2.) Reflections on the Bible & theology

Wat die aanhef van Korintiërs oor Jesus se Godheid sê

Ek hoor gereeld mense wat aanvoer dat Jesus se “Godheid” ‘n konsep is wat veel later ontstaan het, en dat die Nuwe Testament nie probeer om Jesus in daardie lig te stel nie. Wanneer ons dit in die Nuwe Testament kwansuis sou “raaklees”, is dit omdat ons hierdie latere ontwikkeling van denke, in die teks “teruglees” of “in-lees”.

Ek byt altyd op my lip as ek hierdie argument hoor, want mens kan so baie foute met hierdie redenasie uitwys. Een van my grootste probleme met die genoemde argument, is dat die kritici merkers in die teks soek wat in Trinitariese taal oor Jesus se Godheid praat.

Maar net omdat die teks níe uitdruklik sê: “Jesus is die tweede Persoon van die drie-eenheid” nie, beteken dit nie dat die teks dit nie impliseer nie. Hoewel Trinitariese taal ‘n latere ontwikkeling is, is die konsep van Jesus se Godheid, níe.

Voorbeelde waar Jesus se Godheid geïmpliseer word, is legio. Net nou die dag lees ek weer die eenvoudige aanhef van die eerste brief aan die Korintiërs…

“Paulus, deur die wil van God ‘n geroepe apostel van Christus Jesus, en die broer Sostenes, aan die gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here”

1 Kor 1:1-2 (2020 Vertaling)

Mens kan so maklik die grootsheid van hierdie aanhef mis…

Paulus se briewe volg die tipiese vorm van die Griekse briefstyl: Hierdie genre volg die patroon deur die naam van die afsender as opskrif te gebruik, so ook die naam van die geadresseerde en die begroetingswoord. Op die begroetingswoord volg ‘n gebruiklike verwysing na die keiser en ‘n dankbetuiging vir gesondheid.

Paulus gebruik dieselfde vorm, maar brei elkeen van die drie dele verder uit. Die uitbreiding gee ’n aanduiding van die doel en inhoud van die brief

Paulus plaas sy naam bo-aan die brief soos die gebruik dit vereis. Dan rig hy die brief aan almal wat die naam “Christus” as Here aanroep. Dit is in teenstelling met die gebruik om die naam van die Romeinse keiser as “Here” aan te roep – onder wie se heerskappy die geadresseerdes staan.

Hierdie paar woorde van die aanhef, is met ander woorde gevul met teologiese betekenis. Die keiser – wat volgens die kultuur van die tyd as god beskou is – is níe die een onder wie se heerskappy gelowiges staan nie…

Ons staan onder die heerskappy – die Godheid – van Jesus Christus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *