1.) Relationship with Jesus,  3.) Reviewing material

Wat Jesus se moeder Maria vir ons leer

In hierdie Kerstyd wil ek een van Francis Schaeffer se treffende gedagtes met jou deel. Dit het betrekking op Maria se reaksie op die aankondiging van die engel.

Die konteks waarin Schaeffer oor Maria skryf, handel oor die gesindheid van “aktiewe-passiwiteit” wat in ‘n gelowige se verhouding met die Here moet wees – ‘n begrip wat vir die eerste keer deur Schaeffer bekend gemaak is. Dit is ‘n gedagte wat hy redelik aan die begin van sy boek “True Spirituality” beskryf, en dan herhaaldelik deur die loop van die boek daarna terugverwys. Dit is dus nogal ‘n belangrike konsep vir hom – en ek het self ook baie by dit gebaat.

Schaeffer begin deur die grootsheid van die engel se boodskap te benadruk: Daar word aangekondig dat Maria geboorte aan die langverwagte Messias gaan gee! Dit is ‘n unieke belofte en sal nooit weer herhaal word nie. Die tweede persoon van die Drie-eenheid sou ‘n vleeslike liggaam aanneem en in hierdie wêreld gebore word. Die omvang daarvan is verbysterend.

Maria se reaksie

Maria is ‘n jong Joodse meisie. Sy is verlief op haar verloofde en opgewonde oor hulle toekoms. Toe sy hoor dat die Heilige Gees ‘n kind in haar gaan verwek, kon sy op een van verskeie maniere reageer:

  • Reaksie #1

Eerstens kon sy dit verwerp. Sy kon sê: “Ek het nie dit vir myself gekies nie. Ek aanvaar dit nie”. Sy kon besluit om haarself terug te trek. Sy kon haar rug op God draai en weghardloop. Ons sou haar nie eens kon blameer as sy sou kies om so te reageer nie. Dis sou baie menslik van haar wees om so op te tree.

  • Reaksie #2

Die tweede moontlike reaksie sou ewe menslik wees. Sy sou kon sê: “Wel, noudat ek die belofte ontvang het, sal ek al my kragte inspan om self die beloofde kind voort te bring.” Sy sou kon sê: “Ek besit die belofte – nou sal ek tot die beste van my vermoë, sonder ‘n man ‘n kind baar. Ek sal al my energie gebruik en uit myself hierdie belofte in vervulling laat gaan”. Maar met so ‘n reaksie sou sy nooit die Kind ontvang het nie. Sy is net so min as enige ander meisie in staat, om sonder ‘n man ‘n kind te baar.

  • Reaksie #3

Die derde opsie is die pragtige een. Sy neem ‘n besluit om haar liggaam in die hand van God te plaas – sodat Hy kan voortbring wat Hý gesê het Hy sal doen. En die gevolg is dat die Christus gebore word. Sy antwoord met die volgende woorde: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk 1:38 NAV).

Aan die een kant hardloop sy nie weg nie. En aan die ander kant probeer sy nie om Jesus self voort te bring nie. Daar is by haar ‘n “aktiewe-passiwiteit”. In reaksie op God se belofte, gee sy aktief haar liggaam aan Hom oor om passief in Hom te rus. Volgens Francis Schaeffer is dit die perfekte uitbeelding van hoe ‘n verhouding tussen God en mens moet lyk.

Maria as illustrasie van ons eie reaksie

Die maagedlike geboorte is totaal uniek. Dit sal nooit weer plaasvind nie. Tog is Maria ook ‘n illustrasie van wat veronderstel is om elke dag met ons te gebeur. Ons is in dieselfde bootjie as wat sy is. Ons het ook ‘n belofte van die Here ontvang. Hy het ook aan ons belowe dat sy Gees, Christus in ons lewe totstand sal bring.

So min as wat ons egter onsself kan red, so min kan ons goeie werke wat God behaag, uit onsself voortbring. Tog kan ons ook nie ons aandeel as totaal passief beskou nie – asof ons geen rol hierin te speel het nie. Vir Christus om in ons lewe die vrug van die Gees voort te bring, sal daar by ons ‘n konstante (aktiewe) uitoefening van ons geloof moet wees. Daar moet by ons ‘n doelbewuste onderwerping aan die Here wees – ‘n besluit om in Hom te rus en Hom toe te laat om sy werk in ons tot uitvoer te bring.

Beoordeling van Schaeffer se gedagte

Dit is nie jy wat vir Jesus moet leef nie, maar Hy wat deur jou moet leef.

Ek vind baie aanklank by hierdie gedagte van Schaeffer. Dit voel vir my dat die gelowige wat hierdie konsep verstaan, nie in wettisisme aan die een kant of “goedkoop-genade” aan die ander kant van die pendulum kán verval nie. Die dag as jy begin verstaan dat dit nie jy is wat vir God moet leef nie, maar Hý is wat deur jou moet leef, kan jy saam met Paulus uitroep: “…nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20 NAV).

Nes Maria kies ek vir ‘n “aktiewe-passiwiteit” in my eie verhouding met die Here. Ek wil jou uitnooi om saam te bely: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *