3.) Reviewing material

Kan ons nog in wonderwerke glo?

Kan ons nog in wonderwerke glo?

Hoe weeg mens die geloofwaardigheid van die “wonderverhale” waarvan ons in die Bybel lees of wat ons in resente gesprekke teëkom?

1.) Ons elkeen wonder partykeer…

Dit het ons almal al oorgekom. Jy bevind jouself op ‘n plek waar jy die Bybel se wonderwerke bevraagteken. “Het dit regtig gebeur?” “Berus dit op geloofwaardige getuienis?” “Is dit nie van my dom om daarin te glo nie?” Of jy hoor miskien hoe jou vriend een of ander bisarre gebeurtenis aan ‘n bonatuurlike ingryping van God toeskryf – en jy kan nie help om te wonder of daar dalk ‘n meer natuurlike verduideliking vir die verskynsel is nie. Dit is die vrae wat in elkeen van ons se kop een of ander stadium maal.

Ons is natuurlik nie uniek in hierdie opsig nie. Ons moet nooit dink dat ons die eerste generasie is wat krities oor God nadink nie. Die verskynsel dat die mens dikwels teenoor die inhoud van die Bybel skepties staan, is so oud soos die berge self.

In hierdie verband kan ons die naam van David Hume noem. Hy was ‘n invloedryke filosoof wat in die 1700’s geleef het. Hy het verskeie belangrike boeke geskryf, waarvan sy ses volume werk “The History of England” seker die bekendste is. David Hume het hom op ‘n plek bevind waar hy die wonderverhale van die Bybel in twyfel begin trek het. In sy artikel “On Miracles” het hy die vernaamste argumente uiteengesit waarom hy nie in wonderwerke glo nie. Die interessante is dat die argumente wat hy destyds geopper het, presies dieselfde twyfelvrae is wat so dikwels in ons harte leef.

2.) David Hume se kritiek

As ons sy artikel sou opsom en dit vereenvoudig, sou ons kon sê dat sy kritiek hoofsaaklik op drie argumente neerkom:

2.1     Eerstens het Hume ‘n probleem met die ooggetuies se geloofwaardigheid. Hy trek enige iemand wat te kenne wil gee dat hulle eerstehands ‘n wonderwerk gesien of beleef het, se motiewe, opvoedingspeil en integriteit in twyfel. Volgens Hume kom aansprake dat daar ‘n wonderwerk plaasgevind het, volop by agterlike, onopgevoede mense voor.

2.2     Tweedens probeer Hume ‘n verband tussen die hede en die verlede trek. Omdat wonders volgens Hume nie meer vandag plaasvind nie, vind hy dit moeilik om te glo dat dit in die verlede kon plaasvind. Vir iets in die verlede om waar te wees, moet dit tog ook in die hede waar wees.

2.3     Derdens vind Hume die feit dat elke godsdiens sy eie verhale oor wonders besit, genoegsame bewys dat daar onwaarhede in hierdie verhale steek. Dit kan tog nie waar wees dat daar wonderwerke by elke geloofsgroepering plaasvind nie?!

3.) Michael Licona se reaksie

Deur die eeue het verskillende Christene op verskeie maniere al op Hume se besware gereageer. ‘n Waardevolle reaksie wat ek onlangs raakgeloop het, is te vinde in ‘n resente boek van Michael Licona. Hy behandel Hume se kritiek breedvoerig en bied sinvolle antwoorde daarop.

Omdat jy al waarskynlik dieselfde vrae as Hume vir jouself afgevra het, het ek gedink dit kan jou help om te sien hoe Licona hierdie besware hanteer. Dalk bring sy reaksie ook groter duidelikheid vir jou eie gemoed.

3.1     Oor die geloofwaardigheid van getuies

Hume se eerste punt het te make met die feit dat ooggetuies nooit geloofwaardig genoeg oorkom nie. As jy moet opweeg of jy húlle weergawe, of ‘n natuurlike verduideliking oor wat plaasgevind het wil glo, dan kies jy die natuurlike verduideliking.

Hy gaan dan voort om ‘n rits vereistes en kwalifikasies op te noem waaraan ‘n geloofwaardige getuienis eers sal moet voldoen, alvorens hy dit sal glo:

  • Dieselfde getuienis moet deur ‘n genoegsame aantal individue (wie se intellek en integriteit bo enige verdenking is) onderskryf word.
  • Die getuies moet almal ook van baie hoë aansien in die gemeenskap wees, want sodoende loop hulle die risiko om alles te verloor indien dit aan die lig sou kom dat hulle gelieg het.
  • Die insident moet ook nie op een of ander obskure plek plaasvind nie, maar op ‘n prominente plek in die wêreld waar dit hoë sigbaarheid geniet en noukeurig ondersoek kan word.

Eers wanneer daar aan al hierdie vereistes voldoen is, kan ons met sekerheid weet dat die wonderwerk histories korrek en verantwoordbaar is.

Licona bevestig die meriete daarvan om geloofwaardige getuies te hê. Ons mag nooit die belangrikheid van egtheid en integriteit, onderspeel nie. Daarom stel hy voor dat elke aanspraak op ‘n wonderwerk, deeglik ondersoek word.

Tog wys hy ook daarop dat Hume ‘n paar gevaarlike aannames en veralgemenings maak. Dit mag miskien waar wees dat mense met ‘n lae opvoedingspeil op wonderwerke aanspraak maak – maar dit is ook so dat verskeie geleerdes en gesiene akademici dieselfde aansprake maak. Licona gaan dan in sy voetnotas voort om te wys hoe eens ateïste en mense met doktorsgrade, in spesifieke gevalle geen ander verduideliking kon bied as dat ‘n werklike wonderwerk plaasgevind het nie. Om te maak asof slegs “agterlike” mense in wonderwerke glo, is dus doodeenvoudig nie die waarheid nie.

Die kriteria wat Hume vir ons neergelê het om te bepaal of ‘n wonderwerk regtig histories plaasgevind het, is waardevol. Daar is meriete in die vereistes wat hy stel. Tog moet ons ook eerlik wees en sê dat wat Hume noem, net in ‘n ideale wêreld haalbaar is.

As ons dieselfde beginsels op geskiedenis oor die algemeen sou toepas, sou ons vandag moet sê dat ons oor weinige dinge van die verlede, sekerheid kan hê. Ons beskou vandag etlike verhale oor die verlede as feitelik korrek, selfs al berus dit op geïsoleerde getuienisse van mense wie se karakter veel te wense laat.

Die teoloog Habermas, wys Hume daarop dat hy nie eers hierdie vereistes in sy eie geskiedskrywing van “The History Of England” kon nakom nie! Baie van dit wat Hume as die geskiedenis van Engeland neergepen het, kom by monde van bronne wat nie aan Hume se eie kriteria voldoen nie. Tog was dit die beste bronne tot sy beskikking en het hy dit as histories juis geag.

3.2     Oor die gevaar van verbande trek

In Hume se volgende beswaar, trek hy verbande tussen die hede en die verlede. Vir iets om in die verlede waar te wees, moet dit ook in die hede waar wees. Gebeure van die verlede kan nie verskil van gebeure in die hede nie. As wonderwerke dus nie meer vandag plaasvind nie, dan kon dit ook nie in die verlede plaasgevind het nie.

Die argument kom baie oortuigend voor. Navolgers van Hume gaan so vêr as om te sê dat indien hierdie beginsel nie toegepas word nie, niks ons daarvan weerhou om bygelowig te word en sprokies as geskiedkundige tekste te beskou nie.

Maar Licona wys ons daarop dat daar baie gevare met hierdie tipe redenasie is. In die eerste plek berus die hele argument op die aanname dat wonderwerke nie meer vandag plaasvind nie. Dat ons almal met voorveronderstellings oor ‘n bepaalde saak sit, is ‘n gegewe feit. Net die volgende persoon werk weer vanuit die vertrekpunt dat wonderwerke wél vandag nog plaasvind – en daarom het dit ook in die verlede plaasgevind. As jy nie bewus is van jou eie voorveronderstellings nie, sal jy in sirkels bly redeneer.

Maar kom ons werk vir ‘n oomblik met Hume se veronderstelling dat wonderwerke nie meer vandag plaasvind nie. Dit is gevaarlik om te redeneer dat omdat daar nie meer vandag tekens van iets is nie, kan ons aflei dat dit ook nie in die verlede voorgekom het nie.

Licona sê dat as ons hierdie redenasie konsekwent sou gebruik om ‘n saak se historisiteit te bepaal, ons tot die gevolgtrekking sou moes kom dat daar nooit iets soos Dinosourusse bestaan het nie. Ons beleef hulle immers nie meer vandag nie. Iemand sou wel kon argumenteer dat ons bewyse (fossiele) vir hulle bestaan besit – maar so sou mens ook goedskiks kon argumenteer dat ons vandag genoegsame bewyse (in die vorm van geloofwaardige getuienisse) besit om aan te toon dat wonders wel in die verlede al plaasgevind het.

‘n Ander tipiese argument van Hume, is deur ‘n “verband van waarskynlikheid” te trek. Kom ons sê tien mense bid vir ‘n wonderwerk – soos dat ‘n blinde weer kan sien. As slegs een van die tien mense na afloop van die gebed daarop aanspraak maak dat sy weer kan sien, moet jy die vraag van “waarskynlikheid” afvra.

Volgens Hume is jy veronderstel om voorkeur te gee aan die observasie wat die meeste voorkom. Met ander woorde, nege uit tien mense is nie genees nie en daarom moet ons hulle observasie hoër ag as die één uitsondering. Daar kan baie verduidelikings wees waarom daar uitsonderings voorkom en ‘n persoon te kenne sal wil gee dat ‘n wonderwerk plaasgevind het. Dit kan spruit uit onkunde, verwarring of selfs bedrog.

Die punt is egter dat insidente wat geklassifiseer word as ‘n “uitsondering op die reël”, nie as histories korrek beskou kan word nie. Dit misken immers die reël wat die algemeenste voorkom. As die meerderheid diere vandag nie praat nie, is dit byvoorbeerbeeld betwyfelbaar dat Bileam se donkie regtig gepraat het.

Hume se redenasie klink baie oortuigend, maar Licona antwoord weereens met geldige kritiek. Hy wys ons daarop dat as ons konsekwent sou werk met ‘n “verband van waarskynlikheid” en net die observasies wat die algemeenste voorkom as histories juis sou beskou, ons tot die gevolgtrekking sou moes kom dat niemand nog ooit regtig die lotery gewen het nie. Minder as een uit elke tien deelnemers wen immers ooit die prysgeld.

Verder moet ons nie uit die oog verloor dat die wêreld waarbinne ons staan, nie ‘n geslote sisteem sonder enige invloed “van buite” is nie. As ‘n tienerseun byvoorbeeld 400Kg se gewigte wou oplig, sal ons almal sê dat dit onmoontlik is. Maar as ‘n liggaamsbouer agter die seun kom staan en hom help om die gewigte op te lig, word dit skielik baie moontlik. Sodra daar met ander woorde ‘n bykomende figuur in die prentjie kom, verander die waarskynlikheid van wat moontlik is en wat nie.

Op ‘n soortgelyke wyse moet ons onthou om God in ons berekening van wat moontlik is, in te werk. Die kanse dat Bileam ‘n regte wonderwerk op hande gehad het, is dalk groter as enige naturalistiese verduideliking van die gebeure – soos ‘n mite, ‘n droom of ‘n hallusinasie.

Wees dus baie versigtig om jou opinie van wonderwerke te berus op die trek van verbande tussen die voorkoms en waarskynlikheid daarvan. Dit is ‘n redenasie met ernstige tekortkominge om die minste te sê.

3.3     Oor gemeenskaplike wonderverhale

Hume se volgende beswaar het te make met die feit dat uiteenlopende godsdienstige groeperinge, elkeen daarop aanspraak maak dat wonderwerke in hulle midde plaasvind. Hoe kan godsdienste wat opponerend teenoor die Christendom staan, ook berig dat bonatuurlike ingrypings van God by húlle plaasvind?

Volgens Hume is dit onmoontlik en dien dit as bewys dat daar onwaarhede in die aansprake steek. Omdat beide ‘n Christen en ‘n Hindu byvoorbeeld daarop kan aanspraak maak dat ‘n blinde persoon weer sien, kanselleer die twee stories mekaar as’t ware uit.

Hume opper ‘n geldige saak. Vir menige Christen veroorsaak bogenoemde verskynsel ‘n dilemma. Hoe maak mens hiervan sin?

Licona antwoord deur die gevaar daarvan uit te wys as jy sê dat twee verhale van waarheid gestroop is omdat dit baie ooreenkomste met mekaar vertoon. Neem byvoorbeeld die volgende voorbeeld: Een oggend het ‘n vliegtuig van Massachusetts af opgestuig en kort na 09:00 die oggend in die agt en sewentigste en nege en sewentigste vloere van ‘n New York wolkekrabber vasgevlieg. Almal aan boord van die vlug het omgekom.

Die insident wat in ons almal se gedagtes opspring is natuurlik die tragiese gebeure van 11 September 2001 toe terroriste in die sogenaamde “Twin Towers” vasgevlieg het. ‘n Soortgelyke insident het egter op 28 Julie 1945 plaasgevind toe ‘n B-25 teen die Empire State gebou verongeluk het.

Die ooreenkomste tussen die twee verhale is treffend. Tog is daar geen “sinistêre verband” daartussen nie. Dit is dus moontlik dat daar verhale parallel van mekaar kan bestaan en baie ooreenkomste met mekaar kan vertoon – sonder dat daar afbreek aan die historisiteit daarvan gedoen word.

In die verband merk Licona op dat die Bybel glad nie onwillig is om van wonderwerke te berig wat onder heidennasies plaasgevind het nie. Neem as voorbeeld die genesing van Naäman se melaatsheid (2 Kon 5). Die Christelike wêreldbeskouing laat met ander woorde toe dat God op hierdie manier kan optree.

Tog waarsku Licona dat ons nie sondermeer elke aanspraak op ‘n wonderwerk by ander godsdienste goedertrou moet aanvaar nie. Hume het self gesê dat baie van hierdie aansprake op swak getuienis berus. Dit is dus belangrik om die meriete van sulke aansprake deeglik te ondersoek.

Baie Christene skrik hulle byvoorbeeld boeglam as hulle hoor dat daar ook ander verhale van mense in die geskiedenis is, wat uit die dood opgestaan het. Daar word berig dat Apollonius Van Tyana die dood oorwin en aan mense verskyn het. Beteken dit dat hierdie en die Bybelse verhaal oor Jesus se opstanding, albei histories korrek is?

Met nadere ondersoek blyk dit dat die verhaal oor Apollonius in slegs ‘n enkele bron genoem word. Die aanspraak word deur Philostratus gemaak – meer as ‘n honderd jaar na die dood van Apollonius. Philostratus gee te kenne dat die bron wat hy gebruik het om oor Apollonius se lewe (130 jaar na die tyd) te skryf, Damis is. Vandag is geleerdes eens dat Damis ‘n fiktiewe figuur was wat Philostratus self geskep het.

Met bogenoemde inligting tot ons beskikking, kan ons onmoontlik die opstandingsverhaal van Apollonius op dieselfde vlak as die opstandingsverhaal van Jesus stel. Die aanspraak dat Jesus uit die dood opgestaan het, is letterlik oombliklik gemaak. Dit is ook nie deur ‘n enkele individu gemaak nie, maar deur honderde mense wat ten tye van die neerpen van die aansprake, nog self lewendig was. Meer nog – hulle was bereid om te sterf vir hierdie aanspraak. Dit is nouliks op dieselfde vlak as die storie oor Apollonius.

Die verskynsel dat verskillende geloofsgroeperinge ooreenstemmende aansprake op wonderverhale maak, bewys met ander woorde niks nie. Dit bewys nie daar onwaarhede in die aansprake steek nie. En dit “bewys” ook nie dat die aanspraak noodwendig eg is nie.

4.) Gevolgtrekking

Eintlik is die vraag nie of ons nog in wonderwerke kan glo nie. Die vraag is of ons nog in die God glo wat wonders kan laat plaasvind? As jou antwoord hierop “ja” is, moet jy jouself twee addisionele vrae afvra:

  1. Is daar oortuigende getuienis dat die insident wel plaasgevind het?
  2. Is daar oortuigende getuienis dat die persoon wat die aanspraak maak, lieg?

Indien jy aan ‘n werklikheid glo waar God ‘n situasie kan betree en ‘n wonderwerk kan laat gebeur, daar oortuigende getuienis is dat ‘n wonder wel plaasgevind het, en daar ‘n afwesigheid van getuienis is dat die waarheid verdraai word, dan is daar geen rede waarom jy hoef te glo dat ‘n leuen meer waarskynlik as ‘n wonderwerk is nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *