Hoe herken ‘n mens die Here se stem?
Waarna luister jy as jy God se stem wil hoor? Op watter tipe dinge slaan jy ag as jy die Here se leiding wil ervaar? Dit is waarna ons vandag gaan kyk. Ek wil 7 maniere uitlig hoe jy die Here se stem kan herken. Ek vertrou dat dit jou nog baie in die toekoms sal help:
1.) Gesprek in die eerste persoon
Die kanse dat God ooit in ‘n hoorbare stem met jou gaan praat is baie skraal. Selfs in die Bybel was dit meer die uitsondering as die reël.
Tog wag ons almal vir die dag wat jy skielik in jou gedagtes jou naam met ‘n gepaardgaande boodskap, gaan hoor. Ons verwag dat die Here se stem iets sal klink soos: “Walter, Ek wil hê jy moet opstaan en dadelik vir André skakel met die volgende boodskap . . .”
Die hartseer is dat hierdie verwagting ons verhoed om al die ander kere wat God praat, raak te sien. Na alle waarskynlikheid gaan God nooit in die stem van die derde persoon verteller met jou praat nie.
God se stem kom na ons toe in die “eerste persoon”. Die rede hiervoor is omdat sy Gees met ons gees, één geword het. Hy praat dus nie “van buite” nie, maar “van binne”. Dit klink soos jou eie gedagtes.
Wanneer God met jou praat sal jy tot die insig kom: “Ek voel ek moet vir André skakel” of “Ek dink die Here sê vir my om hierdie te verander” of “Ek kom onder die oortuiging dat die Here vir my sê om dit of dat te doen”.
Dit is die eerste en mees basiese beginsel om die stem van die Here te herken. Tog is dit juis oor hierdie onderskeid tussen die eerste en derde persoon verteller, waaroor daar soveel verwarring heers.
As jy nie weet dat jy moet ophou soek na die stem van die derde persoon verteller en begin luister na die oortuiging wat jy in die eerste persoon verteller vind nie, gaan jy jou hele lewe lank dink die Here praat nie met jou nie! Dit is waarskynlik ook die rede waarom daar soveel mense is wat skepties oor die feit is of die Here met ons praat. Hulle het self nog nooit ‘n stem in die derde persoon “gehoor” nie, en daarom glo hulle nie dat God praat nie. Minwetend het die Here na alle waarskynlikheid al male sonder tal met hulle in die eerste persoon gepraat, sonder dat hulle dit geweet het!
Let wel: Dit is natuurlik baie gevaarlik om alle selfgesprek as God se stem te klassifiseer. Volgende week kyk ons na hoe ons kan toets of ons God korrek hoor.
2.) Gevoel van vrede of onrus
Het dit al ooit met jou gebeur dat jy na afloop van ‘n mislukking sê: “Ek het die heeltyd ‘n onrustigheid hieroor gehad”? Het jy al ooit ‘n sakeman ontmoet, maar net nie aan hom vat gekry nie? Jy kon nie jou vinger op dit plaas nie, maar iets het jou die heeltyd gepla.
“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh 14:27 NAV)
Een van die algemeenste maniere waarop ons God se leiding kan ervaar, is deur die teenwoordigheid van sy vrede. Die Bybel sê dat sy vrede oor ons harte en gedagtes, wag hou (Fil 4:7). In praktyk is dit amper asof daar in ons ‘n binneste ‘n “alarm van onrus” lui as daar gevaar dreig.
‘n Onrustigheid pak jou byvoorbeeld beet oor die veiligheid van jou dogter, en dadelik kan jy vir haar intree. Of ‘n onverklaarbare ongemak teenoor ‘n potensiële sakevennoot, maak dat jy van hom af wegbly. Daarteenoor kan ons natuurlik ook vrede oor ‘n bepaalde saak beleef, en met die nodige stappe voortgaan.
Wanneer ons nie op God se vrede (of die afwesigheid daarvan) ag slaan nie, gebeur dit ongelukkig dikwels dat ons ons vingers verbrand. As jy kan leer hoe om die Here se vrede in jou besluitnemingsproses in te span, kan dit ‘n kragtige middel word om tussen beter en slegter keuses te onderskei.
3.) Gebroke konsentrasie
Vir veels te lank het ek gedink dat dit verkeerd is as my gedagtes onder gebed dwaal. Ek sal besig wees om te bid en as ek weer sien, dan dink ek aan iets anders. In die verlede het myself gekasty en dadelik die dwalende gedagtes teruggebring na die meganiese gebedslysie wat ek probeer deurwerk. Ek moet bieg dat ek al selfs in die verlede gedink het dat dit die Duiwel is wat my aandag so probeer aftrek.
Toe my gedagtes op ‘n dag weer so dwaal, het ek met ‘n skok besef dat dít waaraan ek dink, onbewustelik bekommernis aan my verskaf. Dit was met ander woorde al die tyd ‘n legitieme saak om met die Here te bespreek. Meer as dit – ek het beleef dat Hy my op spesifieke dinge attent maak wat ek andersins nie aan sou dink nie.
Deesdae bestraf ek nie meer my dwalende gedagtes wanneer ek bid nie. As ek agterkom my konsentrasie is elders, besoek ek doelbewus dit waaraan ek dink en ek vra die Here dat Hy my sal wys wat ek aan Hom moet opdra.
4.) Gesigte in jou geestesoog
Het jy al opgelet wat jy “sien” terwyl jy bid? Net omdat jy onder gebed na die agterkant van jou ooglede kyk, beteken dit nie dat alles voor jou oë noodwendig net “swart” is nie. Dikwels verskyn daar visuele indrukke in ons geestesoë, terwyl ons bid. Dit gebeur so subtiel dat jy dit nie eens sal opmerk as jy nie daarop attent is nie. Vir jare was ek nie eens hiervan bewus nie, totdat iemand my aandag eendag hierop gevestig het. Dit het vir my sedertdien ‘n kosbare manier geword om ‘n boodskap of ‘n “woord van kennis” van die Here te ontvang.
Partykeer sal die gesig van ‘n vriend (of ‘n vyand) in jou gedagtes verskyn terwyl jy bid. Jy kan maar weet dat dit God se manier is om vir jou te sê dat jy vir daardie persoon moet intree. Of miskien is jy besig om vir jou (of iemand anders se) beskerming te bid, en skielik is dit asof jy sien hoe kwaai honde wat jou wil byt, gaan lê. Op ‘n ander keer voel dit dalk of die skuldgevoelens oor al jou sonde jou onderkry, maar wanneer jy God se vergifnis oor jou lewe bely, is dit asof jy sien hoe jy onder ‘n waterval staan en deur God se goedheid gewas word. Die beelde, prente of indrukke wat vorm, dien met ander woorde as metafore of illustrasies van iets wat God vir jou wil sê.
Pasop egter om nie self iets te probeer “visualiseer” nie. As dit regtig van die Here af kom, sal dit vanself verskyn. Moet dit dus nie forseer of namaak as jy niks sien nie. Dit is nie nodig om die Here elke keer op hierdie manier te hoor praat nie. Om die waarheid te sê sal jy meestal niks noemenswaardig sien nie.
Maar as jy ontvanklik daarvoor bly, sal jy af en toe iets opvallend en buitengewoon in jou geestesoog sien. Onthou dus om altyd hiervoor op te let terwyl jy bid. Hoe meer jy op dit ag slaan, hoe meer ontwikkel jy hierdie kommunikasiemedium.
5.) Gedempte gewaarwordings
Knyp ‘n oomblik of twee in jou gebedstyd af om van gedempte gewaarwordings bewus te word. Dikwels neem hierdie gewaarwordings die vorm van ‘n onderliggende besorgdheid oor iets of iemand aan. Dit kan byvoorbeeld ‘n besorgdheid oor jou kind se veiligheid wees of oor potensiële konflik wat by die werk broei.
Gewoonlik is dit iets waaraan jy al vroeër die dag (of die dag tevore) gedink het, maar wat deur jou gejaagdheid onderdruk is. Die gewaarwording lê dofweg in jou agterkop net onder die oppervlak en wag, maar is geneig om onder die dag se doen en late begrawe te word. Sonder dat jy dit agterkom versmoor die gewaarwording en vergeet jy daarvan.
Dikwels onthou jy eers weer daarvan as dit te laat is. Wanneer die krisis ontplof, besef jy dat jy dit vier dae terug voorsien het. Of as die mense se name weer opduik, dan kan jy jouself herinner dat hulle ‘n week terug swaar op jou hart was.
Probeer daarom om in jou gebedstyd van hierdie onderliggende gewaarwordings bewus te word. Laat dit bewustelik na vore kom en vra die Here waarom dit in jou gemoed is. Bid dan sy seën en beskerming daarop af.
6.) Groeiende begeertes
Dikwels is ‘n groeiende begeerte in jou hart, ‘n kenmerk dat God jou in ‘n rigting stuur. Ek moet dit egter dadelik kwalifiseer en sê dat ek nie nou praat van wêreldse begeertes wat ooglopend verkeerd is nie. As jy ‘n groeiende begeerte het om te skei en ‘n verhouding met jou baas aan te knoop, is dit nie God wat dit vir jou sê nie. Jy is besig om deur jou eie begeertes meegesleur te word.
Maar nie alle begeertes is sleg nie. Tot op hede was jy dalk baie gelukkig in jou werk. Jou sou nie daarvan droom om vir ‘n ander pos aansoek te doen nie. En skielik bemerk in jou ‘n groeiende belangstelling om ‘n skuif te maak. Of miskien vind jy ‘n groeiende begeerte om ‘n projek aan te pak, waarvoor jy ses maande terug nog voor teruggedeins het. Gewoonlik is dit op hierdie punt wat ons baie onsekerheid beleef of dit God se goedkeuring sou wegdra as ons bepaalde stappe sou neem.
Ek sou ‘n sterk saak kon stel, dat indien jy op hierdie stadium in pas met God se Gees en sy gedagtes is, die nuutgevonde begeerte in jou hart, juis van Hom af kom. My vriend is vir my ‘n goeie voorbeeld hierin. Hy en sy vrou het die begeerte om sendelinge in die Midde Ooste te wees. ‘n Paar jaar terug was daar nie sprake van hierdie begeerte nie. Maar dit het gegroei tot ‘n wete dat dit is waarheen hulle oppad is. Hulle is opgewonde hieroor!
Wat gebeur het is dat God se begeerte, my vriend se begeerte geword het. Ons moet ophou dink dat God ons dwing om dinge te doen waarvan ons nie hou nie. Ons is geneig om verkeerdelik te dink dat God se wil altyd die teenoorgestelde van ons s’n is. Die waarheid is dat hoe meer jy inpas met God se gedagtes kom, hoe meer sal sy wil, jóú wil word. As jy dus skielik ‘n groeiende begeerte in jou hart bemerk, dan is dit moontlik dat God dit daar geplaas het en dat Hy jou op hierdie manier leiding gee.
“Verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps 37:4 OAV)
Let wel: Dit het baie gevare om jou net aan die hand van groeiende begeertes te stuur. Volgende week kyk ons hoe jy kan toets of jy God korrek hoor.
7.) Gedagtes wat onwillekeurig opspring
Dit het al met ons almal gebeur. Jy sal besig wees om aan die kar te werk en skielik dink jy aan jou neef. Daar is geen menslike verduideliking hoekom jy aan hom dink nie. Jy het nie ‘n spesifieke assosiasie tussen dit wat voor hande is, en die persoon aan wie jy dink nie. Jy het ook nie onlangs met hom gepraat, dat jou gedagtes nou juis vandag na hom sal trek nie.
Jy kan maar weet dat dit die Here is wat die persoon op jou hart plaas. Tree vir daardie persoon sommer daar en dan in. Dalk staan hulle voor ‘n groot besluit wat hulle moet maak. Miskien is daar gevaar wat hulle bedreig sonder dat hulle eens daarvan weet.
Of miskien het dit al met jou gebeur dat jy die oggend wakker word, en jy‘n dringendheid het om ‘n saketransaksie af te handel. Jy weet net jy móét dit vandag doen. Of miskien juis die teenoorgestelde – jy beleef ‘n skielike onverklaarbare huiwering of onrustigheid om met die transaksie voort te gaan. Dalk het jy selfs die aand hiervan wakker geskrik. Word stil en ondersoek onwillekeurige gedagtes wat opsring. Toets dit of dit nie dalk iets is wat die Here vir jou wil sê nie.