2.) Reflections on the Bible & theology,  3.) Reviewing material

Christus Victor (Deel I)

Hoe sal jy reageer as iemand vir jou sê dat die manier waarop ons vandag die lewe en sterwe van Jesus verstaan, nie die manier is waarop die eerste Christene dit geïnterpreteer het nie? Waarskynlik sal jy (soos ek) die persoon afmaak as net nog ‘n godsdienstige kranksinnige.

Maar wat as die persoon wat hierdie beweringe maak, nie versteurd is nie maar ‘n kenner van die vroeë Kerk? Sal jy luister? Dit is die posisie waarin ek myself bevind het, toe my pad met die werk van Gustaf Aulén gekruis het. Ek het sy navorsing verrykend gevind en oordeel dat sy werk ‘n besondere bydrae lewer tot ons verstaan van wie Jesus is en wat Hy kom doen het.

Ek wil daarom graag die werk van Gustaf Aulén met jou deel, en het besluit om vir die volgende 5 Woensdae ‘n kort inskrywing oor sy boek, Christus Victor, te plaas. Kom ons verdeel die reeks aan die hand van 5 K’s:

  • Deel I              Konteks van die “Christus Victor” debat
  • Deel II             Kenmerke van die “Christus Victor” teologie
  • Deel III            Konfrontering met Nuwe Testamentiese tekste
  • Deel IV           Kritiek teen die “Christus Victor” hipotese
  • Deel V            Konklusies oor die “Christus Victor” ideologie.

1.) Konteks van die “Christus Victor” debat.

Gustaf Aulén se navorsing oor die vroeë Kerk, help ons om ‘n voller verstaan te ontwikkel van wie Jesus was en wat Hy kom doen het. In die bestudering van die Christus Victor teologie, sal dit vir jou duidelik word dat ons geneig is om Jesus se versoeningswerk te verskraal tot die uitdelging van ons sondeskuld – terwyl Hy inderdaad méér as net dit kom doen het. Hy het kom verower en het as finale oorwinnaar getriomfeer! Maar voor ons goedskiks by al implikasies hiervan kan uitkom, moet ons eers onsself deeglik van die teologie vergewis.

Die doel van vandag se inskrywing is bloot om die tafel te dek vir wat in die volgende paar weke gaan volg. Jy wil sekerlik ‘n bietjie meer agtergrond hê oor wie en wat bogenoemde konsternasie veroorsaak het, daarom verf ek gou vir jou in breë trekke die hoofgedagtes.

2.) Agtergrond

Gustaf Aulén het in 1930 by die universiteit van Uppsala ‘n reeks lesings gegee wat verreikende gevolge gehad het. Hy was op daardie stadium ‘n professor in sistematiese teologie by die universiteit van Lund, en biskop van Strängnäs in die Kerk van Swede.

In sy lesings het hy gevra vir ‘n omvattende herbesinning oor die Kerk se leer oor versoening. Hy het so ver gegaan as om dit wat deur die Kerk geleer is, ‘n “foutiewe vertolking[1] van die tradisionele konsep oor versoening te noem, en gesê dat die Kerk haarself tans op ‘n “syspoor[2] binne die dogma van die Christendom bevind. Dit is sterk woorde, en ons sal in die volgende paar weke kyk of dit ‘n legitieme aantuiging was.

Aulén het aangevoer dat vir die eerste 1000 jaar van die Christendom se geskiedenis, daar anders gedink en gepraat is oor Jesus se versoeningswerk. Ek moet miskien hier noem dat my hare altyd orent staan wanneer ek iemand hoor sê “die vroeë Kerk het dit of dat geglo”. Mens kan nie die term “vroeë Kerk” as ‘n versamelnaam rondswaai asof almal in die bestek van ‘n 1000 jaar oor alles uit een mond gepraat het nie. Jy vind baie diversiteit in die vroeë Kerk. Om mee te begin moet jy altyd spesifiseer of jy van die Kerk in Ooste of van die Kerk in die Weste praat. Ons nuanseer kwessies ongetwyfeld anders as ons Oosterse broers.

Aulén is ook van hierdie gevaar bewus, maar hou nogtans voet by stuk dat die vroeë Kerk oor Jesus se versoeningswerk dieselfde taal gepraat het. In die Kerk van die Ooste vind jy deurgaans dieselfde konsepte vanaf Irenaeus (200nC) tot by Johannes van Damaskus (749nC), wat algemeen beskou word as die afsluiting van die patristiese (vroeë Kerk) tydperk.[3]

Aulén gee toe dat die saak meer gekompliseerd is in die geval van die Kerk in die Weste, maar dring nogtans daarop aan dat invloedryke teoloë soos Augustinus en Gregorius van dieselfde woordeskat en konsepte gebruik gemaak het.[4]

3.) Die begin van die “syspoor”

Volgens Aulén het die groot teologiese klemverskuiwing in die 11de eeu na Christus gekom, toe Anselmus van Kantelberg (1109nC) die “teorie van bevrediging” (satisfaction theory) verwoord het. Hiervolgens het Christus, as mens, in ons plek gesterf om aan God se vereiste van heiligheid te voldoen. Hierdie gedagte is later deur Johannes Calvyn (1564nC) verfyn. Hý het Jesus se dood verduidelik deur te sê dat ons sonde ‘n aanslag op God se heiligheid is, en dat Jesus daarom in ons plek gestraf is. Christus se offer aan die kruis het God se toorn oor sonde bevredig, vandaar die naam “teorie van bevrediging”.

Aulén gee toe dat Anselmus se gedagtes nie op daardie stadium splinternuut was nie. Die eerste spore kan ons reeds by Tertullianus (225nC), en Cyprianus (258nC) vind. Maar hulle gedagtes was soos geïsoleerde klippe wat verspreid in die veld van die vroeë Kerk se teologie gelê het. Anselmus was die een wat hierdie los klippe geneem het en die huis gebou het, tot dit wat ons vandag ken as die “teorie van bevrediging”.[5]

Die klemverskuiwing wat Anselmus in die elfde eeu gebring het, was om sonde koud en klinies te beskou as ‘n oortreding van God se wet. Jesus se versoeningswerk is bloot geïnterpreteer as ‘n wetlike of juridiese verlossing van ons sondeskuld.[6] Aulén noem dit die Latynse perspektief. Daarteenoor noem hy die uitgangspunt wat die vroeë Kerk vir die eerste 1000 jaar gehuldig het, die klassieke perspektief.[7] Hierdie klassieke perspektief het na aanleiding van Aulén se navorsing, bekendheid verwerf as die Christus Victor teologie – Latyn vir “Christus die oorwinnaar”.

4.) Wat sê die Bybel?

Waarskynlik skaar jy jouself nog op hierdie stadium aan die kant van Anselmus. Dit klink tog of dit wat hy geleer het presies is wat die Bybel sê. Hoe verduidelik Aulén al die tekste wat ons daarop wys dat Jesus vir ons sondes gesterf het? Mens kan dit nie net wegredeneer nie!

Wanneer ons in deel IV die kritiek op die Christus Victor hipotese behandel, gaan ons inderdaad na ‘n paar sulke teksgedeeltes kyk. Intussen kan ons daarmee volstaan om te sê dat Aulén ons daarop wys dat ons geneig is om tekste te interpreteer aan die hand van ‘n vooropgestelde idee – soos Anselmus se teorie van bevrediging. Dit kleur ons verstaan van ‘n gedeelte. Maar wanneer ons dit regkry om vir ‘n oomblik daardie bril eenkant te plaas, en dieselfde teksgedeelte met ‘n “Christus Victor bril” te lees, sal ons vind dat daar alternatiewe interpretasies bestaan.[8]

So ‘n uitdaging maak my opgewonde. Ek is altyd bereid om vanuit ‘n ander perspektief na ‘n saak te kyk en om ideologieë en standpunte wat ek handhaaf, te bevraagteken en dan ‘n waarde-oordeel te maak. Daarom het ek besluit om hom ‘n kans te gee om sy saak te stel.

5.) Hoofidee van die Nuwe Testament – asook van Martin Luther

Aulén is so seker dat die Christus Victor motief in die Bybel voorkom, dat hy so vêr gaan as om dit te noem:

“the dominant idea of the New Testament; for it did not suddenly spring into being in the early church , or arrive as an importation from some outside source, It was, in fact, the ruling idea of the Atonement for the first thousand years of Christian history. In the Middle ages it was gradually ousted from its place in the theological teaching of the church, but it survived still in her devotional language and in her art. It confronts us again, more vigorously and profoundly expressed than ever before, in Martin Luther, and it constitutes an important part of his expression of the Christian faith.”[9]

Ja, jy het reg gelees. Aulén meen dat Martin Luther die Christus Victor motief herontdek het, en in die reformasie gepoog het om die gedagte weer te laat herleef. Die woordeskat van die Latynse perspektief was egter so diep in ons gewortel, dat ons nie die volle omvang van Martin Luther se boodskap nie gehoor het nie.

6.) Wat behels die Christus Victor teologie?

Maar wat behels die Christus Victor motief en hoe is dit anders as die Latynse perspektief? Wel, dit is wat ons in die volgende paar weke gaan ondersoek. Vir nou kan ons dit opsom deur drie aanhalings van Aulén self.

  1. Eerstens, rakende die aard daarvan moet jy weet: “It is not a logically articulated theory of redemption, but rather an idea, a motif, a theme, which is essentially one and the same in Paul and in the early church, but finds ever-varying forms of expression.”[10]
  2. Tweedens, met betrekking tot die deurlopende tema daarvan sê Aulén: “Its central theme is the idea of the atonement as a Divine conflict and victory; Christ – Christus Victor – fights against and triumphs over the evil power of the world, the ‘tyrants’ under which mankind is in bondage and suffering, and in Him God reconciles the world to Himself.”[11]
  3. Derdens, is die hoofgedagte van Christus Victor teologie die volgende: “The main idea is clear. The work of Christ is first and foremost a victory over the powers which hold mankind in bondage: sin,death, and the devil. These may be said to be in a measure personified, but in any case they are objective powers; and the victory of Christ creates a new situation, bringing their rule to an end, and setting men free from their dominion.”[12]

In deel II kyk ons na die unieke kenmerke van die Christus Victor motief, soos verstaan deur die vroeë Kerk.

  • [1] Aulén, G. 1931 (2010) Christus Victor, SPCK, p1
  • [2] Ibid, p14
  • [3] Ibid, p37
  • [4] Ibid, p38-39
  • [5] Ibid, p2;38-39
  • [6] Ibid, p2
  • [7] Ibid, p6
  • [8] Ibid, p16
  • [9] Ibid, p6-7
  • [10] Ibid, p66-67
  • [11] Ibid, p4
  • [12] Ibid, p20

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *