Verskil “God se weë” regtig van ons s’n?
“Die Here se weë is nie ons weë nie”. Dit is wat ons altyd hoor in tye van trauma en fratsongelukke. Sonder om twee keer daaroor te dink, blaker ons dit uit asof die blote aanhoor daarvan vertroosting moet bied.
Mense bedoel daarmee dat wat vir ons “sleg” is, nie noodwendig vir God “sleg” is nie. Ons “sleg” is God se “goed”. Hoewel iets vir jou “pynlik” is, weet God kwansuis dat jy by dit sal “baat”.
Die Bybelgedeelte wat gebruik word om aan te toon dat God se waardes van die mens s’n verskil, vind ons in die profetiese literatuur. ‘n Gedeelte uit Jesaja lui: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jes 55:8 OAV).
C.S. Lewis oor God se waarde-oordeel.
Het jy al die konsekwensie daarvan deurdink om te wil voorgee dat God se “goed” van ons “goed” verskil? Die bekende wysgeer C.S. Lewis het die gevaar daarvan raakgesien. Hy sê dat indien God se waarde-oordeel van ons s’n sou verskil, asof ons “swart” God se “wit” is, ons dit nooit sou kon waag om God “goed” te noem nie. Hoe sou ’n God lyk wat ons aan die hand van ons waardes “goed” noem?
C.S. Lewis sê as ons konsep van “goed” dan so verwronge is, kan iets soos die Christendom wat ons ook “goed” noem, inderwaarheid ’n soort duiwelaanbidding wees![1] Iemand wat dus goedskiks wil voorgee dat ons waardes van God s’n verskil, het duidelik nog nie die konsekwensie van so ’n redenasie deurdink nie.
God se weë in konteks beskou.
As ons Jesaja 55 in sy konteks lees en deeglike eksegese oor die gedeelte doen, sien ons dat hierdie teks glad nie wil voorgee asof God ‘n duistere doel met lyding het nie. Die gedeelte handel oor God se vergifnis.
Dit is ’n pleidooi dat die volk hulle na God toe moet terugkeer. Die volk was egter bang dat as hulle na God terugkeer, God hulle sondes sou wreek. Dit is immers hoe die mens geneig is om in sy verhoudingslewe om te gaan.
Hulle ontvang egter die versekering dat hoewel die mens se weë gekenmerk word aan wraaksug, God se weë baie hoër (beter) as ons s’n is. God se genade gaan ons verstand te bowe! Hy vergewe! Is dit nie tragies dat ’n teks wat veronderstel is om God se goedheid te verkondig, verdraai word om kwaad aan God toe te dig nie?
‘n Gelowige kán weet hoe God oor ‘n saak dink.
Moet nooit weer wanneer jy met lyding gekonfronteer word, sê: “ons sal seker nooit verstaan hoe die Here oor dit dink nie”. Dit klink godsdienstig – maar dit is nie gelowig nie. Mag ek jou iets skokkends vertel? Ons kán weet hoe God oor ‘n saak dink.
In sy brief aan die gemeente in Korinte, skryf Paulus: “Wie kan verstaan wat die Here dink? Wie kan Hom raad gee?” (1 Kor 2:16a NLV). As jy ‘n Bybel met verwysings nadertrek, sal jy sien dat Paulus besig is om ‘n gedeelte uit Jesaja 40:13 aan te haal. Jesaja vra ‘n retoriese vraag. Die veronderstelde antwoord is natuurlik “niemand nie”. Niemand onder die ou verbond kon daarop aanspraak maak dat hulle weet hoe God oor ‘n saak dink en voel nie.
Maar ek en jy is nie meer onder die ou verbond nie. Ons besit die volle openbaring van die Vader se wil en karakter, te danke aan die lewe van Jesus Christus. Hy is God se selfopenbaring en ‘n presiese weerkaatsing van hoe God optree.
Daarom korrigeer Paulus as’t ware die Ou Testament in die volgende vers: “Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is ingestel om soos Christus te dink” (1 Kor 2:16b NLV). Ons as kinders van die nuwe verbond, kan alles wat met ons gebeur, teen die lewe van Jesus beoordeel.
Praktiese implikasie
Ek sit nie in vrees en wag vir die volgende noodlottige ongeluk wat God kwansuis vir my organiseer nie. Ek is nie meer daaroor besorg of Hy besig is om iets “boos” tot my beswil te beplan nie.
As ek nie Jesus sulke dinge sien doen het nie, dan weet ek dat my Vader dit ook nie doen nie. Die Vader se wil en karakter het nie verander sedert Jesus tussen mense kom loop het nie. Die Bybel sê: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8 OAV).
Jesus het met ander woorde die “altydgeldende wil” van die Vader kom openbaar. Deur alles teen die lig van sy lewe te meet, kan jy áltyd met sekerheid weet wat God se vaderhart vir jou situasie behels.
[1] Lewis, C.S. 1940 (2002) The Problem Of Pain, Harper Collins Publishers, p28-29