Hoe hoor ‘n mens God se stem?
Praat God enigsins vandag nog?
Ek wil graag in hierdie maand met jou praat oor hoe ons God se stem hoor. Vir die volgende vier weke gaan ons elke Woensdag ‘n ander aspek behandel van hoe om God se leiding te ervaar. Elke week gaan ons net ‘n kort gedagte omtrent die onderwerp wissel. Vandag ondersoek ons net die vraag of God enigsins nog deesdae met ons praat – en of dit nie ‘n groot klug is nie.
Miskien is jou eerste reaksie dat dit nogal voorbarig is om voor te gee dat dit moontlik is om God te hoor praat – selfs gevaarlik. Daar is immers oral rondom ons mense wat deur gelowiges seergemaak is, wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle God kon hoor praat! Miskien het al die wanpraktyke jou skepties gemaak.
As dit jou voorbehoud is, moet ek jou gelyk gee. Talle mense is al in die verlede deur individue (en selfs deur geloofsgroeperings), met “God se stem” gemanipuleer. Daar is ongelukkig veels te veel voorbeelde in die geskiedenis, van mense wat met katastrofiese gevolge, woorde as’t ware in God se mond geplaas het. Ons kan dit nie ontken nie en dit nog minder goedkeur.
Waarskynlik is dit juis as gevolg van al die verwarring en misbruik van “God se stem”, dat ek passievol daaroor voel om met gelowiges te praat oor hoe om op ‘n verantwoordelike manier God se leiding te ervaar. Want dít moet ons ook vir mekaar sê, ten spyte van al die voorbeelde van misbruik, bly die behoefte om leiding van God te ontvang, sekerlik een van die begeertes wat die algemeenste onder Christene voorkom.
Een of ander stadium worstel elkeen van ons met die vraag of jy God korrek hoor. “Is dit nie maar net my eie gedagtes waarmee ek in selfgesprek is nie?” of nog meer intens “Waarom is daar van God se kant die oorverdowerende stilte?”
Geskep vir gesprek met God
Ja, daar is baie mense wat die verskynsel dat God kwansuis met ons wil praat, probeer afmaak. Mense wat krities teenoor dit staan gooi dit dikwels oor dieselfde boeg as skisofreniese afwykings. Of hulle beskou dit asof dit op dieselfde vlak is as iemand wat daarop aanspraak maak dat hy deur ruimtewesens ontvoer is. Maar ten spyte van al die verdagmakery, bly dit iets waarna ‘n beduidende deel van mensdom, hulle hele lewe lank na hunker.
In die klassieke boek – Hearing God – haal Dallas Willard die hoofartikel van ‘n bepaalde uitgawe van Newsweek aan. Dit lui dat in ‘n gemiddelde week . . . “more of us will pray than go to work, or exercise or have have sexual relations . . . 78 percent of all Americans pray at least once a week, more than half (57 percent) report praying at least once a day . . . Even among the 13 percent of Americans who are atheists or agnostics, nearly one in five still prays daily”[1]
Die logika van gesprek
Die interessante is dat ‘n aansienlike persentasie van die mense wat aan die bogenoemde steekproef deelgeneem het, aangedui het dat hulle ook luister of God iets vir hulle te sê het. En hoekom sal dit nie so wees nie?
As ons dan glo dat ons met God kan praat – waarom sal die omgekeerde nie ook waar wees nie? Dan is dit mos nie so vergesog om te dink dat God ook met ons kan/wil/sal praat nie? ‘n Verhouding met enige lewendige, intelligente wese, veronderstel tog dat kommunikasie wedersyds sal plaasvind. As jy dus reeds tot die slotsom gekom het dat God bestaan en dat jy met Hóm kan praat, is dit maar ‘n kort treëtjie verder om te sê dat Hy ook met jóú kan praat.
Ek wil dit weer benadruk: God se stem word dikwels “misbruik” met rampspoedige gevolge. Ons kan dit nie goedpraat nie. Tog kan ons ook nie die feit dat Hy met mense praat, ontken net omdat dit soms misbruik word nie.
Sentrale gedagte in die Bybel
Die idee dat God met ons wil praat, vind ons natuurlik in die Bybel. Die Bybel bevat die verhaal oor God, wat in verhouding met die mens wil staan. Herhalend kom die tema na vore dat God na ons uitreik. Eers praat Hy met ons deur sy profete, later deur sy eie Seun en nog later deur sy Heilige Gees.
Ons het geen rede om te vermoed dat God intussen van plan verander het en deesdae verkies om nie meer met ons te praat nie. Hoe daardie kommunikasie lyk en plaasvind, sal ons nog by uitkom. Vir nou is dit net van belang dat jy sal insien dat die Bybel ‘n prentjie skets van ‘n God wat met die mensdom in gesprek wil wees. Speel gerus in die volgende week met hierdie gedagte en kyk of jy nie in jou gemoed meer ontvangklik vir die idee word, dat die Here ook met jóú wil praat nie.
Persoonlike opinie
Ek is dus vas oortuig dat God vandag nog met ons kommunikeer. Ek het wel bepaalde idees oor die maniere waarop (ek dink) Hy praat, en hoe ons dit kan verifieer, maar meer daaroor op ‘n latere keer.
Vandag wil ek graag weet of daar al ‘n insident in jou lewe was waar jy die Here se stem ervaar het? Was daar al ‘n stadium waar jy sy leiding baie intens beleef het? Jy hoef nie in detail te vertel nie, maar ek wil graag weet of jy al die Here in jou lewe hoor praat het.
Ek sal ook graag van mense wil hoor wat al die slagoffers van geestelike manipulering was. Het iemand jou al probeer oorreed om iets te doen, deur voor te gee dat God so sê? Was hierdie negatiewe ervaring, genoeg vir jou om te sê dat God nooit met mense praat nie?
Ja, ek is ook skrikkerig is as ek iemand hoor sê “die Here het vir my gesê . . . ”, maar ek maak nie verskoning vir die verskynsel dat ons as Christene wel onder ‘n sterk indruk kan kom dat God met ons besig is nie.
Nie almal gaan natuurlik met my saamstem nie, en jy is welkom om van my te verskil. Miskien het jy al ‘n paar nare ervarings van geestelike manipulering gehad, en is jy heeltemal die skrik op die lyf gejaag as iemand die aanspraak maak: Die Here het vir my gese
‘n Onderwyser vra mos vir sy klas om hande op te steek wie met ‘n stelling kan assosieer. Ek wil as’t ware dieselfde met jou doen. Gee bietjie vir my ‘n aanduiding of jy glo dat die Here vandag nog met mense praat of nie.
Was daar al ‘n insident in jou lewe wat jy die Here se stem “gehoor” het? Of was jy al aan die ontvangkant van geestelike manipulering. Glo jy met ander woorde dat God vandag nog met mense praat?
[1] Willard, D. 1984 (1999) Hearing God, Intervarsity Press