2.) Reflections on the Bible & theology

Hoe verduidelik mens die verharding van die Farao se hart?

Ek het Sondag ‘n gedeelte uit Eksodus met my gemeente gelees. Toe ek dit saam met hulle lees, het ek besef dat die teks waarskynlik by hulle ‘n vraag skep, wat ek vanweë beperkte tyd, nie sal kan antwoord in die betrokke erediens nie. Daar was bloot net te veel ander aspekte waarop ek moes fokus.

Die vraag handel oor die hele interessante tema rondom die verharding van die Farao se hart. Dit is ‘n uitdrukking wat ons 20 keer tussen Eks 4-14 teëkom.

Wat egter vir ons die probleem verskaf, is dat dit vir ons in 10 van die 20 voorbeelde lyk asof dit die Here is wat die Farao se hart verhard. ‘n Tipiese voorbeeld lui: “Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie.” (Eks 11:10 OAV).

Kan dit wees dat God iemand negatief beïnvloed – tot so ‘n mate dat die persoon teen God se wil kies – en dat Hy dan die persoon daarvoor aanspreeklik hou? Klink dit soos ‘n God wat regverdig optree?

Verduideliking vanuit die teologie

Komende uit ‘n Calvinistiese agtergrond, weet ek hoeveel keer predikante hierdie teks al gebruik het om die uitverkiesing mee te verduidelik. Hulle voer aan dat God “kies” en “verwerp” wie Hy wil – en dat die mens nie sy weë sal kan verstaan of mag bevraagteken nie. Hy is soewerein. Maar so ‘n antwoord los net nog meer en groter vrae by mense.

Persoonlik het ek al ophou tel hoeveel mense ek al teëgekom het wat na aanleiding van hierdie interpretasie, met ‘n vrees sit dat God hulle eendag gaan “wegwys“. Ongelukkig is dit wat tipies gebeur as jou teologiese bril jou interpretasie van ‘n Bybelse teks so beïnvloed, dat dit jou naderhand verblind.

Ironies genoeg, vind ons die korrekte verklaring van die verharding van Farao se hart, nie op ’n teologiese vlak nie, maar in die taalwetenskap…

Verduideliking vanuit die taalwetenskap

As jy nie met ’n taal goed bekend is nie, gaan jy sekere uitdrukkings maklik verkeerd interpreteer. Daar sal byvoorbeeld groot verwarring uitbreek as iemand Afrikaanse idiome, woordeliks in Hebreeus oorvertaal. Uitdrukkings soos “die partytjiegangers het die strate rooi geverf”, sal deur Hebreeussprekendes nie reg verstaan word nie. Hulle sal geskok wees as hulle lees dat jy sê: “my baas het my kop afgebyt!

Dieselfde beginsel geld vir die Bybel. Daar is ‘n belangrike boek uit die pen van E.W. Bullinger, waarin hy figuurspraak in die Bybel nagevors het. Hierin wys hy onder andere hoe werkwoorde in ‘n sekere konteks, iets heeltemal anders bedoel as wat dit in die eng letterlike sin van die woord beteken.

In die Ou Vertaling staan daar byvoorbeeld: “en daar sal julle aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop word, maar daar sal geen koper wees nie” (Deut 28:68 OAV). Dit is natuurlik nie moontlik om verkoop te word, as daar nie ’n koper is nie. Daarom stel die Nuwe vertaling die saak reg: “. . . daar sal julle julleself aan jou vyande as slawe en slavinne te koop aanbied, maar daar sal nie ’n koper wees nie” (Deut 28:68 NAV). In hierdie voorbeeld sien jy met ander woorde die verskynsel dat werkwoorde in die teks van die Bybel, iets anders kan bedoel as wat hulle eng letterlike betekenis te kenne gee.

Ons sien ook dat Hebreeuse werkwoorde nie net gebruik word om ’n aksie uit te druk nie, maar ook om die “toelating” of “toestemming” daarvan weer te gee. Ons lees byvoorbeeld: “Toe sê ek: ‘Ag, Here my God! U het hierdie volk en Jerusalem bedrieg. U het gesê: ‘Julle sal vrede hê,’ maar nou lê die swaard teen ons kele’ (Jer 4:10 NAV). In die bogenoemde voorbeeld was dit nie God wat hulle mislei het nie. Hy kan immers nie téén sy eie karakter ingaan en oneervol optree nie. Vanweë bepaalde redes het Hy egter “toegelaat” dat hulle mislei word.

Die verharding van die Farao se hart is dieselfde beginsel. Bullinger sê die werkwoord beskryf nie in hierdie geval die aksie – asof dit God is wat die verharding doen nie. Die werkwoord beskryf die “toestemming”. God laat met ander woorde toe dat die Farao sy eie hart, verhard. 

Die woorde van C.S Lewis som hierdie verskynsel seker die mooiste op: “God, in the end, gives people what they most want, including freedom from Himself. What could be more fair?”.

Verdere naslaanwerk:

  • Bullinger, E. W. (1898). Figures of speech used in the Bible (823). London; New York: Eyre & Spottiswoode; E. & J. B. Young & Co; p822-823
  • Apologetics Press bied dieselfde verduideliking.
  • Vir ‘n sinvolle alternatiewe verduideliking, kan jy kyk na Kaiser, W. C., Jr., Davids, P. H., Bruce, F. F., & Brauch, M. T. (1996). Hard sayings of the Bible (143). Downers Grove, IL: InterVarsity.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *