4.) Research on science

Het Jesus ‘n vrou gehad?

Ek was lanklaas só opgewonde oor ‘n ontdekking wat gemaak is! Die afgelope week het dit in die media gegons oor die nuutgevonde stukkie papirus, waarin Jesus die woorde “my vrou” gebruik. Hierdie antieke teks word nou “die evangelie van Jesus se vrou” genoem.

Nodeloos om te sê het dit groot opskudding veroorsaak. Beriggewing oor die nuwe fonds het plaaslike en internasionale koerante gehaal. Ten spyte van al die mediadekking, bestaan daar ongelukkig heelwat verwarring onder Christene oor wat die implikasie van die nuwe ontdekking is.

Ek kan verstaan hoekom daar so baie misverstand is. Smithsonian het byvoorbeeld ‘n dokumentêre program gemaak wat absoluut gedryf is deur sensasie (om dit ligtelik te stel). Ek kon nie help om te glimlag toe ek die dramatiese musiek en bewoording hoor nie. Doen jouself die guns en kyk na die 30 sekonde voorskou.

Die program word 30 September 2012 uitgesaai. Soos wat dit sy pad na Suid Afrika vind, gaan dit weer vir almal wat in samesweringsteorieë glo, rede gee om Dan Brown se Da Vinci Code nader te trek, en al wat ‘n kerk is met agterdog te bejeën. Daarom het ek dit goed gedink om so bietjie meer oor die ontdekking te vertel en na die implikasie vir ons as Christene te kyk.

Wat is die feite aangaande die ontdekking?

Karen King van Harvard Divinity School het op 18 September 2012 by ‘n kongres die bestaan van die teks bekend gemaak. Sy is ‘n gesiene akademikus wat op die historiese Jesus asook die vroeë Kerk navorsing doen.

King het nie self die teks gevind nie. Sy is genader deur ‘n privaatversamelaar wat die teks in 1997 van ‘n Duitse versamelaar bekom het. Die huidige versamelaar verkies om anoniem te bly, en dit ry gevolglik die meriete van die ontdekking ietwat in die wiele. Om die geloofwaardigheid van die ontdekking te bepaal, wil die akademici weet wat die oorsprong van die teks is. Dit is immers baie maklik om ‘n antieke stukkie papirus te koop en ‘n teks daarop te “vervals”. Die feit dat die Duiste versamelaar intussen “gerieflikheidshalwe” oorlede is, laat sommige se wenkbroue lig.

Maar kom ons praat spesifiek oor die teks. Die naam “Evangelie van Jesus se vrou” kan waarskynlik bietjie misleidend oorkom. Dit is glad nie ‘n evangelie soos ons dit in die Bybel ken nie. Die teks word eintlik beter gedefinieer as ‘n “fragment” – met ander woorde ‘n stukkie van ‘n boek. Dit is ‘n baie klein stukkie om die waarheid te sê.

Die grootte daarvan is net ‘n raps kleiner as jou bankkaart. Dit bestaan uit 8 reëltjies – 33 woorde in totaal! Nie een van die 8 reëltjies bevat ‘n volledig sin nie.[1] Die rede waarom dit die naam die “Evangelie van Jesus se vrou” gekry het, is vanweë die uitstaande kenmerk van die fragment, naamlik Jesus se verwysing na “my vrou”.[2]

Maar nou moet jy jou nie dood skrik en dink dat Jesus getroud was nie! Hierdie fragment dateer uit die vierde eeu na Christus – met ander woorde meer as 300 jaar nadat Jesus geleef het.

Die woorde wat hierdie fragment bevat, was met ander woorde nie regtig in die mond van die historiese Jesus nie. Die woorde is deur die outeur van die fragment – eeue nadat Jesus geleef het –  as’t ware in Jesus se mond gesit.

Hoekom is die ontdekking waardevol?

Nou vra jy seker: “Hoekom is die fragment so waardevol, as die woorde nie regtig deur Jesus gespreek is nie?” Die rede hoekom die ontdekking waardevol is, is omdat dit vir ons ‘n kykie gee na die tipe debatte wat in die vroeë Kerk gevoer is.

Ons weet vanuit ander geskrifte dat die vroeë Kerk oor seksualiteit en die huwelik debat gevoer het. Sommige geestelike leiers was teen die huwelik gekant en het gevoel dit is nie gepas dat ‘n Christen trou en seks het nie. Die Rooms Katolieke Kerk se leer oor selibaatskap het waarskynlik sy oorsprong in hierdie debatte gevind.

Ander geestelike leiers het weer glad nie ‘n probleem daarmee gehad dat Christene trou en seks het nie. Wat ons uit hierdie fragment leer, is dat húlle aangevoer het dat Jesus getroud was, om sodoende bietjie gewig aan hulle argument te verleen.

Dit is die eerste en enigste teks wat ons nog ooit gevind het wat hierdie aanspraak maak. Die teks is ook nie geskryf in Grieks soos ander Nuwe Testamentiese geskrifte nie, maar in ‘n Suid Egiptiese, Koptiese dialek. Karen King se teorie is dat hierdie fragment dalk ‘n vertaling van ‘n ander teks is wat uit rondom 150nc dateer. Dit is egter alles spekulasie en kan nie bewys word nie.

Ek moet dalk ook noem dat nie al die geleerdes nie ewe opgewonde oor die fragment is nie. Etlike akademici het al hulle huiwering uitgespreek oor die egtheid van die teks. Sommige meen dat Karen King bedrieg is met ‘n vervalste fragment, terwyl ander die teks beskou as ‘n “collage” van gedeeltes uit ander apokriewe boeke en dat dit nie so outentiek is as wat dit voorkom nie. In hierdie verband kan jy die inskrywings van Mark D Roberts lees, asook van die Nuwe Testamentikus Francis Watson van Durheim Universiteit. Al drie sy artikels is op die skakel te vinde. Kyk ook gerus na die video van Ben Witherington.[3]

King het toegegee dat die egtheid van die teks nog getoets moet word. Die ink word met chemiese stowwe getoets om te sien of dit werklik antiek is.

Indien die egtheid van die fragment bevestig word, het dit weinige (indien enige) implikasie vir jou as Christen. Die groep mense wat die meeste daarby gaan baat, is die geleerdes wat navorsing oor die eerste paar eeue van die Christendom doen. Vir hulle sal dit ‘n groot aanwins wees om te sien hoe die debatte ontvou het.

Ek bedink myself – miskien leer ek en jy tog iets uit hierdie hoofstuk van die geskiedenis. Laat ons nie dink dat die vroeë Kerk sonder foute was nie. Hulle was in baie opsigte net so kleinlik en kortsigtig soos ons huidige generasie Christene. Tog het die Here hulle gebruik – net soos Hy die huidige Kerk met al haar foute gebruik.

Waar lê my besorgdheid?

Ek het heel aan die begin gesê dat ek opgewonde oor die ontdekking is. Dit is regtig baie goeie nuus. Ek is baie dankbaar vir ‘n bykomende bron wat ons ‘n wyer en groter prentjie van die vroeë Kerk gee – wat ‘n persoonlike belangstellinsveld van my is.

Tog moet ek erken dat die nuus nie vir my uitsluitlik positief was nie. Ek was nie gelukkig met hoe die media hierdie waardevolle ontdekking, in ‘n sensasionele storie skeefgetrek het nie. In Suid Afrikaanse koerante was die beriggewing mooi genuanseerd, maar sommige van die buitelandse mediadekking was doelbewus misleidend.

Die opskrif van die National Geographic het byvoorbeeld gelui: “Jesus may have had a wife, ancient text suggests”. Hulle los die suggestie dat die historiese Jesus getroud was – en dit is doodeenvoudig níe wat hierdie fragment bewys nie. Ek vind dit met ander woorde doelbewus misleidend.

Vergelyk byvoorbeeld National Geographic se opskrif met dít wat Karen King in haar amptelike verslag oor die ontdekking skryf, en jy sal sien dat dit wêrelde uitmekaar is. King se amptelike verslag kan hier gevind word, en sy sê:

This is the only extant ancient text which explicitly portrays Jesus as referring to a wife. It does not, however, provide evidence that the historical Jesus was married, given the late date of the fragment and the probable date of original composition only in the second half of the second century.

Onverskillige beriggewing krap my nogal om. Ek dink die rede daarvoor is omdat daar pas weer bevindings van ‘n studie verskyn het wat aantoon hoe maklik mense foutiewe informasie glo en dit later as die waarheid voorhou. Gooi met ander woorde in die smeltkroes nog ‘n paar bykomende komponente, soos die reeds negatiewe ingesteldheid van die sekulêre mens teenoor die Christendom en die feit dat baie mense nie die artikel gaan lees nie maar net die opskrif – en in ‘n oogwink sit jy met ‘n generasie wat ‘n nog groter wanpersepsie oor die Christendom gaan hê as die huidige geslag!

My aanvanklike opwinding oor die ontdekking van die fragment, is dus so bietjie versuur deur al die kwaadwillige beriggewing. Ek moet maar seker net daarmee verlief neem dat ons in ‘n tyd leef waar die wêreld ‘n “teologie van suspisie” jeens God, die Bybel, die Kerk en die Christendom het.

In alle billikheid moet ek sê dat die Kerk dikwels self die skuld hiervoor moet dra. Die kongres waar King die bevinding bekend gemaak het was in Rome, maar die Vatikaan het nie ‘n enkele berig in die koerant of storie oor die radio daaroor uitgesaai nie! As dit jou houding is, kan jy seker ook nie verbaas wees as mense jou met agterdog bejeën nie.

Wat maak dit saak of Jesus getroud was of nie?

Ek wil jou ‘n interessante vraag vra. Veronderstel vir ‘n oomblik dat ons ‘n manuskrip ontdek wat sonder enige twyfel bewys dat die historiese Jesus getroud was. Sou dit as’t ware “jou bootjie skud”? Maak dit aan jou enige verskil of Jesus getroud was of nie?

Miskien is die rede waarom so baie Christene met hierdie ontdekking geskrik het, die feit dat dit ‘n Jesus skets wat regtig mens soos ek en jy is. As Christene glo ons mos dat Jesus twee nature het: Hy is volledig God en volledig mens. Maar dikwels onderspeel ons sy menslikheid. Sou dit vir jou voel asof ‘n huwelik vir Jesus te veel van ‘n mens maak?

Dit is ‘n sinvolle selfondersoekende vraag om aan jouself te vra. Ek sal graag jou kommentaar wil hoor hoe dit jou siening van Jesus sou affekteer!

Vir my persoonlik maak dit saak dat Jesus nie getroud was nie – maar ek wil graag hoor hoe jy dink…


[1] As jy wil, kan jy na die amptelike foto’s, transkripsie en vertaling kyk wat Harvard Divinity School hier gepubliseer het.

[2] Tog is daar geleerdes soos Albert Mohler wat die motief vir die naamgewing in twyfel trek. Hy het gesê: “This is sensationalism masquerading as scholarship”

[3] Vanuit die nuutste verwikkelinge lyk dit asof daar onder akademici ‘n groeiende ongemak met die egtheid van die fragment is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *