Val daar mossies sonder God se wil?
Op ’n dag sit ek by ’n gesinnetjie wat pas deur rowers in hul huis aangehou is. Hulle was erg getraumatiseer. Die Pa van die huis het gelukkig koelkop gebly en deurgaans probeer om sy kinders kalm te hou. Dit was ’n deurslaggewende rede hoekom hulle oorleef het. Maar na afloop van die roof is hy kwaad. “Waarom het God sy gesin deur hierdie trauma gesit?”
Ek was ietwat uit die veld geslaan om te hoor dat Hy dink God agter hierdie gewelddadige roof sit. God sal immers nie iets veroorsaak, wat Hy in sy Woord verbied nie (?!). Toe ek hom in groter diepte daaroor uitvra, kom ek agter dat Hy vir God kwaad is, omdat die Bybel sê dat daar nie eens ’n mossie op die grond sal val, sonder dat God ‘n aandeel daarin het nie.
Kom ons gaan kyk bietjie na hierdie teks. Ek dink jy sal geskok wees as jy sien hoe ‘n “voorsienigheidsleer” of ’n “leer oor God se allesbeskikking” ’n bril geword het waarmee ons die Bybel vertaal het – tot so ’n mate dat die bril ons verblind het. Onbewus van ons vooropgestelde idees, het ons die Afrikaanse Bybel dinge laat sê wat die oorspronklike Grieks glad nie sê nie.[1]
Val daar mossies sonder dat dit God se wil is?
In die nuwe vertaling lui Matteus 10:29 byvoorbeeld:
“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie” (Matt 10:29 NAV)
Die waarheid is egter dat die frase “die wil van” glad nie eens in die oorspronklike Griekse teks voorkom nie. Dit het in die teks ingesluip omdat dit die teologie van die vertaler is, naamlik dat God “alles beskik”. Jy kan in die ou vertaling sien (wat ‘n meer letterlike vertaling is), dat hierdie frase in die Griekse teks ontbreek:
“Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie” (Matt 10:29 OAV)
Dat nie een mossie “sonder die Vader val” nie, sinspeel daarop hy elkeen wat val, raaksien. Ons weet dit omdat die paralelle lesing in Lukas dit bevestig:
“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie” (Luk 12:6 NAV)
Daar is egter ’n groot verskil om van elkeen se val bewus te wees, teenoor om elkeen se val te beskik. Om hartseer raak te sien is heeltemal anders as om dit te veroorsaak! Die lewende Bybel se weergawe van hierdie teks is selfs skreiender omdat hulle nog ’n stappie verder gegaan het:
“Julle weet hoe min ’n mossie werd is. ’n Mens kan twee van hulle vir een geldstukkie koop. En tog kan nie een van hulle op die grond val as julle Vader dit nie toelaat nie” (Matt 10:29 LB)
Hierdie vertaler is totaal verblind deur sy teologie van “allesbeskikking”. Daar staan verseker nie in die Grieks dat die Vader elke mossie se val “toelaat” nie. In die geval van Jesus se uitspraak oor die mossies, is die nuwe lewende vertaling se weergawe vir my die getrouste aan die intensie van die Griekse teks:
“Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie” (Matt 10:29 NLV)
Ly martelare omdat dit God se wil is of omdat hulle God se wil doen?
Kan jy sien hoe verskillende vertalers dieselfde teks op verskillende maniere vertaal het? Daar is talle voorbeelde waar die teologie van die Bybelvertaler in die vertaling neeslag vind en op die ou einde die boodskap van die teks in gedrang bring. In die nuwe vertaling skep 1 Petrus 4:19 byvoorbeeld weereens die indruk dat dit God se wil is as gelowiges ly.
“Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen” (1 Pet 4:19 NAV)
Die nuwe lewende vertaling stel egter die fout reg deur te wys dat die gelowiges nie gely het omdat dit God se wil is nie, maar eerder omdat hulle God se wil gedoen het. Hulle is met ander woorde vervolg omdat hulle vir God opgestaan het.
“As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie” (1 Pet 4:19 NLV)
‘n Gevaarlike Godsbegrip
Bogenoemde voorbeelde van foutiewe Skrifinterpretasie, het ongelukkig Christene generasies lank met die idee vergiftig dat God álles (goed en sleg) tot in die fynste detail vooruit beplan. Hy bepaal selfs die presiese plekkie waar die kleinste reëndruppel moet val. Hy beskik álles.
In alle billikheid moet daar gesê word dat hierdie begrip gebore is uit ’n edel behoefte om God as heerser te besing. Die hartseer is net dat dit op die ou einde God se naam deur die modder sleep: As dit waar was dat God alles tot in die fynste detail beplan – en jy sien die oorstromings in een wêrelddeel en die droogtes in ‘n ander – dan lyk dit nie of die Here vir die taak opgewasse is nie. Met alle respek wil ek sê dat selfs ’n kind water met groter oordeelsvermoë sou kon verdeel.
As al die gruwelikste maniere waarop mens en dier omkom, die werk van ’n “liefdevolle God” is, dan is dit oorbodig om in jou teologie ruimte vir die werk van Satan te los. Vra jouself af of jy regtig God aandadig wil maak aan die duisende vrouens en kinders wat nakend in Auschwitz konsentrasiekamp se sneeu staan, onsedelik aangerand word, en daarna gewetenloos vermoor word?
Dit bring vir God se naam veel meer eer as ons sê dat daar baie dinge in hierdie lewe gebeur wat nie deur sy toedoen plaasvind nie. God is met ander woorde nie die een wat ’n gewapende roof organiseer nie. Hy wil die een wees wat sy kinders in die midde daarvan kalm hou en vertroos – baie soos die aardse pa aan die begin van hierdie inskrywing. As ’n aardse pa vol foute immers die begeerte het om sy kinders te kalmeer en van gevaar te skerm, hoeveel te meer nie ons perfekte hemelse pa nie?
[1] Op hierdie punt wil ek dit beklemtoon dat die foute wat vertalers maak, onbewustelik is. Hulle is ernstige gelowiges wat lief is vir die Here net soos ek en jy. Niemand het die Bybel oorvertaal en gedink: “Kom ek kyk of ek die lesers kan bedrieg nie”. Die foute wat hulle maak is onbewustelik en dikwels kom dit aan die lig eers met retrospek. Dit neem egter nie die feit weg dat dit foute is nie. Daarom mag ons ook foute uitwys en beter alternatiewe aanbied.