvang. Laat ek verduidelik: Hierdie hemelse Pa het oor sy seun Jesus gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart” (Mark 1:11 NLV). Maar iets wonderlik het met my en jou in die geestelike realm gebeur! Die Bybel sê oor ons: “julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kol 3:3 NAV).

Ek weet die grootsheid daarvan maak dit moeilik te begryp. In die weke wat kom, gaan ons kyk na wat dit alles vir jou beteken. Jy gaan nie jou identiteit vind deur na jouself te kyk nie – maar na Jesus. Dit gaan vir jou so waardevol soos goud wees en vir altyd verander hoe jy oor jouself dink! Vir nou wil ek net hê dat jy weet iets bonatuurlik met jou identiteit gebeur het: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Kor 5:17 OAV).

VaderhartKinders het die koddigste sêgoed. Partykeer lê jy soos jy lag. Ander kere voel jy of die aarde jou kan insluk.

Kort nadat ons vir Hendrik verduidelik het dat boetie Christiaan in Mamma se maag is, was ons eendag in so ’n situasie. Lindie moes winkel toe en het besluit om Hendrik saam te vat. Net toe sy by die deur instap, kom daar ’n vrou uitgestap. Ongelukkig vir ons, was die vrou ’n rapsie oorgewig. Nog voordat sy en Lindie mekaar behoorlik kon kruis, vra Hendrik kliphard: “Mamma, het daardie tannie ook ’n baba in haar maag?

Die vrou se oë het gerek. Lindie het anderkant toe gekyk. En omdat sy Mamma duidelik nie die eerste keer gehoor het nie, het Hendrik sy vragie ’n tweede keer herhaal . . .

Maar dit is nie die storie wat ek vir jou van wil vertel nie. Die eintlike storie het nog ’n paar maande vroeër afgespeel. Hendrik het pas begin om driewoord sinne te gebruik en baie van die begrippe was nog vir hom totaal nuut.

Eendag sit hy op my skoot toe ek vir hom sê: “Hendrik, jy is baie spesiaal”. Verontwaardig skud hy sy kop en sê: “Nee. Ek ith Hendrik”.

Ek besef toe dat ek dit vir hom sal moet verduidelik. Maar hoe verduidelik jy wat “spesiaal” beteken? Ek het hierdie kant toe en daardie kant toe probeer. Op die ou einde het ek gesê dat om spesiaal te wees, beteken dat hy my “hart warm maak” van liefde.

Dit het groot byval by hom gevind. Onmiddellik het hy sy kop geknik en instemmend gesê: “Ek ith thpethiaal”. Toe Lindie die kamer instap, draai hy na haar en verklaar ewe nonchalant: “Mamma, ek ith thpethiaal” – asof dit ou nuus was wat hy weer by haar wil inskerp. Dit was so onskuldig. Daar was niks selfvoldaan aan sy uiting nie. Hy het net kinderlik herhaal wat sy Pappa van hom sê.

Van hoeveel minderwaardigheid sal jy ontslae kan raak as jy nét die aan die Here se opinie oor jou, waarde heg?

Op daardie oomblik het my gemoed vol skiet. Ek het gewonder hoe lank hy hierdie belydenis oor homself, sal glo. Ek het gedink aan al die kere wat maatjies nog in sy lewe met hom gaan lelik maak. Al die spot, verwerping en kritiek wat ons deurgaan, skep by ons ’n diep gesetelde minderwaardigheid. Hy sal homself van soveel seerkry kan beskerm, as hy die ander stemme rondom hom ignoreer en net vashou aan dit wat sy pa van hom sê.

Meteens het ek geweet dit is ook so in ons verhouding met die Here. Hy sê jy is waardevol. Maar jy glo almal anders wat jou al in die lewe eenkant toe gestoot het. Hy sê jy is geliefd. Maar jy steur jou meer aan díe wat nie van jou notisie neem nie. Hy sê jy is genoeg. Maar jy heg groter waarde aan al die stemme wat sê dat jy tekortskiet. Van hoeveel minderwaardigheid sal jy van ontslae kan raak as jy nét aan die opinie van jou hemelse Pa, waarde heg?

“Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou.” (Jes 43:4-5 NAV)

 

Rus*

December 23, 2011 — Leave a comment

Ek het swaar gesluk,
aan al die prestasiedruk.
Daar was altyd nog iets om te doen,
as ek met God wou versoen.

Ek moes altyd nog iets afmerk op my lys,
in my poging om my voor die Vader te bewys.
Die selfveroordeling was uiters fel,
omdat ek God, kwansuis teleurstel.

Op ‘n dag het ek toe ontdek, Continue Reading…