1.) Relationship with Jesus

Hoe toets mens of jy die Here reg hoor?

Hoe kan mens seker maak dat jy die Here se stem reg hoor? Waaraan toets mens jou ervaring om te sien of jy God se leiding korrek interpreteer?

Ken jy die verhaal van die rotsagtige baai waar verskeie skepe gesink het? Daar was soveel skepe wat skipbreuk gelei het, dat die owerhede in plaas van een lighuis, drie verskillende ligte moes oprig. As ‘n skip die hawe veilig wou binnevaar, moes hy sorg dat al drie ligte agter mekaar was sodat daar as’t ware net een lig sigbaar is. Slegs as al die ligte met mekaar opgelyn was, sou die skip die hawe veilig kon binnevaar, sonder om op die rotse te beland.

Die volgende 10 punte kan jy as bakens gebruik. Hoe meer daar van hierdie 10 bakens “agter mekaar val sodat jy een lig sien”, hoe veiliger vir jou:

1.) Verbied die Skrif dit?

Jou heel eerste stap is altyd om jou ervaring aan die hand van die Skrif te toets. In baie gevalle gaan die Bybel nie direk daaroor praat nie. Die Bybel gaan nie vir jou sê of jy met meisie A of B moet uitgaan of studierigting X of Z moet inslaan nie. Daarom is dit dikwels makliker om te vra of die Bybel dit verbied. Is die Bybel met ander woorde in beginsel téén dit wat jy beoog om te doen?

2.) Vergryp ek my aan impulsiwiteit?

Daar was nog min kere wat ek die Here iemand waarlik sien lei het om iets impulsief te doen. As jy voel Hy vra jou om skielik jou studies op te skop of om uit die bloute na ’n vêr land vir sendingwerk te vertrek, dan is dit na alle waarskynlikheid nie die stem van die Here nie. Hy wil jou nie met ’n slap riem vang om iets vinnig aan te vang, nog voordat jy die kans het om die koste daarvan deeglik te bereken nie. Gee dit tyd en maak seker of jy reg hoor. As dit vandag sy wil is, sal dit teen “môre” steeds sy wil wees.

3.) Vir wie bring dit voor-/nadeel?

Wie gaan uit dit wat jy beplan, voordeel trek? Is daar iemand wat benadeel gaan word? As jy die enigste begunstigde is, of as dit ten koste van ander mense is – soos dat iemand uitgebuit word – klink dit nie vir my na die stem van die Here nie. Gewoonlik is dit ons eie stem wat op selfverryking gerig is. Die Here se leiding sal tot die voordeel van ander strek.

4.) Versterk my vriende en my voogde hierin?

Wat is jou ouers, vriende en mentors se opinie hieroor? Is hulle hierteen gekant of ondersteun hulle jou? Die Here het hierdie mense nie verniet in jou lewe geplaas nie. As hulle Christene is, kan jy maar na hulle luister. As almal rondom jou se “gees bots” met dit wat jy dink jy hoor, flits daar groot rooi ligte.

5.) Verg dit voorbereiding?

Gaan dit van jou minder of meer werk vra? Daar is deesdae geweldig baie blink planne om ’n paar munte met die minste moontlike inspanning te maak. Ek is uit die staanspoor skepties oor enige iets wat na ‘n “maklike uitweg” lyk. Die Here se roete gaan na alle waarskynlikheid die een wees wat jou Godgegewe vaardighede wil ontwikkel en jou volwassenheid wil vorm.

6.) Vervul dit my Godgegewe passie?

Sien jy uit of sien jy op, om te doen wat jy dink die Here van jou vra? As alles in jou gekant is teen die leiding wat jy ervaar, is dit dalk nie die Here se leiding nie. Ons is geneig om verkeerdelik te dink dat God se wil altyd die teenoorgestelde van ons s’n is. Onthou egter dat jou natuurlike aanlegte, vermoëns en passies, deur die Here aan jou gegee is sodat jy jou unieke plek in sy koninkryk kan inneem. Dit is met ander woorde nie ongewoon dat die Here se wil, groot vreugde aan jou kan verskaf nie. Jy gaan immers dit wat Hy in jou geplaas het, uitleef.

7.) Vergroot dit my lewensvreugde?

Daar is ’n fyn balans wat mens altyd moet handhaaf. Ons het reeds gesê dat God se roete gewoonlik die een is wat harde werk vereis en jou vermoëns wil ontwikkel. Maar daar is ook ’n perk wat jy kan oorskry. Jy kan jouself met so baie dinge toegooi dat dit jou lewensvreugde steel. Dit is definitief die Here se wil dat jy jou potensiaal moet ontwikkel. Maar as jy net onverpoos aanhou om nog dinge op jou te neem wat tot onnodige spanning aanleiding gaan gee en ’n stuk vreugde by jou gaan dreineer, moet jy weer dink of jy nie besig is om ’n grens te oorsteek nie.

8.) Verdiep dit my verhouding met die Here?

Wat sal die effek van dit wat jy wil doen, op jou verhouding met die Here wees? Sal dit verdieping of groter afstand bring? Sal jy groter afhanklikheid teenoor Hom moet openbaar, of gaan dit die heeltyd vir jou voel of jou hart jou veroordeel?

9.) Versmaai ek gesonde verstand?

Druis dit wat jy voel die Here van jou verwag, teen alle logika in? Dan is dit moontlik nie van Hom af nie. Die Here het gesê ons moet ons verstand vernuwe – nie verwyder nie. Dit klink vroom om te sê ons moet intellek in die wind slaan en op Hom vertrou, maar jy moet onthou dat jou brein nie jou vyand is nie. Jou verstand is ’n geskenk van die Here en is vir jou gegee sodat jy wyse besluite kan maak.

10.) Vind ek bevestiging?

Ek is ongemaklik om van die Here ’n teken te vra. Om ‘n “vlieswol” vir die Here uit te gooi, voel vir my al te veel asof ek Hom voor ’n ultimatum stel. Dit wil vir my eerder lyk of die Nuwe Testament ons aanraai om vir bevestiging te soek. Hierdie bevestiging vind ek egter nie in obskure “tekens” wat ek subjektief interpreteer nie. Bevestiging vind gestalte in die opinie van Christenvriende en in soortgelyke Skrifgedeeltes wat jy herhaaldelike kere “toevallig” raaklees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *