Christus Victor (Deel II)
Ons is besig om aan die hand van 5 inskrywings, die “Christus Victor“-teologie van die vroeë Kerk te ondersoek. Vandag kyk ons na die vernaamste kenmerke.
- Deel I Konteks van die “Christus Victor” debat
- Deel II Kenmerke van die “Christus Victor” teologie
- Deel III Konfrontering met Nuwe Testamentiese tekste
- Deel IV Kritiek teen die “Christus Victor” hipotese
- Deel V Konklusies oor die “Christus Victor” ideologie.
Inleiding
As jy jouself ten doel stel om die “Christus Victor”-teologie van die vroeë Kerk te verstaan, is daar een groot struikelblok wat jy sal moet oorkom: Jy sal daarvan moet vergeet om ‘n fyn uitgewerkte teologiese les te vind, wat hierdie leerstelling logies gaan uiteensit.
Jy sien, ons wil as’t ware hê dat ‘n voorstander van die “Christus Victor”-teologie, vir ons sistematies verduidelik wat hulle propageer. Dan wil ons dit met Anselmus se “teorie van bevrediging” vergelyk, dit teen mekaar opweeg en ‘n oordeel fel oor watter lering die meeste sin maak. Dit is hoe ons vandag teologie beoefen.
Die probleem is dat daar nie so ‘n uitgewerkte teologiese les oor “Christus Victor” bestaan nie. Daar is nêrens in die geskrifte van die vroeë Kerk ‘n dogmatiese leerstelling wat presies sê wat “Christus Victor” is nie. Die naam “Christus Victor” kom nêrens in ‘n belydenisskrif voor nie. Wat ons vandag van die “Christus Victor”-teologie van die vroeë Kerk weet, weet ons vanuit brokkies inligting uit die kerkvaders se preke. Die naam “Christus Victor” is bloot ‘n term wat die deurlopende teologiese motief in die preke van die kerkvaders mooi opsom.
Kom ons kyk weer na hoe Aulén die “Christus Victor”-teologie beskryf. Hy sê:
“It is not a logically articulated theory of redemption, but rather an idea, a motif, a theme, which is essentially one and the same in Paul and in the early church, but finds ever-varying forms of expression.”[1]
In kontras met ‘n duidelik geformuleerde leerstelling (soos díe van Anselmus se “teorie van bevrediging”) is die “Christus Victor”-teologie eerder ‘n klomp onsamehangende gedagtes. Hierdie gedagtes het wel deurlopend dieselfde tema, maar dit word nie enduit deurgeredeneer nie en die konsekwensies van wat gesê word, word nie tot in die fynste detail uitgestip nie.
Jy sou kon vra, “maar as daar nie ‘n geformuleerde leerstuk bestaan nie, hoe kan Aulén dan sê dat dit van die teologie verskil wat vandag in kerke gepreek word?” Die antwoord hierop sou wees dat die klomp losstaande gedagtes van die vroeë Kerk so drasties anders genuanseer word, as die konsepte wat ons in die “teorie van bevrediging” van Anselmus vind, dat dit aanvoelbaar verskil van dit wat ons vandag ken.
Aulén is met ander woorde van mening dat daar genoegsame klemverskille is, om met reg te kan sê dat daar vandag ‘n “ander” teologie verkondig word as wat in die vroeë Kerk verkondig is. Of Aulén korrek is in wat hy sê, kan jy later self besluit. Kom ons probeer vir eers net agterkom wat die klemverskille is.
Soos reeds gesê, bestaan Aulén se boek eintlik uit uittreksels van preke wat in die vroeë Kerk gelewer is, tesame met sy kommentaar daarop. Uit dít wat hy aanhaal, sou mens 10 karaktertrekke van die vroeë Kerk se prediking kon uitlig, wat mens sou kon sê kenmerkend van die “Christus Victor”-teologie is (daar is uiteraard meer as 10 kenmerke, maar ek beperk myself ter wille van spasie).
10 Kenmerke van die “Christus Victor” teologie:
1.) Tweeledige karakter van versoening.
As die vroeë Kerk oor Christus se versoening gepraat het, was dit kenmerkend dat dit ‘n tweeledige karakter gehad het. Dit was nie vreemd om te hoor dat God aan die een kant die tirannie oorkom het wat die mensdom gevange gehou het – en gelykertyd ook die met vyandskap tussen Hom en die wêreld mee weggedoen en almal met Hom versoen het nie.[2]
2.) Teenstrydighede pla nie.
Dit is kenmerklik dat oënskynlike teenstrydighede niemand pla nie. Soms lyk dit of van die metafore waarmee die kerkvaders Jesus se versoeningswerk mee verduidelik, mekaar weerspreek – of ten minste as die konsekwensies daarvan enduit uitgeredeneer word. Maar omdat dit net beelde is wat ‘n sekere punt wil oordra, lyk dit nie vir ons of dit iemand pla as die metafore teenoor mekaar te staan kom nie.[3]
3.) Ander verstaan van sonde.
Waar Anselmus se verstaan van sonde ‘n kliniese oortreding van God se wet behels, beskou die vroeë Kerk sonde, méér as net iets wat jy verkeerd doen. Sonde word “wyer” verstaan en sluit alles in wat ons van God vervreem – insluitend die dood. Hierdie “wyer” verstaan van sonde, verhoed dat die teologie van die vroeë Kerk op moralisering en veroordeling uitloop – iets waarvan die moderne Kerk van die Weste al herhaaldelik oor geroskam is.[4]
4.) Groot klem op die beliggaming van Jesus.
In die preke van die vroeë Kerk word die beliggaming van Jesus beklemtoon.[5] Die teologiese term hiervoor is die “inkarnasie”, maar ons moet versigtig wees met die gebruik hiervan. Deesdae vertolk ons “inkarnasie” as die menswording van Jesus, terwyl die vroeë Kerk juis sy Godskap in sy vleeslike liggaam wou onderstreep. Soos jy later sal sien, word hierdie ‘n krities belangrike punt. Aulén sê:
“The central thought is … it is God Himself who enters into this world of sin and death for man’s deliverance, to take up the conflict with the powers of evil and effect atonement between Himself and the world”[6]
5.) Jesus se hele lewe is van belang.
Daar word dikwels gewaarsku dat die Kerk van vandag net sekere aspekte van Jesus belig. Met reg word daar gesê dat ons byvoorbeeld die kruisiging aksentueer maar nalaat om ook ‘n groot ophef van die res van Jesus se lewe te maak. Vir die vroeë Kerk was daar, volgens Aulén, nie spesifieke hoogtepunte nie. Alles van Jesus (sy geboorte, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart) is een groot hoogtepunt en ontvang ewe veel aandag.[7]
6.) Ons verlossing is ‘n dramatiese reddingsaksie.
Daar is al etlike kere verwys na Anselmus se kliniese hantering van Jesus se versoeningswerk. Die hoofrede vir hierdie byna “emosielose” beskouing, is omdat dit ‘n versoening behels wat net op ‘n wetlike of juridiese vlak lê. In kontras hiermee, vind jy dat die vroeë Kerk Jesus se versoeningswerk as ‘n dramatiese reddingswerk van epiese proporsies skilder. Jesus kom in konflik met die magte van die bose maar oorwin hulle triomfantlik![8]
7.) Konstante dualisme word geskets.
Juis na aanleiding van die bogenoemde opmerking, bring dit ons uit by die volgende punt. Daar is in die literatuur van die vroeë Kerk ‘n sterk “dualisme” aanwesig. Wat met dualisme bedoel word, is ‘n konstante opposisie teen God. Daar is weerstand tussen goed en sleg, tussen God en húlle wat in verset is teen sy wil. Jy vind as’t ware God en sy liefde, en dan die rebellie van sy skepsels.[9]
8.) Die bose speel ‘n belangrike rol.
Die prominente plek wat die bose in die teologie van die vroeë Kerk inneem, is opmerklik. Hierdie punt verdien eintlik meer as net ‘n opmerking, omdat die diverse maniere waarop daar van die bose gepraat word, ‘n studie op sy eie kon wees. Party het gesê dat die losprys wat Christus betaal het, aan die Satan oorbetaal is (iets wat Anselmus heftig ontken het). Ander het gesê dat die Satan “regte” oor God se skepping verky het.[10] Nog ander het gesê dat Jesus se versoeningswerk daaruit bestaan het dat Hy die Satan “gekul” het (soos in Augustinus se muisval metafoor).[11] Tot ‘n groot mate is die magte van die duisternis gepersonifiseer en beskou hulle die Satan as iets met ‘n objektiewe bestaan.[12] Die duiwel word maklik in dieselfde sin as sonde en die dood gebruik, en die hoofgedagte is Jesus se oorwinning daaroor.[13]
9.) Sterk eskatologiese verwagting.
As daar ooit ‘n teologiese aspek is wat ons deesdae verwaarloos, is dit ‘n eskatologiese verwagting. Die prediking van die vroeë Kerk was egter eskatologies georienteerd. Die volledigheid van Jesus se oorwinning word nog nie gerealiseer in hierdie lewe nie. Dit word eers sigbaar met die koms van die volgende koninkryk. Daarom is byvoorbeeld die geskenk van die Heilige Gees reeds in hierdie lewe, vir die vroeë Kerk so ‘n belangrike voorsmaak van die toekomstige glorie wat ons gaan beleef.[14]
10.) Verlossing is deurlopend ‘n Goddelike werk.
Aulén praat van ‘n “continuous divine work”.[15] Wat dit beteken is dat die vroeë Kerk dit nie beskou het dat Jesus op enige tydstip van sy Goddelikheid afstand gedoen het nie. Hy was deurlopend in sy geboorte, lewe, kruisiging, opstanding en hemelvaart, God. “Dit is wonderlik” mag jy dink, “want dit is presies wat ons ook sê”. Maar nie so vinning nie. Dit is op hierdie punt wat Aulén meen die groot skeiding tussen ons en die vroeë Kerk kom.
Anselmus se “teorie van bevrediging” se basiese veronderstelling is dat die benodigde boetedoening vir die oortreding van sonde, deur die mens gebring moet word omdat die mens die oortreder is. Die mens is egter nie in staat om die prys te betaal nie, want alle mense is sondig. As die mens dit nie kan doen nie, moet God dit doen. Die probleem is dat die boete deur die mens betaal móét word, omdat dit ons is wat skuldig is. Die enigste oplossing is dus dat God mens word en die boete namens ons betaal.[16]
Maar as dit die geval is, is verlossing nie meer ‘n ononderbroke handeling van God nie, want Christus betaal die prys as méns. Volgens Anselmus word Christus se offer aan God gemaak, as’t ware van onder na bo.[17] Die vroeë Kerk sou sê dat die offer van bo na onder gekom het – en steeds God gebly het selfs op die kruis.
Aulén som die kruks van die skeiding tussen die vroeë Kerk met díe van Anselmus as volg op:
“Here, then, the contrast between Anselm and the Fathers is as plain as daylight. They show how God became incarnate that He might redeem; he teaches a human work of satisfaction, accomplished by Christ.”[18]
Ons sit met ander woorde met ‘n baie klein klemverskil, wat – volgens Aulén – ‘n groot verandering teweegbring in die beskouing van versoening. Wat dink jy? Dink jy hierdie kom daarop neer dat die Kerk van vandag op ‘n “syspoor”[19] beland het, soos Aulén sê?
In deel III konfronteer ons die Christus Victor motief met die Nuwe Testament.
[1] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p66-67
[2] Ibid, p55, 57
[3] Ibid, p53-54
[4] Ibid, p22-25
[5] Ibid, p41; 60
[6] Ibid, p42
[7] Ibid, p31
[8] Ibid, p34-35
[9] Ibid, p5
[10] Ibid, p45;47
[11] Ibid, p46;51
[12] Ibid, p26
[13] Ibid, p25
[14] Ibid, p22;44
[15] Ibid, p5
[16] Ibid, p72; 82-83; 86
[17] Dit is die antwoord op Anselmus se bekende vraag “Cur Deus Homo?” oftewel “Waarom het God mens geword?”, wat hy in die boek met dieselfde titel antwoord.
[18] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p88
[19] Ibid, p14